SA spring resessie net-net vry

geld 7

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het tot ekonome se verbasing in die eerste drie maande van die jaar gegroei én ʼn ligte resessie vrygespring.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het die bruto binnelandse produk (BBP) tussen Januarie en Maart vanjaar met 0,4% gegroei. Dit volg op hersiene groei van -1,1% in die vierde kwartaal.

Dié skamele dog welkome groeisyfer volg nadat sommige ekonome van FNB die land verlede week op ʼn “ligte resessie” voorberei het. Meer optimistiese ekonome het voorspel dat groei op sowat nul persent sou stagneer te midde van die voortslepende kragonderbrekings.

Die onderbrekings kos Suid-Afrika daagliks meer as $50 miljoen (sowat R9 miljard) in verlore produksie, aldus die regering.

Doemprofete toe verkeerd

StatsSA het Dinsdag gesê die vervaardigings- en finansieringsbedryf was die belangrikste dryfvere van groei tydens die eerste kwartaal van vanjaar.

“Die vraagkant is opgehef deur uitvoere, met kleiner positiewe bydraes vir huishoudings, regering en beleggingsbesteding.”

Volgens StatsSA het agt uit die 10 bedrywe in die eerste drie maande van die jaar groei aangeteken. Vervaardiging, finansies, eiendom en sakedienste was egter die grootste positiewe bydraers.

Vervaardigingsuitset het met 1,5% toegeneem, wat 0,2 van ʼn persentasiepunt by BBP-groei gevoeg het. Die produksie van voedsel en drank was die belangrikste katalisator agter die bedryf se positiewe vertoning.

Finansies, eiendom en sakedienste het met 0,6% gestyg, hoofsaaklik aangedryf deur finansiële bemiddeling, versekering en pensioenfinansiering, eiendom en sakedienste.

Persoonlike dienste het met 0,8% toegeneem, aangedryf deur verhoogde aktiwiteit in gemeenskapsdienste.

ʼn Toename in spoorvrag- en spoorpassasiersvervoer het die vervoer-, bergings- en kommunikasiebedryf gehelp om met 1,1% uit te brei. Lugvervoer, vervoerondersteuningsdienste en kommunikasie het ook sterker ekonomiese aktiwiteit beleef, wat bygedra het tot die bedryf se positiewe lesing.

Mynaktiwiteite het ook herstel getoon gedurende die eerste kwartaal danksy ʼn styging in produksie, gelei deur platinumgroepmetale en goud.

Die handelsbedryf het ook tydens die eerste kwartaal gegroei danksy groothandel, kleinhandel, spyseniering en verblyf.

Motorhandel was egter minder gelukkig en het ʼn afname in ekonomiese aktiwiteit aangeteken.

Elektrisiteit, gas en water het ook gedurende die eerste kwartaal gekrimp. Dit is dié nutsdienste se vierde agtereenvolgende kwartaallikse afname weens swakker elektrisiteitsproduksie en laer waterverbruik.

StatsSA sê die eerste kwartaal se afname in nutsdienste is egter ʼn verbetering op die afname wat gedurende die vorige kwartaal aangeteken is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henro ·

Doemprofete is nie so verkeerd nie. Die sogenaamde ekonomiese groei is 0.4%, maar bevolkingsgroei is afgelope drie jaar tussen 0.84 en 1%. So in my dommigheid is die land nogsteeds swakker af elke nuwe kwartaal.

houopkruip ·

Prentjie is donkerder as wat hierdie persentasies weergee.
In Ekonomie 1 reeds geleer 100% van (byna) niks is steeds byna niks.
Punt is : die basis waarop dit bereken word is baie laag. Moes reeds baie meer gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.