‘Koop nou, betaal later’-mark kan met miljarde groei

(Foto: iStock)

Met die pryse van alles, van voedsel tot brandstof, wat geen perke ken nie en stygende rentekoerse wat krediet nóg duurder maak, betaal al meer Suid-Afrikaners vir produkte deur gebruik te maak van die “koop nou, betaal later”-betaalmetode (“Buy Now, Pay Later” of BNPL).

Die plaaslike BNPL-mark groei tans met rasse skrede. Volgens Payflex, Suid-Afrika se grootste BNPL-verskaffer met meer as 300 000 kliënte, sal BNPL-betalings waarskynlik teen einde vanjaar sowat R2 miljard beloop. Dié mark groei teen sowat 15% per maand en het 50% meer voetverkeer van die eerste tot die tweede kwartaal vanjaar aangeteken.

Paul Behrmann, uitvoerende hoof van Payflex, meen dat Suid-Afrikaners meer gemaklik raak met die gebruik van BNPL as ʼn begrotingsinstrument, en vermy duur krediet om vir aankope te betaal. “Suid-Afrikaners toon ʼn ongelooflike aptyt vir BNPL-aanbiedings. Dit is eenvoudig om te verstaan, deursigtig en maklik om te gebruik – en dit word weerspieël in ons driedubbele groeisyfers elke jaar sedert 2019.”

Payflex se BNPL-diens verskil van tradisionele kredietaanbiedings deurdat Payflex nie enige rente of fooie hef nie. Die produk is gratis om te gebruik, mits die gebruiker betyds betaal. Handelaars betaal ʼn nominale fooi om hierdie gerief aan hul klante te bied.

Vinniggroeiendste betaalmetode

BNPL word deur Worldpay gereken om die wêreld se vinniggroeiendste betaalmetode tussen 2021 en 2025 te wees. Volgens Bloomberg kan dié mark se waarde teen 2030 sowat $40 miljard (of bykans R700 miljard) beloop.

Internasionaal integreer groot en gevestigde finansiëledienstemaatskappye soos Mastercard en Visa BNPL in hul produkte, en Suid-Afrikaanse maatskappye begin ook al meer om dié manier van sake doen deel van hul produkaanbod te maak.

“BNPL maak tans 2% tot 3% van die totale aanlyn kleinhandelbesteding uit en teen die huidige groeikoers kan dit in die volgende twee jaar 10% tot 15% bereik. Ons verwag sterk groei in kleinhandelwinkels namate die aanlyn mark verouder,” sê Behrmann.

Paul Behrmann is die uitvoerende hoof van Payflex. (Foto verskaf)

Aanlyn en in die winkel

Behrmann voeg by dat BNPL vinnig verby sy e-handelswortels begin beweeg. “Ons het meer as 2 000 aanlyn handelaars en Payflex word ook in meer as 100 fisiese winkels uitgerol. Hoewel die huidige handelaars oorwegend kleinhandelaars is, wil ons na ander sektore soos reis, medies en onderwys uitbrei waar dit sinvol is om betalings vir kleiner aankope oor ses weke te versprei.”

Volgens hom is die gemiddelde mandjiegrootte op Payflex sowat R1 200. “Die klanteprofiel is in lyn met die demografie van aanlyn kopers: oorwegend 25 tot 35 jaar oud en met aktiewe kredietprofiele. Hulle is voorts jonk, nuuskierig en finansieel geletterd.

“Toenemende mobiele internetgebruik skep meer geleenthede vir groei. Soos ons kliëntebasis uitbrei, word Payflex meer waardevol vir handelaars, wat toegang tot ʼn massiewe poel potensiële klante kry.

“Verbruikers, wat in elk geval gaan inkopies doen, het op hul beurt nou ʼn nuttige begrotingshulpmiddel waarmee hulle aankope sonder bykomende fooie en hoë rente kan doen. Op die koop toe kry hulle dadelik hul aankope. Of dit nou aanlyn of in die winkel is,” sê Behrmann.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.