Wat om te doen en wie om te kontak as iemand sterf

(Foto verskaf deur Capital Legacy)

My buurvrou het my verlede jaar een aand omstreeks middernag wakker geklop. Sy het hulp benodig, want haar 90 jaar oue man het gegly, geval en in ’n koma op die vloer gelê. Nadat ek desperaat basiese noodhulp toegepas het, het ek besef hy is oorlede. Toe tref dit my soos ’n donderslag dat ek nie die vaagste idee het wat om volgende te doen nie.

In hierdie werklike voorbeeld was dit redelik eenvoudig om die situasie te hanteer. Die buurman se volwasse kinders het naby gebly en hulle is gebel. Hulle was voorbereid op die moontlikheid dat hulle vader kon sterf, het vinnig opgedaag en al die reëlings oorgeneem.

Maar sal jy weet wat om te doen as iemand na aan jou sterf en jy alles moet hanteer?

Capital Legacy is Suid-Afrika se testament- en boedelspesialis. Ons het reeds meer as 400 000 testamente opgestel en 4 000 boedels in die afgelope 10 jaar geadministreer. Ons verstaan en empatiseer met kliënte wat deur ’n gevoel van totale verwarring in die gesig gestaar word wanneer ’n geliefde heengaan. Met al ons ervaring deel ons graag ’n paar wenke om mense deur dié tyd te help.

Die eerste 24 uur: Waar meld ’n mens die sterfte aan?

  • Die polisie. Hulle het aangewese lede wat na die toneel toe kom en bystand verleen met die administrasie wat gedoen moet word. As iemand aan natuurlike oorsake sterf, word die doodsertifikaat op dieselfde dag uitgereik as wat die persoon oorlede is. As dit ’n onnatuurlike sterfte is, sal dit langer neem vir die doodsertifikaat om uitgereik te word.
  • Jy kan ook ’n begrafnisondernemer skakel wat kragtens die reg erken word en geregistreer is. Begrafnisondernemers is gewoonlik baie simpatiek in jou tyd van verlies en meestal ook baie doeltreffend omdat hulle daagliks sulke sake hanteer.
  • ’n Sterfte kan ook by spesifieke amptenare van die departement van binnelandse sake aangemeld word.
  • Tradisionele leiers wat daartoe gemagtig is deur die departement van binnelandse sake, mag ook ’n doodsertifikaat uitreik, en meer spesifiek as daar nie ’n kantoor van die departement in plattelandse gebiede is nie.
  • Indien iemand in die buiteland sterf, kan die Suid-Afrikaanse ambassade, konsulaat of sending gekontak word. Die land waar die sterfte plaasvind moet ʼn doodsertifikaat uitreik en ’n gesertifiseerde afskrif van die doodsertifikaat moet dan aan die Suid-Afrikaanse ambassade of sending oorhandig word, wanneer ’n sterfte aangemeld word. As die oorledene in Suid-Afrika begrawe moet word, sal die ambassade of sending help met die papierwerk en die reëlings wat die vervoer van die liggaam na Suid-Afrika betref.

Die Wet op die Registrasie van Geboortes en Sterfte vereis dat ’n persoon se sterfte by enige van bogenoemde aangemeld moet word.

Geen begrafnis mag in Suid-Afrika plaasvind sonder ’n begrafnispermit nie (Vorm BI-14).

Al bogenoemdes het die volmag van die departement van binnelandse sake om bystand te verleen met doodsertifikate en begrafnispermitte én die uitreiking daarvan.

Capital Legacy beveel aan dat, afhangende van die tyd en die omstandighede, die SAPD, begrafnisondernemers en tradisionele leiers eerste gekontak word. Die nodige vorms is by hulle verkrygbaar.

Vorms wat binne die eerste 24 uur ingevul moet word, indien moontlik.

