De Wet Ras: Skopkoning van Harrismith en Vrystaatse puntemasjien

de-wet-ras-en-tom-ferreira

Twee ou staatmakers van Reitz Kamerwonings van Kovsies onlangs in Gordonsbaai herenig. Links is De Wet Ras, wat een van die grootste puntemasjiene in Suid-Afrikaanse rugby geword het. Regs is Tom Ferreira, lid van die keurkomitee van Reitz rugby, wat Gerrie Sonnekus die eerste keer laat skrumskakel speel het. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

As daar ’n tweebeengedierte op hierdie planeet van ons rondloop wat ’n ovaalbal verder en harder kon skop as hierdie beskeie predikantseun van die Oos-Vrystaatse dorpie Harrismith, het ek hom nog nie teëgekom nie.

Vir byna ’n dekade lank was De Wet Ras met sy reuseskoppe ’n absolute verskrikking vir enige span teen wie hy gespeel het – en die opposisie het geweet: begaan jy ’n fout selfs op Ras se eie tientreelyn, gaan jy betaal, Boeta!

Wouter Johannes de Wet Ras het in ’n rugbyhuis grootgeword.

“My pa-hulle het die langspeelplaat gehad waarop Awie Labuschagne se radiokommentaar van die Bokke se epiese stryd teen die 1960-All Blacks was. Ek kon vir ure lank daarna luister, veral as Labuschagne beskryf het hoe Piet (“Spiere”) du Toit die Nieu-Seelandse kaptein Wilson Whineray, in die skrums vermorsel.” Volgens alle verslae, selfs uit die land van die silwer varing, het Du Toit Whineray amper vermoor.

Ras wou van kleinsaf Springbok word en hy het ure lank geoefen om sy ideaal te verwesenlik. Op die familieplaas skop hy sy rugbybal keer op keer op keer oor die telefoondrade. Hy het feitlik alle spanne in sy ouderdomsgroep verteenwoordig: van laerskool tot hoërskool tot Shimlas, Vrystaat en Suid-Afrika.

Hy speel nie minder nie as drie jaar agtereenvolgens (1970-‘72) vir Oos-Vrystaat Skole. Terwyl hy die held van die Hoërskool Harrismith is, kom speel Dokter Viljoen van Bloemfontein daar, en De Wet Ras se pad kruis vir die eerste keer met dié van Gysie Pienaar.

Ras en Pienaar word nie net albei Springbokke nie, maar ook boesemvriende, tot vandag toe. Hulle speel jare lank vir Vrystaat en behaal die merkwaardige prestasie dat hulle albei hul honderdste wedstryd saam speel – teen die Westelike Provinsie (WP).

Ná skool gaan stamp die jong Ras voete vir Suid-Afrika in die lugmaggimnasium in Valhalla, Pretoria en hy word sonder meer vir die lugmag se senior span gekies en speel ook vir Noord-Transvaal vir die o.20-span. De Wet Ras is superfiks en word gou die instrukteur van die lugmag se regimente.

In 1974 begin sy loopbaan behoorlik koers kry toe hy sy intrek by die Reitz-kamerwonings aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat neem om onderwys, met liggaamlike opvoeding as hoofvak, te studeer. Afrigters Nelie Smith, Sakkie van Zyl en Nic Bojé slyp sy talente vlymskerp. Terloops, as jy koshuisrugby gespeel het, was Reitz loshande die mees gevreesde koshuis op Die Bult.

Die Grootvader van rugby in Reitz en aan die UV was Joggie Jansen wat verwoesting onder die 1970-All Blacks gesaai het.

“Vir André Podbielski (Shimlas- en later Noord-Vrystaat-haker) was ek banger as die duiwel vir ’n slypsteen. My koshuismaats Gerrie Sonnekus en Jan Schlebusch word in 1974 Springbokke. Ek en Eben Jansen (Joggie se jonger broer) was saam eerstejaars,” vertel Ras.

Eben behaal ook sy Springbokkleure en hy, Ras en Sonnekus speel gesamentlik byna 300 wedstryde vir die Vrystaat en wen saam die Curriebeker in 1976. SA Mirror/SA Spieël kom maak selfs ’n program oor hom. In 1975 word hy ook vir die Oribis (SA o.21) gekies om na Suid-Amerika te toer.

