Slim versekeringswenke vir Swart Vrydag-winskopies

(Foto: Scott Graham/Unsplash.)

ʼn Menigte Suid-Afrikaners trek voordeel uit duisende Swart November-, Swart Vrydag- en Kubermaandag-winskopies, maar vergeet dikwels om nuwe items behoorlik te verseker, óf ou goedere van hul inventarisse te verwyder.

“Nuwe grootskerm‑TV’s, skootrekenaars, selfone, voertuig- of tuisbykomstighede is alles lekker maniere om onsself te bederf ná ʼn uitdagende jaar, maar die versekeringselement is uiters belangrik om te onthou,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker.

“Om jou versekeringspolis te hersien, beskerm jou nie net teen skade en misdaad oor die feestyd nie, maar is ook ʼn uitstekende geleentheid om van onnodige items wat jy dalk nie meer gebruik nie, ontslae te raak, van jou polis te verwyder en so ʼn hele paar rand te bespaar.”

Virseker gee die volgende wenke om jou kopies slim te verseker en te beskerm:

Doen dit dadelik

Voeg onmiddellik nuwe items by jou polis om die risiko te vermy dat jy nie ten volle gedek is tydens ʼn eis nie.

Versekerde waarde teenoor vervangingswaarde

Maak seker dat die versekerde waarde – die bedrag waarteen jou besittings verseker is – ooreenstem met die vervangingswaarde – oftewel die bedrag wat dit jou sou kos om dit teen vandag se pryse te vervang.

Huisinhoud- teenoor draagbaregoedereversekering

Huisinhoudversekering dek alles wat sal uitval indien jy jou huis, motorhuis en buitegeboue se dakke afhaal en die geboue omkeer: jou meubels, huishoudelike elektroniese ware, ornamente… Dit is alles wat in die huis is wat nie gereeld elders geneem word nie.

Draagbaregoedereversekering, daarenteen, dek die goed wat jy gereeld saamdra en sluit jou selfoon, skootrekenaar, tabletrekenaar, kamera, handsak, horlosie en juwele in.

Op datum en omvattend

Hou ʼn akkurate, gedetailleerde inventaris van jou versekerde besittings en werk dit minstens een keer per jaar by. Maak seker dat besonderhede soos jou sekuriteitsmaatreëls, waar jou voertuig snags geparkeer is en dies meer, op datum is by jou versekeraar en dat die waarde van jou besittings – onder andere aankoopstrokies en waardasies op juweliersware – goed gedokumenteer is.

Lees die fynskrif

Gaan jou polisdokumente deeglik na sodat jy in fyn besonderhede kennis dra van jou dekking, bepalings en voorwaardes. Moenie net aanneem dat jy teen alle risiko’s gedek is nie.

Bybetalings

Dit is slim om jou van enige bybetalings te vergewis wat in jou polisdokument gespesifiseer word. ʼn Laer bybetaling beteken gewoonlik ʼn hoër maandelikse premie, terwyl ʼn hoër bybetaling jou meer laat opdok wanneer jy wel eis, maar jou ʼn hele paar rand op jou maandelikse premie kan bespaar.

Wees waaksaam en tref voorsorg

Maak seker dat jy nie jou nuwe aankope “adverteer” deur byvoorbeeld bokse, of die goedere self, te los waar misdadigers dit kan sien nie. Knap jou sekuriteit op om jou nuwe aankope te beskerm.

Sny dit wat onnodig is

Daardie ou rekenaar wat lankal nie meer werk nie, of vyf Desembers gelede se nuwe klankstelsel wat jy sedertdien verkoop het, kos jou dalk onnodige geld. Verwyder hierdie items dadelik van jou inventaris.

“’n Inkopie- en winskopietyd van die jaar leen hom goed daartoe om nie alleen geld te bespaar deur slim te koop nie, maar ook wyse besluite te neem, jou risiko te beperk en ʼn lekker geldjie terug in jou sak te sit,” sluit Coetzee af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Wees virsigtig vir Virseker. My premie het die afgelope paar jaar elke keer met 25% gestyg. Jip, 25%. Toe kanselleer ek maar my polis.

SlinkseKoljander ·

Versekring is n klug, ek het omtrent alles van my versekering af gehaal.
Hulle stry om uit te betaal en as jy self bietjie spaar werk dit baie goedkoper uit.

Ek het gewerk by OUT, ek weet hoe hulle die goed bewerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.