Verbruikersake: Hoe kan jy nóg ʼn rentekoersverhoging oorleef?

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Nog ʼn rentekoersverhoging van 50 basispunte het omtrent verbruikers se wind uitgeslaan en baie mense wonder hoe hulle hul lewenskoste kan verlaag sodat hulle nie skuld hoef te maak nie, net om basiese lewensmiddele te kan bekostig.

Veral verbruikers wat van die lae rentekoerse gebruik gemaak het twee jaar gelede om huise en motors te koop, trek nou swaar nadat die repokoers sedert November 2021 begin styg het om inflasie die hoof te bied.

Voor die jongste verhoging het ʼn derde van verbruikers reeds gesukkel om hul skuld betyds te betaal en hulle gebruik die meeste van hul salarisse om skuld mee te betaal. Verbruikers voel ook die geldknyp met brandstof- en voedselpryse wat die hoogte inskiet, en elektrisiteitspryse wat selfs tydens onophoudelike kragonderbrekings styg.

“Suid-Afrikaners moet nou almal hul rieme dun sny om stygende lewenskoste die hoof te bied,” sê Peter Olyott, uitvoerende hoof van Indwe Risk Services, ʼn finansiële dienste- verskaffer. “Mense wil meer kreatiewe maniere vind om hul uitgawes te verminder bo en behalwe om by maandelikse begrotings te hou, vir doelwitte te spaar, uitgawes te bestuur en ʼn ekstra inkomste te vind.”

Die verskil tussen behoeftes en begeertes

Volgens Olyott word mense gedwing om in uitdagende finansiële tye aan te pas en te prioritiseer waar en waarop hulle hul geld uitgee. “Wat uitgawes betref, is daar sommige wat onvermydelik is, maar daar is maniere om hierdie maandelikse koste te verminder. Die eerste stap om ʼn suksesvolle begroting op te stel en te begin met die uitdagende taak om te besluit oor jou behoeftes teenoor jou begeertes.”

ʼn Begeerte is ʼn uitgawe wat nie nodig is vir oorlewing nie en waarsonder jy gemaklik kan leef, terwyl ʼn behoefte noodsaaklik is vir jou daaglikse lewe en werk. Dit sluit in behuising, huur of verband, vervoer, nutsdienste, kos en data.

“Dit is ook net so belangrik om plek te maak vir spaar. Ons moedig verbruikers aan om ʼn adviseur of finansiële beplanner te vra vir raad, veral wanneer jy op jou versekering wil bespaar. Met motivering van jou kant en leiding van ʼn kundige kan jy klein veranderinge aanbring wat aansienlike besparings tot gevolg het wat jou in staat sal stel om ʼn bietjie gemakliker en binne jou vermoë te leef.”

Olyott sê daar is ten minste ses doeltreffende maniere om besteding te verminder of te optimaliseer en jou finansiële las te help verlig deur op vervoer, kruideniersware, elektrisiteit en leefruimte te fokus, luukshede te verminder en jou mediese fonds en versekering te hersien.

Spaar op vervoer

Namate brandstofpryse styg, kan vervoerkoste vinnig vermeerder. Olyott sê verbruikers moet die kilometers wat hulle ry beperk deur saam met familie, vriende of kollegas te ry. Dis egter belangrik om ook jou versekeraar te laat weet as jy ʼn saamryklub bedryf. As jy nie veel rondry nie, oorweeg versekering waar die premies verminder as jy minder ry.

“Laat versien gereeld jou voertuig en gaan jou banddruk na om te verseker dat dit doeltreffend bly werk. Verbeter jou bestuursgewoontes om harde versnelling en rem te vermy, wat brandstofverbruik verhoog. Ry ook net een keer om al jou take te verrig sodat jy petrol en tyd bespaar en doen meer gereeld maandelikse inkopies by groter kruidenierswinkels.”

