Verbruikersake: Gebruik jou bonus reg

Foto ter illustrasie. (Foto: Rupixen/Unsplash)

Jy het die hele jaar hierna uitgesien: jou bonus word in jou rekening inbetaal as jy een van die gelukkige salaristrekkers is wat nog ʼn bonus kry. Onmiddellik begin jy dink wat jy alles daarmee kan doen: ʼn nuwe televisiestel, ʼn nuwe rekenaar, dalk ʼn nuwe motor? Daar is soveel dinge om te koop! Maar hokaai: wat van al jou skuld? Ina Opperman gee raad hoe om jou bonus reg te gebruik.

Ons het mos heeljaar gewag vir ʼn bietjie goeie nuus en wat is ʼn bonus dan nou anders as daardie bietjie goeie nuus? Dit is egter baie belangrik om jou bonus verantwoordelik te bestee, aangesien jy dit kan gebruik vir ʼn klomp goed wat jy nie regtig nodig het nie, of om jou finansiële doelwitte te bereik.

“Dis lekker om ʼn bonus te kry as beloning vir jou harde werk regdeur die jaar, maar wanneer jy dit bestee, moet jy dit verantwoordelik doen”, sê Dhashni Naidoo, bestuurder van die verbruikersopvoedingsprogram by FNB.

Sy raai verbruikers aan om die beginsel van 80/20 te gebruik, waar jy 80% van jou bonus gebruik om jou finansiële doelwitte te bereik, soos om jou skuld te verminder of te spaar en te belê. Jy kan dan die ander 20% gebruik om jouself en jou geliefdes ʼn bietjie te bederf.

Naidoo gee hierdie praktiese wenke oor hoe om jou bonus verantwoordelik te bestee:

  • Verminder jou skuld deur ekstra te betaal op jou maandelikse bedrag en begin by jou duurste skuld, soos kredietkaarte. Minder skuld help jou op die langtermyn deur kontant beskikbaar te stel wat jy andersins sou gebruik om jou skuld te betaal.
  • Spaar vir noodgevalle deur van die geld in jou noodfonds te stort. Jy moet probeer om ten minste drie maande se salaris in jou noodfonds te spaar.
  • Belê vir die toekoms. Praat met ʼn finansiële adviseur daaroor om te belê in die toekoms, veral nou dat rentekoerse styg aangesien dit ook beteken dat jy meer rente verdien op jou spaargeld en beleggings.

Wanneer jy rente verdien op ʼn positiewe balans beteken dit jy het die geleentheid om addisionele inkomste te genereer in die vorm van gereelde beleggingsinkomste. As jy nie al begin het met jou beleggingsreis nie, is nou ʼn goeie tyd om te begin.

Naidoo raai verbruikers aan om met ʼn finansiële adviseur te praat of met die bank. Doen ook ʼn bietjie navorsing en bemagtig jouself met inligting en kennis oor beleggings. Kyk wat die verskillende beleggingsinstrumente is en watter een by jou beleggingsdoelwit sal pas.

“Ons moedig verbruikers aan om te praat met finansiële diensverskaffers of adviseurs oor hoe hulle hul geld beter kan bestuur. Banke het ook dienste en opvoedkundige inhoud wat verbruikers kan gebruik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.