Medies vir die massas: Sal dit beursiepyn stil?

(Foto: iStock)

Versekering – hetsy korttermynversekering vir alles van motors tot huise of langtermynverskering vir alles van aftrede tot ongeskiktheid en lewensdekking – word allerweë as ’n noodsaaklike euwel of wreweluitgawe beskou.

Dit is daardie “wat as?”- of “vir ingeval”-uitgawe wat te midde van al moeiliker ekonomiese toestande (onder meer duurder petrol en kos), nimmereindigende, onbetroubare elektrisiteitvoorsiening en patetiese munisipale dienslewering én salarisse wat eenvoudig net nie by ons uitgawes kan kers vashou nie, ’n gat in ʼn mens se beursie brand en vir duisende ʼn al bitterder pil raak om te sluk.

Die katastrofiese gevolge van die Covid-19-pandemie kring steeds uit, en almal weet teen hierdie tyd dat geen bedryfsektor dié beker oorgeslaan het nie. Mediese fondse en die mediese versekeringsbedryf was van die eerstes om die houe te voel met reusetoenames in mediese koste, risiko’s en die algehele ontwrigting van gesondheidsdienste. Die gevolg van dié nuwe uitdagings in ʼn nuwe omgewing is ʼn nuwe wedloop met ou én nuwe rolspelers.

Veranderende mediese landskap

Bloomberg het verlede jaar berig dat Discovery beplan om private gesondheidsdekking teen ʼn derde van die prys van bestaande produkte op intreevlak te verkoop. Volgens Adrian Gore, stigter en uitvoerende hoof van Discovery, sou die nuwe produk teen R350 per maand primêre sorg en toegang bied tot ʼn netwerk van dokters, noodprosedures en behandeling vir chroniese toestande, insluitend MIV.

Die produk was nie net bedoel om nuwe kliënte te lok en munt uit pandemie-verwante paniek oor gesondheid te slaan nie. Bekostigbare versekering kan ʼn lig in die tonnel wees vir Suid-Afrika se tekort aan dokters en die openbare gesondheidstelsel se gebrekkige fasiliteite, waarop 72% van die bevolking staatmaak.

Discovery is die grootste verskaffer van mediese versekering in Suid-Afrika, met ʼn markaandeel van meer as 40% en ʼn waardasie van R108 miljard. Die maatskappy is in 1992 gestig en het aanvanklik op private gesondheidsversekering gefokus, maar sy belange later na die bankwese, batebestuur, lewensversekering en ongevalledekking uitgebrei.

Met tussen 5 en 8 miljoen onversekerdes in die formele ekonomie wat toegang tot private gesondheidsorg begeer, is dit vanselfsprekend dat die mark nuwe toetreders gaan lok. Daar is sowat 9 miljoen Suid-Afrikaners wat aan mediese fondse behoort.

Dis-Chem Pharmacies en die digitale bank Tyme het verlede jaar begin om versekering aan hierdie wyer en onderbediende segment van die bevolking te verkoop. Dis-Chem se produk het begin by R431 per maand en TymeHealth by R139, afhangend van die dekking wat gekies word.

Discovery het die afgelope week aangekondig dat hy ʼn bestaande produk, Flexicare, in samewerking met die Clicks-groep en Auto & General aan die breër publiek beskikbaar gaan stel. Die produk is reeds sedert 2018 vir korporatiewe indiensnemers beskikbaar en kom teen ʼn maandelikse koste van R435. Byna 100 000 werknemers in 450 werkgewersgroepe geniet reeds hierdie dekking.

Discovery hoop om munt te slaan uit Clicks se netwerk van sowat 800 winkels reg oor die land, terwyl die versekeringspolis deur Auto & General Insurance onderskryf en deur Discovery Health geadministreer word.

“Hierdie vennootskap bring ʼn innoverende, geïntegreerde gesondheidsorgproduk na die publiek, en verbreed die beskikbaarheid en bekostigbaarheid van private gesondheidsorg,” meen Ricardo Coetzee, hoof van Auto & General.

Nonku Pitje, groeihoof by Discovery Health, het op haar beurt gesê die groep se navorsing en ervaring het bewys hoe belangrik dit is om maklik verstaanbare gesondheidsorgprodukte te skep. “Om bekostigbare dekking te hê beteken ook om te verseker dat mense nooit uit hul eie sak hoef op te dok of deur verborge koste in die gesig gestaar te word nie. Flexicare word verskaf deur ’n reeks wêreldklas- digitale hulpmiddels sodat mense hul lidmaatskap kan bestuur en toegang tot hul voordele kan kry.

“Flexicare weerspieël ons verbintenis om dekking na miljoene meer Suid-Afrikaners uit te brei, en dit word moontlik gemaak deur uitstekende vennote wat hierdie visie deel. Ons is opgewonde om ʼn beduidende impak op mense se lewens te maak deur Flexicare en deur ons netwerk van toegewyde gesondheidsorgverskaffers nie,” het sy bygevoeg.

(Grafika verskaf)

Wat bied Flexicare presies?

