Wat om te weet voordat jy jou eerste woning koop

(Foto: Pexels)

Vir talle jong Suid-Afrikaners is die vooruitsig om ’n huis te koop grotendeels buite hul bereik – hoofsaaklik omdat jongmense beginsalarisse verdien, wat dit ingewikkeld maak om aan die kriteria vir ’n huislening te voldoen. Afgesien hiervan het net ʼn handjievol jong volwassenes honderde duisende rand beskikbaar vir die vereiste oordraggeld om ’n huis te koop.

“Alhoewel die omstandighede meestal uitdagend vir millenniërs is wat die huismark wil betree, is dit nie heeltemal buite hul bereik nie,” vertel Karmen Wessels, skrywer vir die lewensversekeraarsmaatskappy Sanlam Indie.

Sy deel die volgende raad met eerste huiskopers:

Wenk #1:

“Begin om eiendomswebwerwe dop te hou,” raai Wessels aan, “jy moet ’n duidelike beeld hê van die soort eiendom waarin jy belangstel.” Sy vertel dat indien dit jou eerste eiendom gaan wees, dit waarskynlik ’n goeie idee is om klein te begin.

’n Kleiner woning in ’n goeie woongebied, is volgens Wessels die beste manier om die eiendomsmark te betree. “Stel parameters op die eiendomswebwerwe en skep spesifieke vereistes vir eiendomme – in ideale woongebiede en in ʼn prysklas wat jou sak sal pas – om die soektog makliker te maak.”

Wenk #2:

“Indien jy nog nie begin spaar het nie, is dit nóú die tyd!” sê sy. “Hoe meer jy kan wegsit, hoe vinniger sal jy jou doelwit kan bereik, maar onthou ook, elke bietjie help. Dit is egter noodsaaklik om slim te wees oor waar jy jou geld spaar; sekere soorte spaar- en beleggingsrekeninge kan vir jou hoër rente bied en so kan jy meer geld op lang termyn bymekaarmaak.

“Jou twee grootste voorafuitgawes sal die deposito en die koste vir die oordrag, verbandregistrasie en prokureurs wees,” verduidelik Wessels.

“Hoe meer jy in jou deposito kan inbetaal, hoe minder sal jou maandelikse verband-terugbetalings wees asook die algehele langtermynkoste. ’n Goeie krediettelling is ’n sleutelfaktor om nie net vir ’n verband te kwalifiseer nie, maar een met ’n gunstige rentekoers te beding,” voeg sy by.

Wenk #3:

“Moenie ‘gratis’ geld verontagsaam nie!” Wessels klassifiseer “gratis geld” as enige bykomende inkomste wat ontvang word deur byvoorbeeld belastingterugbetalings, erfporsies, ’n geskenk of enige ander inkomste van buitengewone omstandighede. “Dit gebeur gereeld dat ʼn persoon aan ‘gratis geld’ as afsonderlik van hul hoofinkomste dink, wat dit dus makliker maak om dit uit te gee op ʼn klomp onbenullighede. Dit is nou die tyd om enige bykomende inkomste in ’n spaarrekening weg te bêre.”

Sy verduidelik dat jy dieselfde met enige verhoging in jou inkomste moet doen. “In plaas daarvan om ’n salarisverhoging te gebruik om jou leefstyl op te gradeer, dink eerder daaraan om die verskil te spaar of te belê.”

Wenk #4:

Twee inkomstes vermenigvuldig die kans om vir ’n verband te kwalifiseer, en vergemaklik die terugbetaling van ʼn huislening. “Dit is ’n baie persoonlike besluit, en een wat gebaseer moet wees op jou eie individuele situasie en leefstyl,” sê Wessels.

“As jy wel kies om ’n eiendom saam met ’n vennoot of vriend te koop, maak seker dat ’n kontrak opgestel is om albei partye in die geval van afsterwe, ’n argument, die verkoop van die eiendom, of enige ander moontlike situasie wat ongerief kan veroorsaak, te beskerm.”

Wenk #5:

“As jy die verantwoordelikheid van ʼn massiewe belegging soos huiseienaarskap oorweeg, is dit tyd om ’n veel meer holistiese siening rakende jou maandelikse begroting en finansiële situasie te neem.”

Sy vertel dat jy besparings op al die finansiële gebiede van jou leefstyl moet oorweeg: “Kry ʼn goedkoper motor, raak ontslae van luukshede waarsonder jy vir ’n jaar of twee kan klaarkom. Dit is tyd om die streep op jou maandelikse begroting te trek, sodat jy meer geld kan spaar of selfs ’n bykomende inkomstestroom kan ontwikkel.”

Wessels sê weens die verlaagde rentekoerse in Suid-Afrika, moet alle jong volwassenes in gedagte hou dat dit nou dalk die perfekte tyd is om jou droomeiendom te vind.

(Foto: Pexels)

Saam met al die veeleisende verantwoordelikhede van huiseienaarskap, herinner Wessels verbruikers om te onthou dat lewensversekering ’n noodsaaklikheid vir ’n huislening is – ’n maandelikse koste wat by jou maandelikse begroting ingesluit moet wees.

“Versekering is daar om jou afhanklikes en jouself te beskerm indien iets ooit met jou sou gebeur en jy nie jou verband kan betaal nie,” verduidelik Wessels.

Elke Sanlam Indie‑polis kom met ’n ingeboude welvaartbonus. Dit beteken dat hulle jou maandelikse premie tot 100% kan laat groei, teen geen bykomende koste uit jou sak uit nie.

“Enige polis wat jy by ons koop – selfs voordat jy ’n huis gekoop het – laat jou toe om te begin spaar sonder enige moeite van jou kant af.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.