Spaar op kruideniersware

Olyott se dis ʼn goeie idee om ʼn weeklikse spyskaart en ʼn maandelikse inkopielys op te stel wat jou sal help om impulsiewe kopies te vermy. “Wees op die uitkyk vir spesiale aanbiedinge en lojaliteitsbesparings, sowel as spesiale aanbiedinge op nie-bederfbare items. Beplan jou etes rondom supermarkte se spesiale aanbiedinge, maar maak ook seker dat jy die items wat jy reeds het gebruik.”

Dit sal ook geld spaar as jy jou keuse van proteïen heroorweeg, aangesien dit dikwels die duurste items op jou lys is. Gebruik ook stapelbestanddele om verskeie maaltye te maak.

Spaar op elektrisiteit

“Ons behoort teoreties besparings te sien tydens beurtkrag, veral wanneer ons vir tot drie tot vier keer per dag sonder krag is,” sê Olyott. Hy raai verbruikers aan om energiedoeltreffende gloeilampe te gebruik en waar moontlik ou toestelle met energiedoeltreffende modelle te vervang.

Jy kan ook goedgekeurde oorspanningsbeveiligingstoestelle koop om vir jou duurste elektroniese toestelle te gebruik. Dit kan ʼn duur aanvanklike uitgawe wees, maar dit kan jou duisende rande spaar.

“Verseël vensters en deure om hitteverlies in die winter en verlies aan koel lug in die somer te voorkom. Kweek beter gewoontes aan soos om onnodige ligte af te skakel, ʼn deksel op ʼn pot kookwater te sit en nienoodsaaklike items wat jy nie gebruik nie, af te skakel.”

Om oor te skakel na sonkrag vir ligte en verhitting kan ʼn duur belegging wees, maar dit sal jou maandelikse elektrisiteitsrekening op die lang termyn afbring en die ligte aanhou tydens beurtkrag. Oorweeg dit ook om oor te skakel na gas vir kook.

Bespaar op jou leefruimte

Jou huur- of huislening, sowel as tariewe, nutsdienste en instandhouding, maak dikwels ʼn beduidende deel van jou maandelikse uitgawes uit. Olyott sê as jy regtig jou uitgawes baie erg moet besnoei, kan jy afskaal na ʼn kleiner huis of na ʼn meer bekostigbare woonbuurt verhuis.

Voordat jy egter die skuif maak, hou verhuisingskoste, bykomende uitgawes soos heffings of nuwe meubels en potensiële ekstra reistyd werk toe of skool toe in gedagte.

“Andersins kan jy oorweeg om ʼn kamer in jou huis uit te verhuur as jy ʼn groot huis het of ʼn huurder vir jou tuinwoonstel te kry. Hierdie bykomende inkomste kan jou help  om verhoogde uitgawes te bekostig, maar onthou om al die belastingimplikasies in te sluit.”

Sny daardie luukshede

Olyott sê hierdie een is moontlik die moeilikste van almal om sielkundig te vermag. “Hoewel jy jouself af en toe met lekkernye moet beloon, moet jy jou luukse aankope beperk as jy ernstig is om te spaar.

“Los die daaglikse wegneemkoffie en maak liewer koffie by die huis of kantoor. Neem ʼn kosblik vir middagete werk toe in plaas daarvan om ʼn wegneemopsie te kies en eet etes tuis eerder as om restaurante te besoek. Kanselleer intekeninge wat jy nie meer gebruik nie en koop tweedehandse items in plaas van nuwes.”

Jou versekering en mediese fonds

“Wanneer mense na maniere soek om maandelikse koste te besnoei, wend mense hulle dikwels tot versekering en kanselleer hul polisse om hul finansiële probleme te verlig. Die lewe is egter onseker en dit is onmoontlik om te voorspel wanneer ʼn lewensveranderende gebeurtenis jou en jou gesin sal raak  en jou aan potensiële finansiële rampe blootstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.