Finansiële nalatenskap ‘meer as net geld’

testament

(Argieffoto: Asesoria-marbella.com)

ʼn Finansiële nalatenskap behels meer as generasie-welvaart wat oor die generasies heen oorgedra word.

“Hoewel nalatenskap oor meer as die geld gaan wat jy agterlaat, is dit belangrik om vir jou geliefdes te voorsien ten einde vir hulle stabiliteit en geleentheid te probeer bied wanneer jy nie meer daar is nie,” sê Thys van Zyl, uitvoerende hoof van Everest Wealth, ’n private belegging- en welvaartbestuursmaatskappy.

In September, Erfenis- en Testamentemaand, het die kollig opnuut op die belangrikheid van finansiële beplanning en nalatenskap geval. Van Zyl sê hoewel mense nie graag aan die dood wil dink nie, is dit ʼn goeie tyd om te besin oor jou finansiële nalatenskap en die invloed daarvan op geliefdes.

Dit is egter ʼn proses wat deurlopend aandag moet geniet.

“Intergenerasie-welvaart is dikwels die gevolg van gesonde waardes en bestuurstrategieë wanneer dit by geldsake kom. Dit is egter net so belangrik om finansiële geletterdheid, waardes en goeie bestedingsgewoontes oor te dra, wat onder meer insluit om te kan belê vir langtermyndoelwitte, opvoeding en die uitneem van lewensversekering om onsekerheid en finansiële druk te verlig.”

’n Finansiële nalatenskap kan deure vir volgende geslagte oopmaak, veral as waardes en wysheid ook na die volgende geslagte oorgedra word. “Dit is belangrik om die volgende generasie met die nodige kennis toe te rus ten einde hierdie finansiële nalatenskap te kan laat voortbou om ook toekomstige geslagte te bevoordeel.”

Volgens Van Zyl is dit belangrik vir diegene wat ʼn finansiële nalatenskap wil agterlaat om die belangrikheid van finansiële beplanning te verstaan en te verseker dat dit na die volgende generasies oorgedra word.

“Dit behels om vroeg te begin bou aan jou finansiële nalatenskap deur duidelike doelwitte te stel, insluitend om ʼn beleggingstrategie te ontwikkel, jou bates te beskerm, genoeg vir aftrede te spaar en om boedelbeplanning te doen en ʼn testament in plek te hê.”

ʼn Testament is belangrik om jou nalatenskap te bepaal of reguleer. As jy sonder ’n testament te sterwe kom, kan dit groot probleme vir diegene wat jy agterlaat tot gevolg hê, insluitend familietwis, duur regsgedinge en onnodige geldverkwisting.

“Om bestorwe boedels af te handel neem maande lank indien daar geen groot en onverwagte haakplekke is nie. Sonder ’n testament kan dit egter jare duur voordat jou geliefdes kry wat hulle toekom aangesien jou boedel dan ingevolge die Wet op Intestate Erfreg afgehandel word om te bepaal hoe jou bates tussen erfgename verdeel moet word.”

Wanneer jy self ʼn testament laat opstel, kan jy ʼn eksekuteur benoem en dus besluit wie verantwoordelik sal wees vir die administrasie van jou boedel. “ʼn Testamentêre trust sal help om minderjarige kinders of bejaardes te beskerm aangesien jy die trustees kan benoem wat na hulle moet omsien en hul geldsake bestuur wanneer jy nie meer daar is nie.”

ʼn Groot persentasie Suid-Afrikaners het nie ʼn geldige testament nie en dit het tot gevolg dat geliefdes nie net emosionele trauma moet verwerk by die dood van ʼn geliefde nie, maar ook finansiële trauma in die gesig staar.

“Om jou hele lewe lank hard te werk om ʼn nalatenskap vir jou geliefdes agter te laat, kan weens die afwesigheid van ʼn testament verreikende gevolge hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.