Jou belastingvoordeel met ʼn skenking aan die Helpende Hand Studietrust

(Foto: Green Chameleon: Unsplash)

Deur Nicolene Steenkamp, dosent in Belasting by Akademia

“Nuwe jaar, nuwe ek” is wat baie Suid-Afrikaners vir hulleself in die begin van ʼn nuwe jaar sê. Mens wonder altyd wat kan jy hierdie jaar anders doen en hoe kan jy hierdie jaar ʼn beter weergawe wees van jouself.

Deur ʼn skenking te maak aan die Helpende Hand Studietrust is een manier hoe jy of jou onderneming die gemeenskap om jou help en bevorder. Die Helpende Hand Studietrust is in 2009 gestig met die doel om studente te bemagtig om hulle kwalifikasie te kry deur ʼn rentevrye studielening. Hierdie studente het dan die voorreg om hulle drome te bewaarheid en ʼn beter toekoms vir hulself te verseker. Die groot rede vir die bestaan van die Studietrust is die volhoubaarheid deur opleiding. Die Studietrust wil Afrikaanse studente bemagtig om te kan studeer vir ʼn beter toekoms.

Die Studietrust bestaan uit verskeie platforms, een waar die student aansoek doen vir die lening, die platform waar fondsbestuurders die verhouding en die fondse saam met die donateure bestuur en die debiteurekant wat weer met die student skakel om die fondse in te win om sodoende die volgende student te kan help om te studeer.

Die Studietrust maak staat op donateurs, trusts en hoë LSM-kliënte om die trust uit te brei deur hulle eie studiefonds te stig en só studente te help om rentevry te studeer. Vir elke skenking wat die donateur aan die Studietrust maak kan ʼn artikel 18A-sertifikaat uitgereik word.

Bo-en-behalwe die bevordering van die gemeenskap kan jy, of jou onderneming, ʼn belastingvoordeel kry wanneer ʼn skenking gemaak word aan die Helpende Hand Studietrust.

Artikel 18A van die Inkomstebelastingwet dui aan dat indien jy ʼn skenking aan ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie (OWO) maak, jy hierdie skenking as ʼn aftrekking kan kry van jou belasbare inkomste.

Die artikel 18A-aftrekking het wel sekere beperkings. Die aftrekking van die totale kwalifiserende skenking wat gedurende die jaar van aanslag gemaak is, word beperk tot 10% van die belasbare inkomste van die belastingpligtige soos bereken voor die aftrekking ingevolge die artikel 18A-skenking.

Dit kan op ʼn praktiese manier soos volg verduidelik word: ʼn individu of onderneming maak ʼn skenking ter waarde van R30 000 aan die Helpende Hand Studietrust. Die individu of onderneming se belasbare inkomste is R280 000 voor die aftrekking van die skenking in ag geneem is. Die totale artikel 18A-aftrekking waarvoor daar gekwalifiseer word, is 10% van die belasbare inkomste van R280 000. Dit beteken die individu of onderneming mag net R28 000 aftrek en sal die belasbare inkomste waarop die individu of onderneming belas word R252 000 (R280 000 – R28 000) wees. Die R2 000 wat nie as aftrekking kwalifiseer nie mag in die volgende jaar van aanslag afgetrek word.

Wanneer jy ʼn skenking maak aan die Helpende Hand Studietrust is dit belangrik dat jy vir ʼn artikel 18A-sertifikaat vra. Hierdie artikel 18A-sertifikaat dien as bewys vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens dat jy wel aan ʼn geregistreerde OWO ʼn skenking gemaak het. Hierdie belastingvoordeel geld vir beide maatskappye en individue.

Indien jy ʼn skenking wil maak aan die Helpende Hand Studietrust, stuur gerus ʼn epos aan [email protected] of skakel (012) 111 8360. Besoek gerus ook die webblad by www.hh-studietrust.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.