  • Onbeperkte dokterskonsultasies: Dit sluit aanlyn konsultasies by ʼn bepaalde netwerkdokter in. Daar word nie van lede vereis om bybetalings te maak nie.
  • Medisyne: Dekking vir voorgeskrewe, chroniese en oor-die-toonbank-medisyne.
  • Tandheelkunde: Dekking vir tandartsbesoeke, stopsels en tandverwyderings by ʼn netwerktandarts.
  • Optometrie: Dek een oogtoets elke jaar en een bril elke 24 maande deur ʼn gesondheidsorgverskaffer in die optometrienetwerk.
  • Bloedtoetse en X-strale word gedek wanneer dit deur ʼn netwerkverskaffer gelewer word.
  • Bevallingsdekking: Dit sluit onbeperkte dokterskonsultasies, medisyne, bloed- en siftingstoetse, en ultraklankskanderings in.
  • ’n Reeks digitale hulpmiddels.
  • Bykomende voordele laat lede toe om toegang tot traumadekking by ʼn private hospitaal te kry.
  • ’n Opsionele traumavoordeel dek jou vir private noodgesondheidsorgdienste by enige hospitaalfasiliteit. Daar is twee dekkingsopsies vir hierdie voordeel:
    • Dekking van R400 000 vir elke hospitaalopname: teen ʼn ekstra R174 per maand.
    • Dekking van R1 miljoen vir elke hospitaalopname: teen ʼn bykomende R244 per maand.
  • Ongelukke en noodgevalle wat deur die opsionele traumavoordeel gedek word, sluit in
    • brandwonde,
    • kopbeserings,
    • borsbeserings of ernstige frakture veroorsaak deur ʼn val,
    • die verlies van ʼn arm, hand, been of voet,
    • byna verdrinking,
    • vergiftiging of ʼn ernstige allergiese reaksie wat die dood kan veroorsaak, en
    • beserings as gevolg van ʼn misdaad, seksuele aanranding, motorongeluk of ʼn besering by die werk.

Alle Flexicare-lede het toegang tot ambulansdienste in die geval van ʼn mediese noodgeval. Slegs diegene met die traumavoordeel sal egter die opsie hê om na ʼn private geriewe vervoer te word.

Maandelikse premies vir hooflede is R435, met bykomende afhanklikes wat R400 kos en kinders R229. Om die traumavoordeel by te voeg sal ʼn bykomende maandelikse premie van R174 per volwassene en R65 per kind vir R400 000 se dekking of R244 per volwassene en R108 per kind vir R1 miljoen se dekking beteken. Vitality Active, ʼn fieterjasielose weergawe van die hoofprogram, is beskikbaar teen ʼn bykomende R59 per persoon per maand.

Clicks Clubcard-lojaliteitslede wat Flexicare op die kleinhandelaar se digitale kanale koop, kry elke maand 10% terug op hul premies (wat elke tweede maand op hul kaarte gelaai word saam met hul ander terugbetalings).

“Ons is bly om saam met Discovery Health en Auto & General Insurance te werk om private gesondheidsorgdekking maklik beskikbaar en bekostigbaar vir almal te maak, met die bykomende voordeel van kontantterugbetaling in jou sak,” het Vikash Singh, Clicks se bestuurshoof, gesê. “Dit vorm deel van ons volgehoue verbintenis om waarde, gerief en belonings aan ons kliënte te bied.”

Fynskrif: Fonds vs versekering

(Foto: iStock)

Flexicare is nie ʼn mediese skema nie, maar ʼn versekeringsproduk, en is nie bedoel om ʼn plaasvervanger vir medieseskemalidmaatskap te wees nie, het Discovery gesê. Benewens die uiteensetting van pryse en voordele meld al die bemarkingsmateriaal en nuusberigte dat hierdie produk, net soos dié van Dis-Chem en TymeHealth, nie ʼn mediese fonds is nie, maar ʼn versekeringsproduk. So, wat is dan die verskil?

ʼn Mediese fonds en mediese versekering is albei finansiële produkte wat jou help om mediese koste te dek.

  • ʼn Mediese fonds betaal die koste van sekere mediese prosedures direk aan die instansie wat die sorg gelewer het.
  • Mediese versekering vergoed jou vir uitgawes wat jy moes aangaan om mediese behandeling te kry.

Die beduidendste verskil tussen ʼn mediese fonds en mediese versekering is dat mediese fondse deur die Wet op Mediese Skemas (no. 131 van 1998) gereguleer word en slegs deur organisasies sonder winsoogmerk bedryf mag word. Die verkoop van mediese versekering is nie onderhewig aan hierdie bepaling nie en word deur die Langtermynversekeringswet (no. 52 van 1998) gereguleer.

Die Wet op Mediese Skemas maak voorsiening vir mediese fondse om dekkingsvoordele vir die behandeling van mediese toestande te verkoop. Die wet verplig hulle egter ook om op te dok vir noodgevalle en primêre versorging van ʼn voorgeskrewe lys van 27 chroniese toestande en 270 siektes (ook bekend as voorgeskrewe minimum voordele of PMB’s). Dit is om te verhoed dat lede wat hul voordele opgebruik het en dekking verloor, nie ʼn bykomende las vir staatshospitale en -klinieke word nie.

Mediese versekeringsprodukte betaal op sy beurt ʼn vasgestelde daaglikse bedrag vir elke dag wat jy in die hospitaal is. Die uitbetaling hou geen verband met die werklike koste van die mediese behandeling of prosedure nie. Dit maak slegs voorsiening vir toevallige uitgawes en ʼn verlies aan inkomste. Aangesien winsoogmerk met die uitreik van mediese versekering geoorloof is, word versekeraars nie soos mediese fondse verplig om alle aansoekers te aanvaar of om die versekerde bedrag te betaal nie. Hulle mag ook bepaalde mediese toestande permanent uitsluit.

Die beste is om aan ’n mediese fonds te behoort én mediese versekering te hê. Jou mediese fonds dek jou mediese uitgawes as jy gehospitaliseer word, ʼn chroniese toestand het of die voorgeskrewe minimum voordele benodig. Andersyds sal mediese versekering jou vergoed vir jou verlies aan inkomste as jy gehospitaliseer word, en vir jou ander uitgawes tydens hospitalisasie opdok.

Bykomende bronne: Moneyweb, BusinessTech, FA News en Discovery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.