Verbruikersake: Stel jou finansiële doelwitte vir 2024 op

Finansies

Argieffoto (Foto: Scott Graham/Unsplash)

As jy dit nog nie gedoen het nie, is dit nou ʼn goeie tyd om na te dink oor jou finansies en betekenisvolle doelwitte vir die komende jaar te stel. Of jy nou beoog om ʼn noodfonds op te bou, skuld af te betaal of vir die toekoms te belê, is duidelike finansiële doelwitte van kardinale belang om langtermyn stabiliteit en sukses met jou finansies te bereik. Ina Opperman vertel meer.

Dis ʼn goeie idee om aan die begin van die jaar jou finansiële doelwitte te bepaal, wanneer jou geheue nog vars is en jy goed kan onthou hoe lank die tyd gevoel het tussen jou salarisbetaling op 15 Desember en jou volgende een eers aan die einde van Januarie.

Dit is belangrik om te onthou dat as jy finansiële doelwitte opstel en daarby hou, die gaping tussen jou Desember-salaris en jou volgende salarisdag in Januarie nie weer so groot sal voel nie omdat jy voorsiening gaan maak daarvoor.

Stian De Witt, uitvoerende hoof van finansiële beplanning by NMG Benefits, het raad om verbruikers te help om ʼn pad na finansiële sukses te bou. Hy sê jy moet besin oor die afgelope jaar, jou prioriteite definieer, doelwitte stel, skuld afbetaal en gereeld jou doelwitte hersien.

Besin oor die afgelope jaar

Voordat jy begin om nuwe finansiële doelwitte te stel, dink ʼn bietjie na oor verlede jaar en ontleed jou finansiële suksesse en uitdagings. Het jy daarin geslaag om by jou begroting te hou, onnodige uitgawes te verminder of jou spaargeld te vermeerder? Om jou finansiële gedrag te verstaan, kan waardevolle insigte bied vir die skep van realistiese en haalbare doelwitte.

Definieer jou prioriteite

Dink weer oor jou finansiële prioriteite en aspirasies. Is jy daarop ingestel om ʼn noodfonds te bou, hoë renteskuld af te betaal, vir ʼn groot aankoop te spaar of vir langtermyndoelwitte soos aftrede te belê?

As jy jou prioriteite duidelik definieer, sal dit jou help om jou hulpbronne effektief te gebruik. Dit is noodsaaklik om korttermyndoelwitte sowel as langtermyndoelwitte op te stel en ʼn gebalanseerde benadering tot jou finansiële beplanning te verseker.

Stel jou finansiële doelwitte op

Die spesifieke, meetbare, haalbare, relevante en tydgebonde (SMART)-kriteria bied ʼn raamwerk vir die stel van doelwitte wat duidelik, tasbaar en haalbaar is.

Verdeel jou finansiële doelwitte in spesifieke aksies met meetbare uitkomste. In plaas van ʼn vae doelwit soos “spaar meer geld”, stel byvoorbeeld ʼn spesifieke teiken soos “spaar R500 per maand vir ʼn noodfonds”.

Om jou doelwitte haalbaar en tydgebonde te maak, voeg aanspreeklikheid by, wat dit makliker maak om jou vordering na te spoor en jou suksesse langs die pad te vier.

Betaal jou skuld af

As jy uitstaande skuld het, prioritiseer die opstel van ʼn plan vir terugbetaling. Begin deur ʼn lys van al jou skuld te maak, insluitend kredietkaarte, lenings en ander verpligtinge. Bepaal die rentekoerse en uitstaande saldo’s vir elkeen.

Stel ʼn strategie op om eers skuld met hoë rente af te betaal en bykomende fondse toe te ken om die terugbetalingsproses te versnel. Toewyding is die sleutel tot gereelde betalings en vermy die opbou van verdere skuld.

Hersien en pas gereeld jou finansiële doelwitte aan

Jou finansiële doelwitte kan verander soos jou omstandighede deur die jaar verander. Hersien gereeld jou vordering en pas jou doelwitte en strategieë aan soos en wanneer nodig.

Vier jou prestasies al is dit hoe klein en gebruik terugslae as geleenthede om te leer en te verbeter. Om buigsaam te wees in jou benadering sal jou help om op koers te bly en aan te pas by ontwikkelende finansiële situasies.

“Om finansiële doelwitte vir die jaar op te stel is ʼn proaktiewe stap in die rigting van finansiële sukses en sekuriteit. Deur na te dink oor die verlede, prioriteite te definieer en die SMART-kriteria te gebruik, kan jy ʼn padkaart teken om jou finansiële reis te lei.

“Onthou, die sleutel hier is konsekwentheid, dissipline en ʼn bereidwilligheid om aan te pas terwyl jy aan jou finansiële aspirasies werk,” sê De Witt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.