Blindelings, so vroualleen

vrou-val-van-leer

Foto: Verskaf.

Deur Annami Simon

Elke vrou behoort haar eie ding te doen. Sy moet kan vorder in die lewe, bo uitkom. Al is dit nou met ʼn liggewig staalleertjie wat by ʼn hardewarewinkel gekoop is.

Vir langer as vier jaar was ek die Blind Woman in Franschhoek. Ek wens ek kan sê, nee, ek was nie blind nie, ek kon goed sien. Meestal. (En my naam is ook nie Marelize nie. Die liewe kind …)

Ek het ʼn klein maar florerende onderneming gehad deur blindings te verkoop, skoon te maak en te herstel. Maar daar was dae dat ek eenvoudig voortgefoeter het. Blindelings. Vroualleen.

So ry ek een Saterdagoggend tot by die Three Streams Smokehouse[1], ʼn entjie die berg uit, vir ʼn installering. Nadat ek die klomp blindings, twee nutsmanne om my te help, my leertjie en gereedskapskis elk op sy plek het, kry ek solank my rekening reg vir die onderbaas van die plaas wat met sy twee seuntjies agterop sy bakkie daar aangery kom.

Ek merk die kleinste knapie het sulke nat strepies op sy stofwangetjies en sy regterknie is aan’t bloei. Ek gesels eers met Pappa wat besig is om ʼn pleister vir Kleinman uit die noodhulpkissie op te plak, en draai toe na die kind.

“Ag, shame, man, did you have a bad day?” Die kleintjie loer vir my en sy oë wel van voor af op. Sy ouboet hardloop draaie om ons om te wys hy’s ʼn tawwe knapie.

Nou hier moet ek myself eers onderbreek. Uit geldelike nood om vinnig ʼn sukses van my onderneming te maak, het ek ʼn effe dubbelsinnige naam vir my nuwe bedryf uitgedink: Blind Date. Die ink van die Paarl Post met my heel eerste Blind Date-advertensie daarin was skaars droog, toe lui my foon. Afsprake had ek oorgenoeg, maar ek moet erken daar het nou en dan ’n versigtige dog klandestiene navraag my kant toe gekom. Dié sports voorlopig daar gelaat.

In 2001 het mense nog tjekboeke gehad en byna sonder uitsondering is die man se tjekboek vir huishoudelike en dergelike uitgawes gebruik. Dit was dan ook op hierdie dag die geval toe Kleinman se pa sy tjekboek uithaal en vra: “To whom do I write the cheque?”

Nou ja, om heel saaklik te sê, “Blind Date”, het interessante reaksies uitgelok en as die man die betaling moes doen, het hy dikwels bygevoeg: “Ek wonder wat my vrou gaan dink.” En dan alleen vir sy grappie gelag.

Nadat ek my tjek ontvang het, loop pa en kinders saam met my buitentoe. Die nutsmanne het met hul eie bakkie gekom en is al weg. Ek’s haastig, want ek moet by ʼn ander kliënt uitkom en loop met mening na my motor, opdraand oor ʼn paar los klippe. En slaan neer. My tjek en dagboek val diékant toe en my bril vorentoe. My handsak hang om my nek. Bliksem. Ek wéét my linkerknie bloei, maar ek kyk nie af nie. Die pyn skiet tot in my voortande en ek sukkel gly-gly op.

“You need another first-aid kit!” sê ek met ʼn skewe laggie aan Kleinman se pa en probeer nie mank wees nie.

“Are you all right?”

Ek yesyes met my rug na hom en ry gly-gly weg, so haastig is ek. My kniebroek is vuil en het ʼn gat in. Ek kan my bebloede, skurwe, nerfaf knie daardeur sien en kry myself bitterlik jammer.

Maar ek ry moedig tot by die volgende kliënt in die dorp en verwys laggend na die voorval sodat sy kan verstaan hoekom ek so gehawend en stukkend voor haar staan. Uit die sitkamer lei steil houttrappe na die slaapkamers bo. Dit staan my geensins aan nie, maar ek klim dapper agter haar aan.

Sy is hoogswanger en ek pas my pyn- en kreungeluide so onopsigtelik moontlik by hare aan. Met die metery gaan dit nie so maklik nie, want sy staan tjoepstil en kyk terwyl ek op- en afklim. Ek byt op my tande. Die leertjie is wel veerlig, maar my seer knie wil nie nou buig nie.

Ek’s klaar met die metery en wil huis toe. Net voor ons die trap ondertoe bereik, haak my nuwe, sagte, liefpienk toppie aan ʼn deurknop en pluk my met geweld terug – vas teen haar boepens. Sy kreun.

“I’m so sorry!” Dit kom nie vandag uit my hart nie. My liefpienk toppie is in sy maai.

“You really have a bad day,” som sy die oomblik op. Ek het niks om te sê nie.

Terug in die sitkamer onder bereik ons konsensus oor die blindings en ek pak my saampelkies, gryp my motorsleutels en steek my voete in my sandale wat ek sommer met die inkomslag uitgetrek het om nie nog van my leertjie ook af te val nie.

“OK then,” sê ek. “Keep well and take care of yourself.” (Sy lyk asof sy enige oomblik kan kraam.) “I’ll fax you my quotation,” voeg ek by en begin loop. Dit werk nie, want dis nie my sandale nie. Dis swanger vroutjie s’n.

“You definitely have a bad day. Maybe you should go home and stay home?” sê sy besorg.

En dis presies wat ek toe loop doen het. By die huis het ek vir my ʼn beker boeretroos loop maak en gedrink asof dit medisyne is. Toe versigtig gaan stort, my wond versorg, ʼn pleister op my ego geplak en my kniebroek en nuwe top in die asblik gegooi. En helder oordag my pajamas aangetrek.

Ek het die slaapkamer se gordyne toegetrek en in die bed loop lê en knies. En toe gedink dis seker nie so erg nie. My innoverende niggie met die sewe kinders het juis anderdag vir my gesê ek moenie vergeet nie: “Money makes you blind, but blind makes you money.”

So het ek moedig voortgegaan met leerklim en neerslaan. Dis hoe ons vroue dit doen. Dis nie die neerslaan of mistrap wat tel nie. Dis die afstof en weer klim wat ons bo laat uitkom.

En niemand sou ná daardie dag kon sê ek het nie daadwerklik probeer om boonop in iemand anders se skoene ook te loop nie!

Voetnota:

[1] Three Streams is die plek waar Franschhoek se befaamde forelle en salm gerook word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Shanie ·

Wat ‘n lieflike skrywe!! Jy het my dag gemaak, my laat lag en aan myself laat dink maar bowenal, my geinspireer! Dankie ……

Marinda ·

Baie dankie vir die stuk. Ek het nou lekker gelag. Dis hoe die lewe is. Pragtig.

Sann ·

As die Blind Date’s nie genoeg oplewer nie, kan jy gerus maar aanhou skryf. Baie oulik, en groot simpatie. Ek is ‘n boervrou – ek ken ook van aanhou opstaan en afstof.

Adri ·

Ek het so gehoop die pa van die twee seuntjies is ‘n wewenaar.

John ·

…. jy kan dalk oorskakel na die installering van kragopwekkers. Dis nader aan die aarde. Teen R12 000 stuks plus, kan jy ten minste in jou eie skoene oor die 4×4-gedoente val… Niemand kan meer mooi blindings bekostig nie… net kragopwekkers en diefwerking.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.