Walmart wil Makro, Game uitkoop

(Argieffoto: Massmart)

Die Amerikaanse kleinhandelreus Walmart wil al die aandele in die sukkelende Massmart wat hy nog nie besit nie, koop in ʼn poging om die maatskappy, wat onder meer Makro, Game en Builders bedryf, uit die moeilikheid te help.

Die aandeelprys in Massmart het opgeskiet nadat die maatskappy Maandag die aanbod bekend gemaak het.

Walmart het R62 per aandeel vir elke aandeel wat hy nie besit nie aangebied en gesê indien sy aanbod aanvaar word, gaan hy die maatskappy mettertyd denoteer. Die ooreenkoms sal sowat R6,4 miljard beloop en sal Massmart toegang gee tot voortgesette finansiële en bedryfsteun van Walmart.

Kuseni Dlamini, voorsitter van die Massmart-raad, sê ʼn onafhanklike kenner is genader oor die aanbod en dié het bevind dit is “regverdig en billik”.

Walmart het in 2010 ʼn 51%-aandeel in Massmart bekom, maar die maatskappy het die afgelope paar jaar bly sukkel om plaaslik hond haaraf te maak.

Walmart moes reeds ingryp om Massmart te help en die maatskappy se bestuur het in 2019 ʼn omkeerplan ingestel wat onder meer behels het dat sommige van sy nie-kernbates verkoop word.

Die maatskappy het tydens die Covid-19-pandemie die wind van voor gekry en het verlede jaar, tydens die burgerlike onrus in KwaZulu-Natal en Gauteng, veral deurgeloop. ʼn “Uitdagende ekonomiese omgewing” het vir verdere teenspoed gesorg.

Massmart het nou bekend gemaak dat hy in die 26 weke tot die einde van Junie ʼn verlies van R903,5 miljoen gely het, wat volg op ʼn verlies van R358,5 miljoen dieselfde tyd ʼn jaar tevore.

Verkope het met amper 2% toegeneem tot R38,1 miljard.

Reuters berig die bedrag wat Walmart die afgelope ruk in Massmart belê het, is ʼn breukdeel van die wins wat die moedermaatskappy jaarliks toon en daarom kan hy bekostig om aan te hou belê tot die situasie omgekeer kan word.

Die groep het ook aangekondig dat sy uitvoerende hoof, Mitch Slape, die leisels aan die einde van die jaar aan Jonathan Molapo sal oorgee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

T-Man ·

Help hulle eerder uit die moeilikheid deur kliente diens vir hulle te leer. Al hierdie winkels se diens is uiters swak en jy kan sien die wat daar werk trek net salaris en gee nie om of hulle iemand help of nie.

Wielspore ·

T-Man, jy haal die woorde so uit my mond, dieselfde ervaring met Makro Nelspruit. Het al so baie keer met hulle self daaroor gepraat met geen verbetering.

Racheltjie Debeer ·

Jy vat die woorde uit my mond! Makro se kliënte diens is bitter swak.

Grens ·

Swakste diens wat jy seker kan kry by hierdie winkels, almal sit en gesels en speel op hulle fone.

Wondermaarnet ·

Selfs in Kaapstad sit dit en gesels of op fone en werk asof daar lood op die hande en voete is.

Pippie ·

Hulle het gans te veel mense wat daar werk, hulle kan 50% van salarisse spaar. Raak ontslae van die klomp wat rondstaan en niks doen en stel mense aan wat bereid is om te werk.

Wielspore ·

Ons gesin het gemiddeld so R4000 per maand by Makro Nelspruit spandeer en agv swak diens koop ons nou by ‘n ander instansie.

Ronel ·

O yay, dan kan ek met my slaapbroek & bikini winkel toe gaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.