Inflasie weer hoër

(Foto: Maroela Media)

Enoch Godongwana, minister van finansies, sal Woensdag in sy begrotingsrede aandui hoe hy die land se boeke laat klop. Die minister voer ʼn toenemend opdraande stryd, en gewone Suid-Afrikaners ook.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Woensdag die jongste inflasiesyfer bekend gemaak: dit staan nou op 5,3% vir Januarie, nadat dit die vorige twee maande agtereenvolgend gedaal het. Inflasie het in Desember op 5,1% gestaan.

Die kategorieë in die mandjie met die hoogste jaarlikse prysverhogings, was restaurante en hotelle (8%), voedsel- en nie-alkoholiese drankies (7,2%) en gesondheid (6,5%).

Voedselinflasie daal (weer)

Jaarlikse inflasie vir kos en nie-alkoholiese drankies staan nou op 7,2% – dit is die tweede agtereenvolgende maandelikse daling nadat dit in Desember op 8,5% en in November op 9% gestaan het. Alle subkategorieë het dalings ondervind. Suiker, lekkers en nagereg, olie en vette, asook koeldrank word hierby uitgesluit.

Die jaarlikse koers vir suiker en lekkergoed en nagereg staan in Januarie op 18,5% nadat dit ʼn maand tevore op 17,9% gestaan het. Suikerpryse was een van die groot opwaartse aandrywers. Die jaarlikse koers vir wit suiker staan tans op 21,2% (van 20,1% in Desember).

Jaarlikse inflasie op brood en graanprodukte het gedaal van 7,5% in Desember tot 6,5% verlede maand.

Vleisinflasie het ook gedaal en staan nou 2,2% (van 3,9%).

Uiteet al duurder

(Argieffoto: Unsplash)

As jy egter uiteet verkies – en graag in ʼn hotel wil (of moet) oorbly – dok jy nou meer op.

Volgens StatsSA het pryse by restaurante en hotelgroepe in die 12 maande tot Januarie met 8% toegeneem. Dit het in Desember op 7% gestaan.

Restaurantverwante produkgroepe wat betreklik hoë jaarlikse inflasie ondervind het, sluit in vis- en seekosprodukte (ʼn styging van 9,9%), rooivleis (op met 9,7%) en hamburgers (wat nou 8,6% duurder is).

Hotelverblyf, wat jou in die feestyd gewoonlik meer geld uit die sak jaag, is nou ook goedkoper. Die prys van ʼn hotelkamer het tussen Desember en Januarie met 2,1% gedaal. Ondank dié afname, is hotelverblyf steeds duurder as ʼn jaar gelede. Pryse het oor die afgelope 12 maande met meer as 10% toegeneem.

Brandstof

(Argieffoto ter illustrasie: OR Tambo International Airport/Facebook)

ʼn Daling van 5,2% in brandstofpryse tussen Desember en Januarie was nie genoeg om die jaarlikse koers vir brandstof te temper nie; dit het van -2,5% in Desember tot 3,3% in Januarie gestyg.

“Dit het bygedra tot ʼn skerp styging in jaarlikse vervoerinflasie van 2,6% in Desember tot 4,6% in Januarie,” sê StatsSA.

Die besige Kerstyd is agter die rug en inflasie in verskeie vervoerkategorieë het gedaal. Openbarevervoertariewe was in verlede maand 2% minder (in vergelyking met Desember), terwyl die prys van langafstandbusvervoer met 21,2% gedaal het en die prys van motorhuur 12,1% minder is.

Vliegkaartjies is 4,1% goedkoper.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.