Koop nou, betaal later, al gewilder

inkopies-aankope-sakke-vrou

Argieffoto: Gonghuimin468/Pixabay.com

Die wêreld se vinnigste groeiende betaalmetode – koop nou, betaal later (“Buy Now, Pay Later” oftewel BNPL) – tel wêreldwyd vinnig spoed op, ook in Suid-Afrika waar verbruikers al meer noustrop trek om hul rande tot en met die volgende betaaldag te rek. Volgens Bloomberg kan dié mark se waarde teen 2030 tot bykans $40 miljard (oftewel R680 miljard) groei.

Ofskoon enige finansiële raadgewer wat sy sout werd is jou sal aanraai om enige vorm van skuld soos die pes te vermy, is die realiteit dat al meer mense hul kredietkaarte om den brode gebruik en gevolglik terugbetalings teen uiters hoë rentekoerse moet doen. Dié kredietkaartaankope word uiteindelik ʼn skuldstrik waaruit min mense kan ontsnap.

Volgens Payflex, Suid-Afrika se grootste verskaffer van BNPL, bied hierdie betaalmetode korttermynverligting deur ʼn gerieflike rentevrye manier vir verbruikers te bied om hul aankope af te betaal.

Kredietkaart versus BNPL

Volgens Paul Behrmann, uitvoerende hoof van Payflex, is die BNPL-betaalmodel ʼn reddingsboei vir kleiner aankope, veral as jy die ses weke betalingstydperk noukeurig instel om oor twee salarissiklusse te strek.

“BNPL stel verbruikers in staat om duur krediet te vervang met ʼn rentevrye betaalplan wat verantwoordelike besteding bevorder. Suid-Afrikaners skakel toenemend van kredietkaarte oor na rentevrye BNPL, aangesien slegs lae minimum maandelikse betalings vereis word. Hierteenoor is kredietkaartskuld peperduur en word dit dikwels ʼn skuldmoeras waarin verbruikers net dieper en dieper wegsak.”

Volgens hom verskil Payflex se BNPL-diens van tradisionele kredietaanbiedinge aangesien kliënte nie vir die diens betaal nie (geen rente, geen fooie) en terugbetalings volg ʼn vaste terugbetalingskedule wat vereis dat die volle balans oor ʼn tydperk van ses weke terugbetaal moet word. “Dit is in skrille kontras met kredietkaarte wat kliënte van hoë kredietlimiete voorsien wat alles gelyktydig bestee kan word. Kredietkaarte vereis ook nie dat die volle balans terugbetaal word nie – en moedig dus langtermynskuld teen hoë rentekoerse aan.

“Die gemiddelde aankoopwaarde met Payflex is R1 200, wat dit ideaal maak vir kleiner, nienoodsaaklike aankope. Nuwe kliënte ontvang ʼn konserwatiewe bestedingslimiet wat op grond van hul risikoprofiel toegeken word. Elke aankoop word in vier paaiemente verdeel, en kliënte wat hul paaiemente betyds betaal, ontvang ʼn hoër bestedingslimiet,” sê Behrmann.

Paul Behrmann is die uitvoerende hoof van Payflex. (Foto verskaf)

Indien ʼn kliënt ʼn paaiementbetaling mis, hef Payflex ʼn vaste boetebedrag en blokkeer die BNPL-gerief totdat alle uitstaande betalings betaal is. Dit verhinder dat kliënte in finansiële moeilikheid bykomende skuld aangaan wat hulle dalk nie kan terugbetaal nie.

“Die goedkeuringsproses neem sekondes en jy kan jou BNPL-aankoop dadelik doen deur ʼn gebruikersvriendelike toepassing te gebruik. Eenvoud is die sleutel tot korttermynfinansiering sonder verborge koste. Payflex se BNPL is beskikbaar by meer as 1 800 aanlyn handelaars, maar die maatskappy se groei het daartoe gelei dat Payflex sy BNPL-betaalopsie nou ook in fisieke winkels aanbied,” sê Behrmann.

Payflex is onlangs deur die wêreldwye BNPL-verskaffer Zip verkry. Zip het 11,4 miljoen kliënte en duisende handelaars in 13 lande. “Risiko-sku verbruikers soek begrotingsvriendelike betaalopsies, so hoewel die kredietkaart steeds ʼn beduidende betaalmetode sal wees, het die alternatiewe BNPL-betalingslandskap na vore gekom as ʼn groot rolspeler in digitale betalings,” sê Behrmann.

Wenke om jou BNPL-rekening te bestuur:

  • Stel ʼn begroting op en bepaal wat jy gemaklik kan bekostig om tweeweekliks oor die volgende ses weke af te betaal.
  • Bly op hoogte van hoeveel aktiewe terugbetalingsplanne jy het sodat jy nie per ongeluk jou begroting oorskry nie.
  • Betaal jou betalingsplanne vroeër terug as jy spaargeld beskikbaar het.
  • Neem kennis van gereelde betalingskennisgewings om boetes te vermy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KatjieDeKat ·

Moenie skuld maak nie!! Met een uitsondering: As jy nou Regtig nie anders kan nie, gebruik dit dan net vir iets absoluut noodsaaklik, soos bv as jou yskas, wasmasjien of stoof breek, nie reggemaak kan word nie en jy het eenvoudig nie geld om dit uit jou salaris te koop nie. Soveel mense gebruik dit vir luukses soos nuwe klere en skoene, nuwe telefone en allerhande onnodighede.

Stephen ·

Weet nie waarom mense opgewonde raak nie. Dis n nuwe term vir “op skuld” koop soos ons dit jare al ken.

SjN ·

Met die rentefaktor in ag geneem betaal jy baie meer vir n item, spaar eerder self oor n termyn en betaal die volle aankoop bedrag.

madels ·

Ons as gesin lewe al vir meer as 30 jaar nie op skuld nie. Ons is nie ryk nie maar lewe sonder skuld. As ons graag iets wil aankoop wat bietjie luuks is dan spaar ons tot ons dit kan bekostig. Dit is absoluut wonderlik om nie op skuld te leef nie. Meer en meer van ons vriende wat sien hoe ons lewe het dit ook begin doen en hul voel so vry omdat hulle niemand iets skuld nie. Die duiwel wil mense bind deur hul al hoe dieper en dieper in die skuld te dompel. Ons moet selfbeheersing toepas in ons lewe, jy kan nie hê elke ding wat jou oë sien nie maar ongelukkig lewe mense so en dit druk hul diep in die skuld. Dis eintlik tragies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.