Con trap diep spore – van stigter van NSRI tot sielkundige, skrywer

Dr. Con Krüger

Die bekende en begaafde sielkundige, historikus en skrywer, Con Krüger is so pas in die ouderdom van 89 oorlede. Kort voor sy dood het hy ’n eksklusiewe onderhoud oor sy vol lewe aan Pierre Massyn toegestaan.

Hy het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) op Afrika se suidelikste punt 21 jaar gelede in 1998 op 23 April gestig – doelbewus op daardie dag om dit te laat saamval met Bartolomeu Dias se historiese landing op Struisbaai op 23 April 1488 – presies 530 jaar gelede.

Maar wat nie bekend is nie, is dat Con Krüger instrumenteel was in die stigting van die NSRI in Suid-Afrika.

“Ons het saam gekuier by die hotel van die Boerejood Sydney Sank op Gordonsbaai. In sy kroeg het ons die reëls en regulasies van ons skiboot-hengelklub opgestel. Dit is later as die basis gebruik vir die NSRI-regulasies wat tot vandag toe geld.”

In 2019 word die NSRI op Struisbaai mondig – 21 jaar.

“Dit is my droom om jaarliks ’n sopfees rondom die 23ste April hier op die Suidpunt te begin om Dias se aankoms hier te herdenk. Ek is reeds besig om van my aandenkings bymekaar te kry om aan die NSRI te skenk.”

Maar wie is hierdie baanbreker Con Krüger eintlik? Die beskeie, maar briljante man wat digby twintig gepubliseerde werke agter sy naam het? Wie is hierdie man wat met sy doktorsgraad in sielkunde wat sulke diep spore op vele gebiede getrap het? En aan die Walliesers berading gegee het ná die Aberfan-steenkoolramp?

Hy staan my ’n eksklusiewe onderhoud toe in sy huis Dooierus op Struisbaai – eintlik ’n volwaardige Africana-museum wat enigeen wat in geskiedenis belang stel, se asem sal wegslaan. Jy kan die geskiedenis hier ruik. En sy eienaar is ’n lewende fontein van kennis wat oorborrel van wysheid. Hier is ’n oorspronklike Rembrandt. Daar is Oom Paul se pyp.

“En sien jy hierdie kas? Dit was Oom Paul se oupa s’n en Paul en sy neef Kruppel Hans wat deur ’n muskeljaatkat vermink was, het voor hom gespeel.”

“Ek was die glamour boy op Stellenbosch. Ek was die voorsitter van dit, die ondervoorsitter van dat, primarius van Huis Visser-manskoshuis, redakteur van Die Matie, ensovoorts. My pa het vir die spoorweë op De Aar gewerk. Ons het maar primitief gelewe en moes dwarslêers onder die beddens se pote pak as dit baie gereën het, en wanneer klere te klein geword het, het die ouer kind dit sommer na die jongeres in die ry af gegee. Daar was nie geld vir luukshede soos kameras nie.

“Ten spyte van hierdie moeilike omstandighede, het ek reeds op 12-jarige ouderdom boeke oor die sielkunde begin lees. Baie van my kennis kom uit die bekende reeks Blou Boekies. My ma het my nooit uit die huis gejaag om buite te gaan speel nie. Ek het heeltyd in die grootmense se geselskap sit en tande tel. Dis hoe ek baie geleer het. Ek het vroeg reeds geleer om nooit te aanvaar wat mense vir my gesê het nie, maar dit eerder self te ontleed. Kinders moet iemand hê om na op te sien.”

Op 18-jarige ouderdom is hy sersant in die Junior Ossewabrandwag.

“Ons uniform was ’n kakiebroek en ’n wit hemp. Ons het ons eie operasies gehad”, sê hy geheimsinnig. “Ek het later gehoor hulle het John Vorster en Lang Hendrik van den Bergh geïnterneer, maar ek was gelukkig te jonk.”

As rou eerstejaar word hy verkies tot ondervoorsitter van Stellenbosch se debatsvereniging. En só ding hy internasionaal mee teen Oxford en Cambridge (Oxcam) se room toe hulle in ’n debatkompetisie teen Maties en Ikeys kom bekskiet. Die onderwerp was “Die noodsaaklikheid of gewenstheid van ’n Sentraal-Afrikaanse Federasie”

Só goed kwyt die jong Krüger hom van sy taak teen Engeland se Kingcat-Wiggs, dat dié handdoek ingooi en die Suid-Afrikaner hierdie lof toeswaai: “Mr. Kruger acquitted himself so well in this debate, that we would have granted him half blues at either Cambridge or Oxford without any hesitation.”

