Diabetes: Sien dié vroeë tekens raak

Foto: Pixabay, stevepb

Volgens die Internasionale Diabetesfederasie (IDF) toon die jongste navorsing dat vier uit vyf ouers sukkel om die waarskuwingstekens van diabetes by hulle kinders raak te sien.

November is Diabetesbewusmakingsmaand en vandag is Wêrelddiabetesdag. Om bewusmaking oor dié lewensgevaarlike siekte te kweek, het die IDF ʼn verklaring uitgereik waarin die federasie mense aanmoedig om meer te leer oor die waarskuwingstekens van diabetes.

Die IDF het bevind ouers sukkel steeds om die waarskuwingstekens raak te sien. Een uit drie sien glad nie die tekens raak nie, ondanks die feit dat die meeste mense wat aan die studie deelgeneem het ʼn familielid het wat aan diabetes ly.

Die navorsing is deur ʼn aanlyn studie van 7 000 mense gedoen, en het bestaan uit statistiese verteenwoordigers van die Verenigde Koninkryk, Brasilië, China, Indië, Suid-Afrika, Turkye en die VSA.

Die studie se bevindinge lig die nood vir opvoeding en bewusmaking oor die vroeë waarskuwingstekens van diabetes uit. Die tekens sluit in oormatige dorsheid, gereelde urinering, gebrek aan energie, versteurde visie, wonde wat stadig gesond word en gevoelloosheid in die voete en hande.

Julieta Laudani, ʼn ma van Argentinië, beaam dat dit moeilik is om diabetes raak te sien. Sy het agtergekom haar dogter, Fran, het tipe 1-diabetes toe sy op 18 maande deur agt doeke in ʼn paar uur gedraf het. Net soos ander ouers het Julieta nie gedink babas kan dié siekte hê nie en selfs die mediese personeel het aanvanklik gedink Fran het ʼn urienweginfeksie.

“Fran was by haar volle positiewe, sy was nie gedehidreer of enigiets anders nie,” het Julieta vertel ná die skokdiagnose by Fran gemaak is. “Ons het eintlik nie eens geweet dat kinders enigsins diabetes kan hê nie. Ons het geweet volwassenes en bejaardes kan dit kry, maar hulle omstandighede is anders as ons sʼn. Daar is nie veel kennis oor diabetes by kinders nie, en dit sal fantasties wees om dit te verander.”

Indien diabetes nie reg bestuur of behandel word nie, kan dit verreikende komplikasies tot gevolg hê. Dit sluit in blindheid, die amputasie van ledemate, nierversaking, hartaanvalle en beroertes. Volgens die IDF was diabetes in 2017 die oorsaak van vier miljoen sterftes.

“Dit is uiters noodsaaklik dat almal leer om die waarskuwingstekens van diabetes te identifiseer. Ongelukkig kan diabetes maklik met iets anders verwar word en dit laat mense, kinders en volwassenes kwesbaar vir ernstige gevolge,” het prof. Nam H Cho, president van die IDF, gesê.

“Diabetes kan ʼn lewensgevaarlike siekte wees met verwoestende komplikasies indien dit nie reg behandel en bestuur word nie. Die toename in diabetes, veral tipe 2, wat grootliks voorkombaar is, kan in baie gevalle gestuit word indien die nodige behandeling betyds toegepas word. Vir baie mense in ontwikkelende lande is tipe 1-diabetes steeds ʼn doodsvonnis. Dit is onaanvaarbaar en die kwessie behoort dringend aangepak te word.”

Oor Wêrelddiabetesdag

Wêrelddiabetesdag is die wêreld se grootste diabetesbewusmakingsveldtog. Dit is begin in 1991 deur die IDF en die Wêreldgesondheidsorganisasie in reaksie op die toenemende bedreiging van diabetes wêreldwyd. Sir Frederick Banting, wat in 1922 saam met Charles Best insulien ontdek het, se verjaarsdag was op 14 November.

Oor die IDF

Die IDF is ʼn sambreelorganisasie oor meer as 230 nasionale diabetesverenigings in 170 lande en gebiede. Dit verteenwoordig die belangstelling van die toenemende aantal mense met diabetes. Die IDF lei die wêreldwye diabetesgemeenskap sedert 1950.

Vir meer inligting oor Diabetesbewusmakingsmaand en Wêrelddiabetesdag, besoek https://www.worlddiabetesday.org/.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B ·

En die moontlike oorsaak? (DM2)
Ouers wat nie eienaarskap neem oor hul huishouding se gesondheid, goeie diëte ens. (Mos baie makliker om gemorskos in kartonhouers te koop, vrugtesappe / koeldranke en ander koolhidrate in te pak skool toe, herhaal en herhaal vir jare)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.