  • Vorm BI-1663 (Kennisgewing van sterfte/stilgeboorte): Daar is verskillende afdelings van hierdie vorm wat deur verskillende mense ingevul moet word wanneer ’n sterfte aangemeld word. Die persoon wat die sterfte aanmeld moet ’n afdeling voltooi, ’n geneesheer moet een voltooi en ’n amptenaar van die departement van binnelandse sake moet ’n deel voltooi. Wanneer ’n geneesheer nie beskikbaar is nie, mag ’n tradisionele leier die vorm invul. As ’n amptenaar van die departement van binnelandse sake nie beskikbaar is nie, mag ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens gevra word om daardie deel van die vorm te voltooi.
  • Vorm BI-1680 (Doodsverslag): Dit sal uitgereik word nadat ’n sterfte geregistreer is. Dit mag net uitgereik word deur iemand wat deur die departement van binnelandse sake daartoe gemagtig is (dit sluit in tradisionele leiers, lede van die Suid-Afrikaanse polisiediens en gemagtigde begrafnisondernemers).
  • Vorm BI-14 (Begrafnispermit): Bogenoemde persone mag ook begrafnispermitte uitreik. Geen begrafnis mag plaasvind sonder dat toestemming daarvoor by wyse van ’n begrafnispermit gegee is nie.
  • Vorm BI-132: As jy ’n onverkorte doodsertifikaat benodig, moet jy hierdie vorm voltooi en die vereiste bedrag geld betaal.

Wat om met die liggaam te doen as die sterfte weens natuurlike oorsake was

As dit ’n sterfte weens natuurlike oorsake was, moet die liggaam nie weggeneem word tot die nodige dokumentasie nie voltooi is nie. Die liggaam mag weggeneem word so gou as wat die doodsertifikaat uitgereik is. Die begrafnis mag eers gehou word wanneer ’n begrafnispermit uitgereik is.

Die eerste 48 uur: Wie om te kontak

  • familielede en vriende
  • werkgewer of onderriginstansies
  • medici – jy sal ook alle uitstaande hospitaal-, tandheelkunde-, voetheelkundige, of ander gesondheidsverwante-afsprake moet afstel
  • agentskappe en groepe wat maatskaplike dienste lewer, tuisversorgers, voedselafleweraars en dagsentrums
  • banke en ander finansiële dienste
  • versekeringsmaatskappye (byvoorbeeld lewens-, gebou/inhoud-, mediese, motor- en reisversekering)
  • pensioenvoorsieners
  • kredietkaart-/winkelkredietkaartvoorsieners
  • die Suid-Afrikaanse Inkomstediens
  • die huisverbandverskaffer
  • indien die oorledene ’n blyplek gehuur het, stel die plaaslike owerheid, huisvereniging of die private eienaar in kennis
  • geboue- en eiendomsversekeringsmaatskappye om voortgesette dekking te verseker, veral as die eiendom gaan leeg staan
  • nutsmaatskappye (elektrisiteit-, gas-, water, en telefoonmaatskappye) en reël vir die oordrag van rekeningbesonderhede indien nodig
  • TV-/internetmaatskappye
  • reël vir verandering van posadres indien nodig
  • klubs/lidmaatskaporganisasies/sosiale groepe
  • indien die oorledene ’n vuurwapenlisensie vir werk en/of sportdoeleindes gehad het, tree in verbinding met die naaste polisiestasie
  • sosialemediaprofiele moet gesluit word of in ’n gedenkprofiel verander word

Die eerste 14 dae: Die Meester van die hooggeregshof

Wanneer ’n persoon sterf, moet die boedel binne 14 dae ná die sterfte by die Meester van die hooggeregshof se kantoor aangemeld word in die regsgebied waar die oorledene normaalweg gebly het.

Verskillende vorms moet ingevul, en dokumentasie voorsien word afhangende daarvan of die boedel minder as R125 000 werd is, minder as R250 000 of meer as R250 000.

’n Boedel wat meer as R250 000 werd is

Dit is presies hier waar sake ingewikkeld, oorweldigend en verwarrend vir Jan en alleman word.

Onthou, vir ’n boedel om afgehandel te word, moet ’n eksekuteur deur die Meester van die hooggeregshof aangewys word. Indien iemand intestaat te sterwe kom (sonder ’n testament) sal die erfgename ’n eksekuteur aanwys wat deur die hof bekragtig moet word.