Nie op sy mond geval nie, laat loop Con met hierdie juweeltjie: “Had Mr. Kingcat-Wiggs been a Matie, he would without any question whatsoever have been given full blues for being a half-wit”.

Hy bemoei hom ook met die kerklike dogmatiek, maar sy verbintenis met die kweekskool loop na ’n volle twee dae ten einde weens die onversoenbare houding van die kitaarslaner daar wat niks wou weet van pastorale sielkunde nie.

“Ek het my lewe deurgebring om wolhaarstories uit te pluis. En dié kry jy tot vandag toe in al sewe die groot godsdienste van die wêreld.”

Con behaal sy BA met 14 leergange in plaas van die voorgeskrewe 11. Hy kry sy meestersgraad in Psigo-patologie en word as lektor op Stellenbosch aangestel.

“Hulle betaal my £11 per maand en ek kon soos ’n koning leef!”

Hy toon vroeg reeds ’n belangstelling in die politiek en raak bevriend met swaargewigte soos PW Botha, Chris Heunis en Piet Koornhof. Hy dien op die Nasionale Jeugbond van die Nasionale Party saam met Deon Joubert en Weskus Marais.  Dit was so hittete of Krüger se lewe het net daar ’n ander rigting ingeslaan.

“Dr. DF Malan kom ons eendag toespreek by Môrewag op Stellenbosch. PW was toe organiseerder van die Nasionale Party in die Kaapprovinsie. Hulle wou my daar en dan werf om van huis tot huis te gaan en stemme te werf. As jy daarmee hond haaraf kon maak, kon jy vir die NP teen die Sappe staan in ’n kiesafdeling wat jy moontlik kon wen en dan was die pad vir jou geteer.”

Con was egter nie hiervoor te vind nie. Nogtans bly hy vir 40 jaar ’n ingeskrewe lid van die Nasionale Party, maar ’n Broederbonder was hy nooit nie, al was hy hoeveel keer uitgenooi om aan te sluit.

“As ek destyds besluit het om ’n politieke loopbaan te volg, het ek vyf jaar voor De Klerk daardie toespraak gemaak,” sê hy spitsvondig.

Hy spits hom eerder daarop toe om sielkunde, soos dit in die werkplek toegepas word, te laat ontwikkel as ’n volwaardige praktyk in Suid-Afrika en doen baanbrekerswerk op dié gebied. Hy behaal dan ook sy doktorsgraad met die proefskrif “Die keuring van voorjongens in die goudmyne”, ’n pionierswerk van 267 bladsye. Hierdie weldeurdagte stuk maak soveel opslae dat Dr. Verwoerd self ingryp, summier twee hoofstukke laat verwyder en die oorspronklike titel verander! Geen wonder Con kon die man nooit verdra nie.

“My pad het drie keer met syne gekruis en ek het niks gedink van hierdie Hollander wat Suid-Afrika soveel ellende besorg het nie. Tog vreemd hoeveel buitelanders ander lande se lotsbestemming kom beduiwel het: Verwoerd in Suid-Afrika, Duitsland se Koningin Victoria vir Engeland, Oostenryk se Hitler vir Duitsland en Malawi (Njassaland) se Kenneth Kaunda vir Zambië.”

Krüger wyk uit na Rhodesië en werk nou saam met premier Ian Smith. Lánk voor die eensydige onafhanklikheidsverklaring (UDI) in 1965 het hy al die skrif aan die muur gesien.

“Ian Smith het Harold Wilson verafsku. Hy het hom as ’n agterbakse jakkals beskou.”

Dit was in die dae van die winde van verandering, soos Harold Macmillan dit gestel het. Sy enorme taak in Rhodesië was om die spoorweë te omvorm van ’n logge, argaïese organisasie wat direk uit Engeland volgens ’n monargiese styl bestuur is, tot ’n moderne onderneming, geskoei op die lees van Afrikaanse Federalisme. In hierdie hoedanigheid ontmoet hy selfs vir Sir Roy Welensky.

  • Kyk uit vir deel 2 van hierdie onderhoud wat op Vrydag 20 Desember geplaas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

FM ·

Sjoe!!!! Daar is min manne van sy kaliber oor. Vandag het ons hul nodig. Rus in vrede ou grote

Siener ·

Dankie aan vir die duisende mense lewens wat al deur die NSRI gered is. As jy ‘n ekstra geldjie het wat jy wil goed aanvend skend dit vir die NSRI. Dis ‘n vrywillige oragnisasie wat goeie werk doen.

Andre ·

Nog Nog ! Ek wil meer lees van hom ! Ongelooflik interessant.

Bril ·

Hierdie berig los by my geen hoee dunk oor sy politieke oordeelsvermoee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.