Verbruikersake: Dis waarom jy ʼn testament moet hê

testament

(Argieffoto: Asesoria-marbella.com)

Dit is belangrik om ʼn testament te hê ongeag hoeveel geld jy het. Testamente is nie net vir ryk mense en karakters in televisiereekse wie se familielede reg is om mekaar se kele af te sny om iemand se skatte te erf nie. ʼn Testament maak dit net makliker vir die mense wat jy agterlaat wanneer jy sterf. As jy te sterwe kom sonder ʼn testament, kan dit ongelukkigheid en konflik tussen familielede veroorsaak omdat daar geen duidelike instruksies is oor hoe jou bates verdeel moet word. Ina Opperman het gaan hoor wat ʼn kenner sê oor wat alles in jou testament moet wees en hoe jy kan seker maak dat dit geldig is.

Indien jy nie ʼn testament in plek het nie, is dit nou ʼn goeie tyd om daaroor te dink, aangesien die Prokureursorde van Suid-Afrika se Nasionale Testamenteweek, wat van 11 tot 15 September duur, binnekort aanbreek en jy die kans sal kry dat ʼn deelnemende firma gratis ʼn basiese testament vir jou opstel.

Alex Simeonides, uitvoerende hoof van Capital Legacy, sê aangesien Capital Legacy nie net testamente opstel nie, maar ook bestorwe boedels hanteer, het hy eerstehandse kennis van die familievetes en chaos wat ontstaan wanneer ʼn geliefde sterf sonder ʼn testament in plek.

“O, ek kan baie stories daaroor vertel. Eksvroue. Nuwe vroue. Kinders wat uitgesluit is. Stiefkinders. Minderjarige kinders. Sakevennote. Uitgebreide familielede. Lank verlore minnaars. Kinders van wie niemand geweet het nie. Minnaresse. Versteekte rykdom. Geen rykdom nie. Internasionale bates. Versteekte bates. Verlore kripto-wagwoorde ensovoorts. Met geen testament en geen duidelike wense nie, laat dit die deur oop vir drama.”

Simeonides sê hy kan nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is om ʼn testament te hê nie. Hy sê as jy nie ʼn testament het nie, kan:

  • Jy die geleentheid verbeur om voorkeurvoogde vir jou kinders te nomineer.
  • Jou gekoesterde bates en erfstukke in die verkeerde hande beland.
  • Jy beheer verloor oor wie jou bates erf en alles word volgens Suid-Afrikaanse wetgewing versprei.
  • Vertraagde boedelskikkings die reeds uitdagende rouproses vir jou gesin vererger.
  • Familievetes uitbreek as daar geen duidelikheid oor jou wense is nie.
  • Jou maat met niks gelaat word.

Waarom dit belangrik is om u testament te onderteken

Dit is nie net belangrik om ʼn testament te hê nie, maar ook om dit te onderteken saam met twee getuies. Indien ʼn testament verkeerd en sonder ʼn handtekening in ink onderteken is, is dit ongeldig en sal opgetree word asof jy sonder ʼn testament gesterf het.

“Nadat ons die afgelope 11 jaar elke dag testamente opgestel het en meer as 650 000 Suid-Afrikaners gehelp het om hul testamente in orde te kry, het ondervinding ons geleer hoe belangrik dit is. Die statistieke van Suid-Afrikaners wat sonder ʼn testament sterf, is skokkend hoog op meer as 70%.”

Moenie dit los vir later nie

Simeonides sê sy firma het die afgelope dekade gevind dat slegs ʼn klein persentasie kliënte hul testamente onderteken en dit korrek laat bevestig en dat hulle die meerderheid kliënte moet aanpor om dit gedoen te kry.

“Hoewel dit met goeie bedoelings is, stel mense uit en kom nie by die kritieke deel van die ondertekening van hul testament en om dit deur twee onafhanklike getuies te laat teken uit nie.

Wanneer is ʼn testament geldig in Suid-Afrika?

Die vereistes vir ʼn testament om geldig te wees in Suid-Afrika is:

  • Jy moet ouer as sestien wees.
  • Die testament moet in ink (nat-handtekening) onderteken word.
  • Die testament moet onderteken word deur die erflater (dit is jy), op elke bladsy en aan die einde van die dokument.
  • Die ondertekening van die testament moet bevestig word deur twee bevoegde onafhanklike getuies, albei gelyktydig teenwoordig, wat op elke bladsy en ook aan die einde van die testament teken.

Wie kan as getuie teken vir ʼn testament?

Die kenmerke van ʼn onafhanklike getuie is iemand wat:

  • Ouer is as 14.
  • Geestelik in staat is om getuienis in die hof te lewer, ten tyde van ondertekening.
  • Nie in die testament gespesifiseer is nie (byvoorbeeld as eksekuteur, trustee, erfgenaam, of trustee).
  • Nie die gade is van iemand wat in die testament gespesifiseer is nie.

Simeonides sê of jy nou ʼn ouer, broodwinner of huiseienaar is of net oor die algemeen wil verseker dat jou sake in orde is, is dit is belangrik dat jy ʼn geldige testament het wat deur ʼn professionele persoon opgestel is.

“Met ʼn geldige testament wat deur ʼn professionele persoon opgestel is, word die kans dat ʼn eis teen jou boedel in die hof ingestel word, verminder. ʼn Geldige testament stel jou in staat om jou laaste wense bekend te maak, wie jou bates en eiendom moet erf, wie as eksekuteur vir jou boedel moet optree en wie jy as voog vir jou minderjarige kinders wil nomineer.

“ʼn Geldige testament stel jou in staat om die belange van jou geliefdes te beskerm en help verseker dat daar geen onnodige vertragings in die afhandeling van jou boedel ná jou dood is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Kan iemand asb. aandui wat is die kostes van ‘n eksekuteur soos ‘n prokureur, as hy my testament sou hanteer ? Baie mense is bang vir die geldelike aspekete en dit word nooit bespreek in artiekels nie sien ek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.