Ek het De Wet Ras nóóit ’n rugbybal laat sien val nie. Hy kon met al twee voete skop en sy lyn seepglad wegstuur. Hy was bedrieglik vinnig met sy forsgeboude postuur. Dié seun wat geterg is oor “sy paar boude soos ’n matriekboeksak”, speel op die jong ouderdom van 20 in sy eerste senior provinsiale wedstryd vir die Wittruie in 1974 in die heelagterposisie teen Noord-Transvaal. In 1975 is hy ’n volbloed-Shimla wat die Nieu-Seelandse pronkspan Ponsonby in die Vrystaatstadion tráp. In 1976 kry hy sy Springbokkleure teen Andy Leslie se All Blacks in die eerste toets in Durban.

“Die ouens het my goed geborsel in die kleedkamer ná die toets wat ons gewen het. Edrich Krantz saam met wie ek vir Vrystaat se o.20’s en seniors gespeel het, het vir ons ’n drie gedruk en Gerrie Germishuys ons ander drie. Klippies Kritzinger wat ook op Hoërskool Harrismith was, het my ons skoollied laat sing om my as nuwe Springbok te verwelkom,” gesels Ras voort.

“En hoe was dit om onder Morné du Plessis te speel? “

“Kyk, laat ons duidelik wees. Morné was ’n man onder die manne, ’n leier uit een stuk en ’n mens en ’n speler na wie almal kon opsien en vir wie ons die hoogste respek gehad het. Dit was ’n eer en voorreg om onder hom te kon speel.”

In 1976 stel De Wet Ras ’n wêreldrekord op wat tot vandag toe staan en na alle waarskynlikheid nooit gebreek sal word nie: Hy verteenwoordig daardie jaar nie minder nie as vyf spanne teen Nieu Seeland, naamlik SA Gaselle, SA Universiteite, Vrystaat, Suid-Afrika en die SA Veelvolkige Uitnodigingsvyftiental[1]. Vir laasgenoemde span speel hy senter en slaag met ’n skepdoel met die linkervoet! Hy teken die meeste punte teen die All Blacks aan op hul toer – 47. Ja, Ras kon rekords laat spat: in 1975 teken hy 192 punte in 14 wedstryde aan. In 1976 was sy 18 punte in die eindstryd vir jare lank ’n Curriebeker-rekord.

Suid-Afrika se sportmanne en -vroue word egter die onskuldige slagoffers van die Peter Hains van hierdie wêreld wat moes ly weens politieke motiveringe.

Hierdie politieke bullebakke het geen idee watter onreg hulle die spelers en die plaaslike en oorsese rugbypubliek aangedoen het nie. Toe Ras in sy fleur was (1978 en ’79), was daar geen internasionale toere na Suid-Afrika nie. Dieselfde geld vir 1982 en ’83.

In 1977 speel hy vir die Junior Springbokke op Loftus Versveld senter teen ’n besoekende Wêreld-uitnodigingspan. Gerald Bosch dra die nommer 10-trui. Onmiddellik ná die wedstryd moet hy sy plek op die reserwebank inneem vir die volgende wedstryd tussen Suid-Afrika en Willie-John McBride se Wêreldspan. En Ras moet aanskou hoe Robbie Blair van Grey Kollege in Bloemfontein en die WP losskakel speel… Sy volgende toets speel hy eers in 1980 in Durban teen Hugo Porta, die Argentynse towenaar, se Suid-Amerikaners. Hulle speel in truie wat vandag onbekombaar is en waarvan Jorge Allen (flank) s’n te sien is in Afrika se Suidelikste Sportmuseum.

Ondertussen laat rol Ras die punte vir Vrystaat in en word een van die grootste puntemasjiene in Suid-Afrikaanse rugbygeskiedenis. In 141 wedstryde oor die verloop van 12 jaar – van 1974 tot 1986 – teken hy ’n verstommende 1 704 punte vir Vrystaat aan. Hy wen tallose wedstryde met sy dodelike skopvoet.

In 1974 speel Shimlas in die eindstryd om die Ted Sceales-trofee teen Kaapstad Universiteit met Springbokke Chris Pope, Dugald MacDonald en Peter Whipp in hulle geledere.

