Rand nou uiters kwesbaar vir negatiewe nuus

Argieffoto

Die rand is onder druk weens verskeie faktore en die kanse is goed dat die geldeenheid verder ontwrig kan word. Dit is die mening van valutahandelaars wat meen dat die geldeenheid deur negatiewe binnelandse en buitelandse faktore gepootjie word.

Andre Botha, senior valutahandelaar by TreasuryONE, sê die rand is veral die afgelope week deur die swak bruto binnelandse produk (BBP) gegewens ontwrig. Van die redes wat tot die groot markskok gelei het, was dat die BBP met 3,2% in die eerste kwartaal geval het.

Die syfer is veral onder druk geplaas deur swak uitslae soos dié in mynbou, vervaardiging, kleinhandel en landbou. Botha sê die drama rakende die Suid-Afrikaanse Reserwebank het ook die rand negatief geraak.

Die rand het wipplank gery terwyl ʼn politieke magstryd binne die ANC se binnekringe woed. Ace Magashule, die party se sekretaris-generaal, het die eerste skoot afgevuur. Hy het gesê die nasionalisering van die Reserwebank is op ʼn vergadering van die nasionale uitvoerende komitee bespreek en is goedgekeur. Hy het volgehou dat die nasionalisering van die Reserwebank deel van die ANC se beleid is.

Die topses, wat pres. Cyril Ramaphosa en Magashule insluit, het egter later groter duidelikheid aan die saak gegee en toe verduidelik waarom die nasionalisering nie nou al uitgevoer sal word nie.

Volgens Botha het die rand effens steun gekry weens swakker Amerikaanse arbeidsgegewens. Ontleders sê die syfers dui daarop dat die Amerikaanse Federale Reserwe (Fed) eerder monetêre beleid sal verslap as om die rentekoers-skroef stywer te draai. Dit het die dollar laat versak.

Botha sê die rand is ook deur die beter-as-verwagte lopende rekening gegewens gesteun.

Botha waarsku egter dat die rand gepootjie word deur die stagnante ekonomie en politieke dramas binne die ANC.

Daar was egter ʼn tikkie goeie nuus. Botha sê die geldeenheid het Maandag van sy verliese afgeskud nadat dit tot 50 sent teenoor die Amerikaanse dollar teruggesak het. Die rand het verlede week tot by R15,05 gedraai. Hy meen egter dat ontluikende markte soos die rand ook nog ʼn oog op pres. Donald Trump se handelsoorloë moet hou.

Die Meksikaanse peso het Maandagoggend stewiger vertoon nadat Trump die handelsoorlog met Meksiko opgeskort het. Markte in Asië het vanoggend ook ʼn voordeel hieruit getrek.

Botha verwag egter dat ʼn moeilike tyd die rand in die gesig staar weens al die ongunstige faktore.

Hy voeg by dat enige negatiewe nuus die rand kan pootjie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johanna Botha ·

En vertrou die anc en eff op dom uitsprake soos die ace wat sy mond moet toe hou ! Is amper of hulle die Rand msnupileer vir eie gewin …..????????

Willem ·

Siener het voorspel ons geld word so min werd jy kan dit vir muurpapier gebruik…

Schalk ·

En intussen word ons besighede se kostes onbepland opwaarts forseer en moet firmas daaglikse besnoei op mannekrag en infrastruktuur. Die regering is onbevoeg en kort dringend wyse insig van ander bronne af. As die regring ‘n besigheid was het die aandeelhouers lankal die hele direksie en departementshoofde vervang met doeltreffende mense.

Penellope Jones ·

Kan nie eintlik die Rand kwalik neem nie. . . . . .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.