Vooruitsig vir tweede kwartaal lyk droewig

(Argieffoto: Maroela Media)

Die korttermynvooruitsig vir die Suid-Afrikaanse ekonomie lyk toenemend droewig met die oorstromings in KwaZulu-Natal en dele van die Oos-Kaap, fase 4-beurtkrag en ʼn voortslepende staking in die goudmynbedryf wat al hoe groter druk op die tweede kwartaal se BBP plaas.

Die Buro vir Ekonomiese Navorsing (BER) sê daar is boonop vroeë tekens van ʼn vyfde koronavirusvlaag. Meer as 3 200 nuwe gevalle van die virus is bevestig en die positiwiteitskoers staan tans op 16,7%. Dit is ʼn skerp styging, hoewel die koers waarteen mense in hospitale opgeneem word, in hierdie stadium steeds betreklik laag bly.

Die BER sê dit gaan, nes tydens verlede jaar se gewelddadige oproer en plundering, geruime tyd duur voor die volle omvang van die skade aan infrastruktuur weens die oorstromings in KwaZulu-Natal bekend is. Meer as 400 mense is dood, meer as 4 000 huise verwoes, nog 8 000 is beskadig en nagenoeg 40 000 mense is ontwortel.

Skole en gesondheidsinstellings is beskadig, terwyl paaie, kragdrade en waterverskaffingsinfrastruktuur beskadig is.

“Sommige vroeë skattings plaas die skade net aan infrastruktuur op R5,7 miljard,” sê die BER.

Sommige ondernemings kon weens skade wat aangerig is steeds nie hul deure heropen nie en die Durbanse hawe het etlike dae lank bykans tot stilstand gekom.

Sappi, wat produkte vir die vervaardiging van papier verskaf, het reeds gewaarsku dat uitvoere “ʼn paar weke lank” negatief geraak kan word weens opeenhopings en die beperkte beskikbaarheid van plek vir skepe in die hawe.

Die regering het verlede week ʼn nasionale ramptoestand weens die oorstromings afgekondig – skaars twee weke nadat die ramptoestand wat weens die Covid-19-pandemie gegeld het opgehef is. Dit beteken meer geld as wat tydens ʼn provinsiale ramptoestand bewillig word, is nou vir noodlenigingshulp beskikbaar.

Volgens die BER het beurtkrag – soms selfs fase 4-beurtkrag – wat onlangs ingestel is, verdere druk veroorsaak. Verlede week was soveel as 22 000 MW nie vir die netwerk beskikbaar nie, terwyl die vraag na krag weens die koue weer bly styg het.

Die buro sê data vir Februarie was reeds teleurstellend en die produksieprysindeks (PPI) sal in Maart teen ʼn selfs vinniger koers as die jaar-op-jaar-verhoging van 10,5% wat in Februarie opgeteken is, styg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Bla Bla Bla , verskonings en al , maar daar word niks gese van die R1,4 milj wat sommige van die kaders geniet het nie.
Dit terwyl daar hoeveel duisende mense honger moet gaan slaap in die aand. Tipies ANC .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.