“Ons slotte was wyle Sydney “Wors” Badenhorst en Chris “Die Mens” Koch. Ons is rustyd met 3-26 agter, maar Piet Strydom (Vrystaat-heelagter) sê ‘Manne, bly net kalm. De Wet, gee net die bal vir Platmuis (Springbokvleuel Gerrie Germishuys’.”

In beseringtyd druk Germishuys toe die laaste drie. ’n Vervyfskop kan die UV laat wen. Komkommerkoel skuif Ras eers ’n rooi brandblusemmer vol sand eenkant toe om die drie uit die hoekie te verdoel. Hy’s oor en Shimlas word die laaste en permanente wenners van die trofee aangesien die kompetisie kort daarna afgeskaf word. Ras se allemintige skoppe word legendaries. Maar hoe ver kon De Wet Ras skop?

In 1975 speel Vrystaat teen die Public School Wanderers, onder die kapteinskap van Fergus Slattery, kookwater Ierse flank en lid van die Leeus-span van 1974. Vrystaat kry ’n strafskop. Ras gaan stel die bal – “vyf tree binnekant ons tienmeterlyn”. Hy swaai daardie kanonpoot van hom deur en die bal trek sekuur deur die pale. Frikkie van Rensburg, tóé rugbyskrywer van die Die Volksblad, het die afstand later gaan meet en vasgestel dat dit 72 “jaarts” (sowat 65,8 meter) was. In die lugmag slaag hy met ’n skepskop van 73 meter! In 1978 teken hy 26 punte vir Vrystaat teen Noord-Transvaal aan teenoor Naas Botha se 21, in ’n wedstryd wat Vrystaat met 34-27 wen.

Ras se 26 punte daardie dag was vir jare die meeste punte wat enige speler nóg teen die Blou Bulle aangeteken het. Ook in 1978 slag hy Oos-Vrystaat feitlik eiehandig op Senekal af en teken 48 punte teen hulle aan – ’n wêreldrekord vir eersteklasrugby.

Later gaan draai Ras en sy vrou Adri (sy skoolkys en later ’n mediese dokter) in Natal en hy speel 13 wedstryde daar. Teen WP jaag hy in ’n japtrap vier skepskoppe – ’n Natalse rekord wat vandag nog staan – deur die mikke en Natal wen met 19-16. In vier agtereenvolgende wedstryde vir Natal slaag hy met ’n ongelooflike 12 skepskoppe. Sy rekord van 35 punte teen Uruguay in 1980 staan vandag nog: dis die meeste punte wat enige Springbok nog in enige wedstryd op toer kon aanteken.

En toe die skande der skandes: die stewige sesvoeter wat opposisiespanne vir jare lank stukkend geskop het, word onverklaarbaar oor die hoof gesien vir die 1981-toer na Nieu-Seeland! Wat die keurders besiel het, weet nugter alleen. De Wet Ras sou in die meeste internasionale spanne ingestap het. Op so ’n toer kon hy op beide losskakel as senter ingespan word. Maar soos Jan Bull Pickard se pa hom in die Paarl geleer het, “Cowboys don’t cry.”

Die impak wat Wouter Johannes De Wet Ras op Suid-Afrikaanse rugby gemaak het, sal nooit uitgewis word nie.

de-wet-ras-01

De Wet Ras in aksie op die rugbyveld. Foto: Verskaf.

Die tyd wat hy aan my afgestaan vir die onderhoud, is verby. Hy is net ’n kort rukkie in Suid-Afrika voor hy ’n vlug moet haal na sy tydelike tuiste in Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate. Terwyl hy in die land is, verongeluk sy boesemvriend Gysie Pienaar se dogter René tragies en Ras woon die troosdiens in Bredasdorp by.

Op 64 dra hy ’n aarbuis. Beserings het hy nie, behalwe vir ’n pynlike skouer waar Ray Gravell[2] van die Leeus hom in 1980 blatant laat geloop het.

Ras onthul iets buitengewoons: Naas Botha was nié die beste losskakel teen wie hy gespeel het nie!

“Naas was ’n wedstrydwenner, maar Michael du Plessis was uiters onvoorspelbaar. My beste losskakel-opponent was die Rhodesiese Springbok Ian Robertson. Daardie man het álles gehad wat ek in ’n topklaslosskakel sou wou sien[3]. Ons het teen Rhodesië in Salisbury (nou Harare) met ’n plan om hom te neutraliseer, op die veld gedraf. Toe Barry (Wolmarans, latere Springbok-skrumskakel) die eerste bal na my slinger, los ek so ’n hoë hangskop op Robertson. Toe hy die bal vreesloos vat, lóóp Dirk Froneman (Springboksenter in 1977) hom uit die aarde, Edrich (Krantz) pik die bal op en gee vir Stoffies (Theuns Stofberg wat ook in 1976 Springbok geword het) en hy suiker deur.”