Indien iemand sterf met ’n geldige testament reeds opgestel, maak dit sake gewoonlik minder ingewikkeld. ’n Gekose eksekuteur word reeds aangedui, en die hof hoef nie deur die proses te gaan dat ’n eksekuteur eers genomineer en bekragtig hoef te word nie. Dit spaar al klaar tyd.

Eerstens moet ’n brief van eksekuteurskap van die Meesterskantoor verkry word. Die brief van eksekuteurskap wys die eksekuteur aan wat die boedel sal administreer.

Die volgende dokumente en inligting word ook benodig vir die proses om af te skop:

  • ’n Voltooide J94-doodskennisgewing en oorspronklike of gesertifiseerde afskrif van die doodsertifikaat.
  • Oorspronklike of gesertifiseerde afskrif van trousertifikaat (indien van toepassing) of aanvaarbare bewys van huweliksbevestiging, soos versoek deur die Meester. Huweliksertifikaat/bewys van registrasie van ’n gewoontereghuwelik/notule van ’n familievergadering waar bewys van die registrasie van ’n gewoontereghuwelik nie voorsien kan word nie/bewys van ’n religieuse huwelik (Moslem of Hindoe)/verklaring wat die bestaan van ’n selfdegender-lewensvennootskap bewys (indien van toepassing).
  • ’n Huweliksverklaring deur die oorblywende gade wat aandui hoe die oorledene in die eg verbind was.
  • Alle oorspronklike testamente en kodisille of dokumente wat daarop aanspraak maak om sodanig te wees (indien enige).
  • Voltooide J192-naasbestaande- beëdigde verklaring (as die oorledene nie ’n geldige testament nagelaat het nie).
  • Voltooide J243-inventarisvorm wat al die oorledene se bates aandui.
  • Nominasies deur die erfgename vir die aanstelling van ’n eksekuteur in die geval van ’n intestate boedel, of waar geen eksekuteur in die testament genomineer is nie, of die genomineerde eksekuteur oorlede is of die nominasie van die hand wys.
  • Voltooide J190-vorm (in duplikaat) van aanvaarding as eksekuteur van die trust deur die persoon(persone) genomineer as eksekuteur(s) tesame met ’n beëdigde kopie van die fotobladsy van die eksekuteur se ID.
  • Onderneming en sekuriteitsonderneming (tensy die genomineerde eksekuteur vrygestel is daarvan om sekuriteit te voorsien in die testament, of die ouer, eggenoot, of kind van die oorledene is).
  • Verklaring van bestaande huwelik; en
  • Lys van krediteure.

Bostaande toon dat die heengaan van ’n geliefde vir jare lank bykomende trauma mag veroorsaak totdat die boedel afgehandel is en die erfgename betaal is. Sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie, het die tydsduur om boedels af te handel, heelwat stadiger geword. Voor Covid-19 was die bedryfsnorm om boedels tussen agt maande en 12 maande af te handel. Nou kan dit enigiets tussen 18 maande en 30 maande duur, hoewel Capital Legacy steeds daarna streef om boedels in minder as 18 maande af te handel.

Hoewel dit nie die familie se skok en die gevoel van verlies sal verminder nie, verwyder Capital Legacy die administratiewe las. Eerstens stel ons vir jou ’n professionele testament op en tweedens handel ons jou boedel af en dek die regskoste wat daaraan gekoppel is om te sterf.

Die meeste mense besef nie hoe ingewikkeld en tydrowend dit is om ’n geliefde wat oorlede is, se sake af te handel nie. Capital Legacy het die afgelope 10 jaar daaraan gewy om die verlies van ’n geliefde draagliker te maak.

By Capital Legacy kry jy al die kundiges, wat sake vir jou, die kliënt, aansienlik vergemaklik.

Capital Legacy spesialiseer in die opstel van testamente en boedelbereddering en maak dit maklik om jou nalatenskap te beskerm. Jy kan jou testament gratis laat opstel, bywerk of wysig. Besoek www.capitallegacy.co.za of voltooi die vorm hier onder.

Velde met * word verplig.

Kontak Eksekuteurs

Jou naam*
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.