Verbruikersake: Jou regte as herstelwerk nie werk nie

Foto ter illustrasie. (Foto: energepic.com/Pexels)

Jy is klaar vies omdat die wasmasjien stukkend is, maar gelukkig kon jy dit laat herstel. Maar nou het die herstelde wasmasjien gesorg vir ʼn kombuisvloer vol water en die hersteller wil nie van jou probleme hoor nie. Wat kan jy doen as herstelwerk misluk en die toestel wat jy laat herstel steeds nie werk nie? Ina Opperman het gaan kyk wat jou regte is.

Jy laat juis ʼn duur toestel herstel omdat jou begroting jou nie toelaat om ʼn nuwe een te koop nie, maar nou het jy vir herstelwerk betaal en die toestel is steeds stukkend. Gelukkig het jy regte hieroor wat vervat is in die Wet op Verbruikersbeskerming.

Verbruikers moet reeds versigtig begroot weens stygende pryse en hoë rentekoerse en wanneer ʼn  wasmasjien of ander toestel breek, verkies baie mense om dit te laat herstel eerder as om ʼn nuwe een te koop as die item nie gewaarborg is nie.

Alles wat jy koop, sal mettertyd breek of onderhoud nodig hê en dit kan jou nogal ʼn paar rand kos. Die meeste klagtes oor herstelwerk gaan oor onderdele en arbeid van swak gehalte en dat verbruikers baie meer moet betaal as die bedrag wat oorspronklik gekwoteer is.

Hierdie klagtes kan verbruikers baie versigtig maak om iets te laat herstel, maar die goeie nuus is dat jou regte as verbruiker wat iets inhandig om herstel te word, deur die wet beskerm word as deel van jou regte om te kies, op billike waarde, goeie gehalte en veiligheid en om vooraf te weet hoeveel dit sal kos sodat jy kan besluit of jy dit kan bekostig.

Die geïmpliseerde waarborg van kwaliteit

Artikel 57 van die wet bepaal dat herstelwerk aan goedere gewaarborg word om jou teen swak herstelwerk te beskerm. Elke nuwe of herboude onderdeel wat tydens herstelwerk of instandhouding gebruik word, sowel as die arbeid, word gewaarborg vir drie maande nadat dit gedoen is, tensy jy en die hersteller instem om hierdie termyn langer as drie maande te verleng.

Hierdie waarborg is gelyktydig van toepassing op enige ander geïmpliseerde of uitdruklike waarborg en geen ander waarborg wat jy onderteken, kan dit kanselleer nie. Dit is egter nie van toepassing as jy die goedere of eiendom, waar dit geïnstalleer is, misbruik het nie. Dit is ook nie van toepassing op gewone slytasie nie, in ag genome die omstandighede waar dit bedoel is om gewoonlik gebruik te word.

Voorafmagtiging vir herstelwerk of instandhouding

Volgens artikel 15 van die wet moet jy herstelwerk of instandhouding magtig voordat die hersteller met die herstelwerk begin om te verseker dat jy nie eers daarna uitvind dat jy nie die rekening kan bekostig nie.

Dit is spesifiek belangrik as jy byvoorbeeld jou motor laat herstel, waar die werkswinkel eers jou toestemming moet kry vir alles wat gedoen moet word. Wanneer jy dan jou motor gaan haal, weet jy presies hoeveel dit gaan kos, want die kwotasie moet ook die koste van die arbeid insluit wat benodig word.

Daarom moet die hersteller eers ʼn kwotasie saamstel wat presies wys hoeveel die onderdele en arbeid sal kos om jou in staat te stel om ʼn ingeligte besluit te neem. Dit is ook beter om die kwotasie op skrif te kry sodat jy kan bewys wat die bedrag was as daar ʼn dispuut is.

Die wet maak ook voorsiening daarvoor dat jy van die kwotasie kan afstand doen en die werk onmiddellik kan magtig, maar die hersteller moet dit in elk geval eers aanbied. As die hersteller byvoorbeeld nie heeltemal seker is wat die probleem is nie, kan jy vooraf ʼn maksimum bedrag magtig en as dit duidelik word dat die bedrag meer sal wees, moet die hersteller eers toestemming kry voordat hy met die werk voortgaan.

Die hersteller mag nie ʼn fooi hef om die kwotasie saam te stel nie. Dit sluit in enige diagnostiese werk of om die stukkende item uitmekaar te haal om te sien wat fout is, tensy die hersteller jou inlig wat die koste sal wees en jy instem om te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.