Teen die 1974-Leeus span Suid-Afrika drie losskakels in: Dawie Snyman, Gerald Bosch en Jackie Snyman. Volgens my eie beskeie opinie sou ’n 20-jarige Ras in 1974 geen Springbokspan in die steek gelaat het nie.

Oor kwotas in ons rugby, eindig De Wet ons gesprek veelseggend: “Dit gaan nog veroorsaak dat ons talle van ons beste spelers aan oorsese klubs sal moet afstaan. Ironies genoeg het Nieu-Seeland ’n Maori-span waarin wittes nie mag speel nie, maar dit word nie gereken as rassisme nie!”

  • Pierre Francois Massyn is die skrywer van Springbok Rugby-Vasvra.

Bronne:

The Number 10s: South Africa’s Finest Flyhalves 1891-2010, Chris Schoeman
Rugby in Kettings, Quintus van Rooyen

Voetnote:

  • [1] Dit was die eerste volwaardige veelvolkige wedstryd in Suid-Afrika en is op 10 Julie 1976 op Nuweland gespeel.
  • [2] Ray Gravell se Llanelli-das word in Afrika se Suidelikste Sportmuseum op Suiderstrand ten toon gestel. Die donateur is Tom Ferreira wie se broer Naas vir Oos-Vrystaat teen die Walliese klubspan gespeel het.
  • [3] Robertson het Suid-Afrika as heelagter en senter verteenwoordig en dikwels vir Rhodesië as losskakel diens gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

En nou bestaan Reitz Kamerwonings nie meer nie………en “my koshuis” langsaan, Huis Malherbe (of Malhuis) word nou genoem Villa Brava (of so iets). My enigste “claim to fame” was dat ek de Wet Ras in ‘n koshuis wedstryd op ‘n baie sensitiewe plek bietjie kon trap in ‘n losskrum….Sorry de Wet…

jannie ·

Ek onthou daai dae so goed…ons was so arm ek het rugby gespeel om lemoene te kon eet….ek het met my oom “kragpaal” De Lange se ou toks gespeel wat 4sentimeter te lank was vir my….maar die ouens het gesukkel om my van my voete af te tackle….ek het vir ure geleer om te sidestep…dat ek my hele troue mis gesidestep het….maar daai backline van Barry Wolmarans, De Wet, Hermanus Potgieter, Doug Jeffrey,Gysie Pienaar, Erich Krantz en Dirk Froneman was regte HELDE vir my…..Haak VRYSTAAAAAAAAT!…..so jammer vrystaat rugby is so in sy tjops in nou.

Louis ·

Ek is n seun uit die Vrystaat, nou 56jr.
My ma het ons altyd stadion toe gevat, n kaartjie was 20 sent gewees.
Die spanne het rustyd ook nog halwe lemoene op die veld gekry.
Daar het die Vrystaat se senior span vir my gewys hoe spel n mens die spel, en ja De Wet en Barry saam met Piet Strydom was my helde. Piet Strydam het die bal met 2 hande gedra, ek beleef dit nou weer of dit gister was.
Dankie vir Vrystaat rugby

Anita ·

Wonderlike herinneringe,een van my gunsteling-rugbyspelers van alle tye,al is ek `n WP-ondersteuner

Boerboel ·

Hierdie man kon skop met sy kanon voet. Hy was baie goed.

Bokkom ·

Volgens my het hy Vrystaat rerig op die map gesit. Ons WP manne het gesidder as hy op die veld was. Sal nooit daardie skop uit sy eie gebied deur die pale vergeet. Daar was lank daaroor gepraat – dit was net nie menslik moontlik nie. Ysters.

Salamander ·

En dit met ‘n leer bal amper so groot soos ‘n strandbal!!

