Wonderwerke gebeur steeds

Elaine Krige (Foto: Verskaf)

As jy my bietjie meer as ʼn week gelede gevra het, sou ek sê dat ek nog nooit self ʼn wonderwerk beleef het nie. Ek het al gehoor van wonderbaarlike genesing en beskerming, en natuurlik die Bybelse verhale gelees van Jesus wat mense uit die dood opgewek het. Ek het nog altyd geglo dat God dit kán doen. Ek was net nog nooit self in ʼn posisie waar ek bo-natuurlike dade beleef het nie.

Ek weet ook dat, om ʼn Christen te wees, nie ʼn “get out of jail free”-kaart is vir al die slegte dinge in die lewe nie en dat alles bloot genade is.

Nietemin het my wêreld so amper inmekaar getuimel toe ek in Mei verlede jaar met ʼn lekkende aortaklep in my hart gediagnoseer is, net agt weke ná die geboorte van ons tweede kind. Die dokter wou ʼn ope hartoperasie doen om die klep met ʼn staalklep te vervang. Op die sonar kon ek self sien hoe die bloed in die “verkeerde” hartkamer terugstoot met elke klop van my hart. Op dié stadium was my jongste maar agt weke oud en my oudste amper drie jaar.

Só ʼn operasie is reusagtig, met ʼn 6-weke hersteltydperk en ander toekomstige implikasies vir my gesondheid. Hoe sou ek in dié tyd vir my kinders sorg? Wat as iets fout gaan tydens die operasie en my kinders sonder ʼn ma moes groot word? Die dood is nie iets waaroor ʼn mens behoort te tob wanneer jy 34 en skynbaar blakend gesond is nie.

Die dokter het voorgestel ons wag tot my kinders ʼn paar maande ouer is voor ons oor die operasie besluit.

Al huilend het ek ʼn afspraak vir sewe maande later gemaak. Ek sou nou met hierdie swaard oor my kop moes saamleef. Ek het die daaropvolgende maande met nageboorte depressie en angs geworstel en desperaat probeer om nie aan die toekoms te dink nie.

Ek het begin met indringende Bybelstudie en gebede – ons verhouding met God is mos maar dikwels op sy beste wanneer dit sleg gaan. Ek het gelees hoe Jesus verskeie wonderwerke verrig het: Die vrou met bloedvloeiing wat genees is slegs deur aan Jesus te raak: “Jou geloof het jou gered” (Lukas 8:43-48) en die verlamde man wat op ʼn draagbaar deur die dak laat sak is: “Staan op, tel jou bed op en loop” (Markus 2:8).

Sou God dit vir my ook doen? Ek besef God beantwoord nie altyd gebede soos ons dit wil nie, maar nogtans het ek bly vasklou aan Jeremia 29:11: “Ek weet wat ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ʼn toekoms gee, ʼn verwagting!”.

“Laat u wil geskied” het ek familielede gereeld hoor bid. Maar wat as God se wil vir my, nie ooreenstem met dit wat ék wil nie?

Ek het in hierdie tyd ook my homeopaat – ʼn fantastiese en godvresende dokter in Pretoria – se hulp ingeroep en ʼn hele paar stappe geneem om te verseker my hart is so gesond moontlik. Ek is ʼn baie groot voorstander daarvan dat ʼn mens nie bloot hande gevou kan sit wanneer jy God vir iets vra nie. Jy moet darem jou kant ook bring.

Die dag van die gevreesde opvolgafspraak by die kardioloog het nader gekom. Ek het gebid vir vrede. Ek was nou oortuig dat, sou ek wel die operasie moes kry, God my nie sou versaak nie. Dat dit selfs verdere groei in my verhouding met hom sou bewerkstellig. Tog het ek aanhou bid vir bo-natuurlike genesing. Vir ʼn wonderwerk, want vir God is dit moontlik, al het ek dit nog nooit self ervaar nie. Dit het ek met alles in my geweet.

1 Februarie, die dag van die opvolgondersoek, het toe wel voorverlede Donderdag aangebreek. Teen alle verwagting in, het ek ʼn bo-natuurlike kalmte ervaar. Iets waarvoor ek ook baie hard gebid het.

Ek het gewonder of die dokter sou kon sien hoe my hart bokspring terwyl hy die sonar doen. Ek was amper te bang om op die skerm te kyk na die vloei van die bloed in my hart. Ek het my verbeel dit lyk anders as die vorige keer, maar helaas is ek nie ʼn spesialis nie. Uiteindelik kom die dokter se diagnose: “Mevrou Krige, jy het so min ʼn klepvervanging nodig as wat ék een nodig het”.

Die klep lek steeds, maar die aard daarvan is só minimaal dat ʼn opvolgondersoek nie eens nodig is nie.

Ek is dankbaar vir die groei in my geloof en verhouding met God sedert ek verlede jaar die slegte nuus oor my hart gekry het. Ek het behoorlik geleer om op Hom te vertrou en vir Sy wil te vra. Hy gebruik waarlik ons donkerste tye tot die eer van Sy naam.

Ek besef God verhoor nie altyd ons gebede nie en nie almal word wonderbaarlik genees nie. Ek het nie antwoorde hiervoor nie, maar ek weet een ding baie seker: God doen vandag nog wonderwerke. Niks is vir Hom onmoontlik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Seder op die horison ·

Ek is dankbaar vir jou genesing en loof ons God en Vader saam jou…
ek wil net ê Godverhoor altyd ons gebede die antwoord is net nie altyd soos ons dit wil hê nie. Bly groei in jou geloof en verhouiding met Hom dit is die lekkerste groei

Casper ·

God verhoor altyd ons gebede maar HY laat dinge geskied volgens sy wil en nie ons wil nie.Ek moes verlede jaar my bestuurderslisensie hernu maar die oogarts het gesé my oë is te swak toe gaan ek inelkgeval.Die beampte het my oë getoets en ek het die toets geslaag.Denkbeeldig gesproke bind ek my probleme in ‘n sakkie toe en lê dit voor Jesus se voete neer,en hy los dit vir my op in sy tyd,ek moet net geduldig wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.