Video: AVBOB dryf innovasie met omgewingsvriendelike verassings

(Grafika: Verskaf)

Die begrafnisondernemersgroep AVBOB skrik nie vir innovasie nie – die groep het reeds 22 skeepsvraghouers in mobiele lykhuise omskep en voer ook sedert 2019 omgewingsvriendelike verassings plaaslik uit.

“Die idee met die lykhuise in skeepsvraghouers was om dit beweegbaar te maak sodat dit beskikbaar is net daar op die toneel waar ʼn ramp plaasgevind het.

AVBOB het reeds vroeg in die pandemie besef dat ons bykomende geriewe by tye gaan nodig hê en daarom het ons toe juis besluit om ʼn klomp van hierdie houers te omskep,” het Adriaan Bester, AVBOB se hoofbestuurder: Korporatiewe Sake, gesê.

Bester het bygevoeg dat van AVBOB se takke ernstig in die nood sou gewees het as die bykomende geriewe nie reeds beskikbaar was in die piek van die tweede golf van die pandemie wat Suid-Afrika in Januarie getref het nie.

“Wat sake verder bemoeilik het, was dat ons nie vooraf kon voorspel by watter takke die bykomende geriewe nodig sou wees nie. Dit is waarom die omskakeling noodsaaklik was.”

Bester het bygevoeg dat dié soort innovasie egter nie ʼn nuutjie vir die begrafnisondernemersgroep nie.

“Mense dink dikwels ons sakeonderneming word al oor duisende jaar op dieselfde manier bedryf, maar daar is op ʼn deurlopende grondslag nuwe ontwikkelings wat oorweeg en ingestel word.”

Die groep het reeds in 2019 begin om ekovriendelike verassings (green cremation) in Suid-Afrika uit te voer.

Die soort verassings is nog ʼn nuutjie in Suid-Afrika, maar dit is ʼn metode wat al ʼn geruime tyd wêreldwyd gebruik word, veral in die VSA. Alkaliese hidrolise word gebruik om ʼn verassing met water te doen, eerder as ʼn vlamgebaseerde verassing.

“Ons vergelyk die proses as soortgelyk daaraan om ʼn geliefde se liggaam in ʼn waterstroom neer te lê. Die proses wat daar sou plaasvind in die tydperk van ʼn paar weke, gebeur maar net hier veel vinniger. Ons kan nou in twee of drie ure se tyd ʼn verassing uitvoer met ʼn watergebaseerde proses.”

Bester sê so ʼn waterverassing, of akwamasie, is ʼn omgewingsvriendeliker proses. Die steenkoolvoetspoor van die verassing is baie kleiner, minder energie word in die proses verbruik, en net 600 liter water word per verassing gebruik, sonder dat die water gekontamineer word.

“Ons glo die toekoms lê daarin om die prosesse al skoner en groener te kry. In die toekoms sal eenvoudig al hoe meer verassings uitgevoer moet word, want spasie vir grafte raak toenemend ʼn probleem, begraafplase se onderhoud is ʼn probleem en begrafnisse raak al moeiliker om uit te voer.”

AVBOB het tans een krematorium wat akwamasies uitvoer – by die Maitland-tak in Kaapstad, maar die groep se raad het reeds toestemming gegee dat dié soort installasies na die res van Suid-Afrika uitgebrei word.

  • Lesers wat belangstel in meer inligting oor AVBOBse begrafnisdienste en voordele, kan enige AVBOB-kantoor of AVBOB se webwerf besoek, of die inbelsentrum by 0861 28 26 21 skakel. Lesers kan ook ʼn e-pos stuur na info@AVBOB.co.za.

Kyk die video van die onderhoud hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.