Vroue trek steeds aan kortste sake-ent

(Foto: iStock)

Dis Vrouemaand en die kollig val verdienstelik dié maand op die skoner geslag, ook wat die sakewêreld betref. Ofskoon groot spronge al gegee is om geslagsgelykheid in al die sfere van die samelewing te (begin) bewerkstellig, trek vroue in die sakesektor steeds aan die kortste ent.

Slegs sowat 5% van uitvoerende hoofde in Suid-Afrika is vroue en meer as 70% van plaaslike finansiële raadgewers is manlik. Vroue beheer voorts net 27% van die wêreldwye rykdom en ’n skamele 11% van die rykdom in Afrika.

Volgens dr. Thomas Brennan, stigter en uitvoerende hoof van die beleggings-app Franc, word die beleggingsektor histories as ’n manswêreld beskou.

“Batebestuurders en finansiële raadgewers neem dikwels aan dat vroue ’n laer risiko-aptyt het en veronderstel dat daar minder produkte is wat hulle vir die vroulike geslag kan aanbied of aanbeveel. Dit is boonop ’n growwe stereotipering dat vroue slegs beleggingsopsies verkies wat op sosiale en omgewingskwessies pleks van winsgewendheid gerig is,” verduidelik hy.

Beleggingsgaping

Dr. Thomas Brennan is die stigter en uitvoerende hoof van Franc. (Foto verskaf)

“Die beleggingsgaping tussen mans en vroue is die gevolg van vroue wat geneig is om minder as mans te belê. Dit is ’n neiging wat nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd, ondervind word.

“Franc het besluit om, pleks van vinger wys, eers voor sy eie deur te vee en dié tendens op sy kop te keer. In 2020 was slegs 30% van ons beleggers vroue, maar ons het die afgelope twee jaar daarin geslaag om ons persentasie vroulike beleggers tot 51% op te stoot,” sê Brennan.

Volgens hom is byna 60% van hierdie vroue jonger as 35 jaar, met 26% tussen 31 en 35 en 24% in die 26- tot 30-jarige ouderdomsgroep. “Dit is in skrille kontras met die bedryfsgemiddeld waar slegs 30% van alle kleinhandelbeleggers vroue is.”

Ondanks die feit dat die geslagsloongaping in Suid-Afrika na raming tussen 23% en 35% is, is die beleggers wat die meeste geld met Franc belê, vroue. Tog, meen Brennan, is dit opmerklik dat mans op ’n jonger ouderdom hul tone in die beleggingsee steek.

“Die meeste van Franc se manlike beleggers is tussen 22 en 25 jaar oud, terwyl die meeste vrouebeleggers tussen die ouderdom van 31 en 35 jaar is.

Vroue behoort aangemoedig word om reeds in hul twintigerjare te begin belê, wat sal verseker dat hul beleggings die langtermyngroeivrugte oplewer wat hulle verdien.”

Beleggingsvriendelik

“Die afgelope twee jaar het beklemtoon hoe belangrik ’n toeganklike noodfonds is,” meen Brennan. “Baie beleggings bied nie vinnige toegang tot geld nie en daarom hou mense hul noodspaargeld in ’n spaarrekening wat min tot geen rente bied. Vaste deposito’s bied wel hoër opbrengste, maar jy sal waarskynlik beboet word as jy jou hande in ’n noodgeval vroeër op jou geld wil lê.

“Die vernaamste struikelblokke vir kleinhandelbelegging in Suid-Afrika is ingewikkelde produkte en reusebedrae wat as minimum beleggingsvereistes gestel word. Dit móét verander! Suid-Afrikaners moet juis aangemoedig word om meer te spaar en hul hand aan veilige beleggings te waag.”

Die meeste beleggingsopsies vereis ’n vooruitbetaling van minstens R50 000 of ’n maandelikse verbintenis van R1 000, wat ’n groot afskrikmiddel vir baie eerstekeerbeleggers is.

“Franc se toepassing maak belegging maklik deur die keuse tot net twee fondse te beperk, naamlik die Allan Gray-geldmarkfonds en die Satrix 40 ETF. Die Allan Grey-fonds het die afgelope jaar groei van 4,5% opgelewer, terwyl die Satrix 40 ETF (wat in die 40 grootste maatskappye op die JSE belê) ’n opbrengs van gemiddeld 12% per jaar oor ’n tydperk van drie jaar of ’n gemiddeld van 10% per jaar oor ’n tydperk van vyf jaar opgelewer het.”

Jy hoef nie ryk te wees om met Franc te begin belê nie, sê hy. “Jy kan soveel belê as wat jy wil, wanneer jy wil, en jy kan toegang tot jou geld kry wanneer jy dit nodig het. En dit kos jou net 1% van jou belegging per jaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

T-Man ·

As vrouens minder verdien as mans hoekom stel maatskappye nie meer vrouens aan nie…? Dit sal help met grootter winste… vra maar net

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.