Bekende historikus, skrywer sterf

Dr. Con Krüger

Deur Pierre Massyn

Die bekende sielkundige, historikus en skrywer dr. Con Krüger is gisteraand (5 November) in die ouderdom van 89 jaar in die Suideroord-tehuis vir bejaardes op Bredasdorp oorlede.

Krüger was ʼn gesaghebbende oor die geskiedenis van die Suidpunt van Afrika – by uitnemendheid Struisbaai – en die Anglo-Boere-oorloë en dan veral die Tweede Vryheidsoorlog.

Krüger is op De Aar gebore en het hom op Stellenbosch as sielkundige bekwaam. Hy het feitlik eiehandig die destydse Rhodesiese spoorweë hervorm en omskep tot een van die beste in Afrika. In hierdie hoedanigheid het hy nou saamgewerk met die destydse premier, Ian Smith, vir wie hy die hoogste respek gehad het.

Dr. Con, soos hy ook bekend was, was ook ʼn uitnemende paleontoloog en het byvoorbeeld die oorsprong van olifantbeendere wat hy in die duine naby Struisbaai ontdek het, nagevors.

Krüger was lief vir rugby en het op sy dag in die voorry teen die legendariese Chris Koch geskrum. Volgens sy eie erkenning het Koch hom liederlik verniel!

Dit was egter as skrywer van die boek Rub Out My History dat Krüger die grootste bekendheid verwerf het. Sonder om doekies om te draai ontbloot Krüger die afgryslike vergrype van Britse troepe teen burgerlikes in Suid-Afrika in die Tweede Vryheidsoorlog, by name vroue en kinders. Die Britte se gebruik van konsentrasiekampe en die slagting van miljoene diere in die oorlog wat 120 jaar gelede uitgebreek het, is tot vandag ʼn skandvlek op Brittanje se bloedige geskiedenis.

Krüger was besonder trots op sy herkoms en het jare lank ʼn Africana-museum by sy huis Dooierus op Struisbaai bedryf, waar tallose historiese werke en voorwerpe tentoongestel is.

Voor sy dood het Krüger die skrywer van hierdie berig meegedeel dat Britse troepe tydens die Tweede Vryheidsoorlog spesiaal op “Krügertjies” jag gemaak het om hulle uit te sonder vir “spesiale behandeling”.

Nog ʼn feit omtrent hierdie merkwaardige man se lewe wat nog nooit geopenbaar is nie, is sy deurslaggewende rol in die finale inhegtenisneming van Bram Fischer.

Volgens Krüger se seun, Jacques, sal die troosdiens “moontlik in Desember of op 4 Januarie” plaasvind aangesien baie van sy pa se Transvaalse vriende dan kom vakansie hou.

Pierre Massyn is ʼn skrywer, navorser en voormalige lid van die Oorlogsgrafte-kommissie van Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Charles ·

Sjoe! ‘n Man met murg in sy pype!

Rus sag in die Heer se genade!

TDW ·

Totsiens aan ‘n legende. Dankie vir al die skatte wat jy vir ons gelos het.

Hagar ·

n Merwaardige man wat n vol en sinvolle lewe gelei het. Ek glo sy familie is baie trots en ek hoop die erfenis wat hy nagelaat het word baie goed bewaar. Sal graag van dy boeke wil lees.

Daan ·

Wat ‘n veelsydige mens! Saluut! Rus in vrede Dr Con,jy was werklik ‘n aanwins vir Suid Afrika.

Hannah ·

Stil, broers,
daar gaan ‘n man verby,
hy groet,
en dis verlaas.
Daar’s nog maar één soos hy;
bekyk hom goed.

– Jan F.E. Cilliers

Trudy Botha ·

So val nog n groot Seder! Mag sy nalatenskap voortleef! Ek salueer jou. Riv.

Erick ·

Het jare terug een aand by sy huis in Struisbaai saam met hom wyn en kaas geniet terwyl hy stories vertel. RIV oom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.