Martie ·

Mnr De Wet was onderwyser by Dr Viljoen. Ek weet nie watter vak hy gegee het nie maar hy het rugby afgerig. Daar was nooit ;n tekort aan toeskouers nie. Dankie Mnr De Wet wat jy vir Dokkies se ouens gedoen het

Therese ·

Ai, nou só lekker gelees!
De Wet Ras. Die naam klink mos sommer klaar soos dié van ‘n held.
Sê so dikwels terwyl ons rugby kyk, “De Wet Ras sou daai een toe oë oorgeskop het”.

Manie Strydom ·

Die naam De Wet Ras sé vir jou sommer wenner en n fantastiese rugby speler. Ek ek die vooreg gehad om De Wet Ras persoonlik te ontmoet lang n rugby veld waar hy saam Deon van Wyk Dr Viljoen se 1ste rugby span in 1995 afgerig het. Ek en my vrou het elke Saterdag spesiaal vanaf Hoopstad deur gery na Bloemfontein om na sy span te gaan kyk. Dat n onderwyser en rugby afrigters soos hy en Deon daai seuns op daai vlak so proffesioneel voor berei wil gedoen wees. Dit was vir my en my wyle vrou voorwaar n vooreg om nie net jou te ontmoet nie de Wet maar om jou seuns te sien straal van vreugde en plesier. Groetnis Oom Manie

Nellie Earl ·

Liewe Oom Manie
Soveel mooi woorde. Ek en my man het altyd ook n instelling gehad om Saterdae na sy seuns se rugby wedstryde te gaan kyk. Hoe verlang ek na daardie dae dit was so lekker en altyd goeie rugby. My dogter was ook in Dr Viljoen in 1989. Ek onthou soos gister daardie eerste span wat se truie soos die ou Transvaal truie gelyk het. Jy kon de Wet se invloed op die seuns sien. Hulle sé altyd goeie dinge vergeet ons nie hulle het n loskakel gehad Danie du Plessis (Wonder wat het van die seun geword) hy was verseker onder de Wet se invloed ongelooflike loskakel. Dankie vir wat jy vir Vrystaat rugby en die seuns gedoen het de Wet.

Stephan de S ·

Wonderlike ou herinneringe. Het n paar vd dinge belewe. Het nie sulke goeie herinneringe aan Andre Potbielski na wat hy aan ons (De Wet koshuis)ster senter ene Le Roux (van Prieska ?) in n koshuiswedstryd gedoen het nie. Is geskok om van Sydney Badenhorst se dood te verneem……ons het op n stadium saam gewerk. Ek onthou goed hoe hy vertel het v daai wedstryd teen Ikeys. Dankie vir die mooi huldeblyk en ou herinneringe…….dis goed vir n mens hier op pad na aandrus.

DeonC ·

Ai wat n lekker onderhoud wat mens ver laat terugdink aan Pukke en intervarsity op Bloem. Ek en Kobus v Wyk losskakel v Pukke en Wes Transvaal beraam een jaar n plan om De Wet te ontsenu. Ek moes op die veld hardloop om hom te spot oor die boude. So gese so gedaan. Wat ons nie aan gedink het nie was die tande v daai tyd se polisie honde. Voor die game begin is ek oor die heininkie en toe ek opkyk sien ek die tande. Nodeloos, ek is vinniger terug as oor die heining.

George in Bloem ·

Vir my ‘n nederige held,een van SA en Vrystaat rugby se bestes ooit. En dat hy nie op die 1981 Kiwi toer saamgevat is nie vir my beslis een van SA rugby se groot skandes en onregte ooit. Dit was vir my as jong seun ‘n groot voorreg om hom al daai jare gelede in die ou Vrystaat stadion te sien speel.Dankie vir die artikel,’n lekker “trip down memory lane”.

CallieL ·

Eintlik hatseer dat sulke gevalle gebeur waar sulke spelers dan in selfde tydperk met nog n speler wat selfs beter is moet kompeteer. Naas Botha en Ras in selfde tydperk

Sarel ·

Naas is bietjie De Wet se junior…
De Wet se beskeidenheid het hom in ligga van sy eie geplaas

Lord Oom Piet ·

As kannetjie het ek oor die draadloos geluister na De Wet Ras se formidabele skoppe wat Vrystaat help wen het in die 1976 Curriebeker eindstryd. Sedertdien ondersteun ek Vrystaat/Cheetahs deur dik en dun.

Die enigste rugbylegende wie ek sou wou ontmoet. Tragies dat nie in. 1981 as Springbok gekies us nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.