Dinge is nie altyd soos dit lyk nie

jaco-strydom-confessions-02

‘n Versameling van Jaco Strydom se rubrieke is vroeër vanjaar uitgegee in ‘n boek getiteld “Confessions oor kerkwees’. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

“Dominee, moet ons nie vir daai boemelaar ‘n ietsie gee om te eet nie, dis immers sendingnaweek?” sê een van die gemeentelede.

Die dominee help haar reg en verduidelik dat die lelike, harige ou eintlik die spreker is wat hulle genooi het om die aand by die opelugfunksie te praat, en Sondagoggend te preek.

Dié ou was ek. Sy was glo heel verleë, vertel die dominee my later.

Ek moet sê ek was nogal beïndruk, al was dit sekerlik nie bedoel as ‘n kompliment vir my voorkoms nie (aan die ander kant is dit ook nie noodwendig ‘n kompliment om vir iemand te sê hy of sy lyk soos ‘n tipiese dominee nie, is dit?)

Die feit is, die kerktannie wou vir my goed wees toe sy nog gedink het ek was haweloos. Bless her soul.

Jesus waarsku dat Hy dieselfde ding aspris doen. Hy kies om Homself te “vermom”, om godsdienstige mense raak te loop as een van die “geringstes” onder die weerloses in die samelewing.

Hierdie idee van “die weerlose manifestasie van God”, sien ons oral in die lewe en leringe van Jesus.

Die godsdienstige leiers in Jesus se tyd was gereed om God in die tempel, die wet en godsdienstige tradisies raak te loop. Die laaste ding wat hulle egter verwag het, was om Hom op straat en selfs by die partytjies van tollenaars te ontmoet.

Hulle was erg godsdienstig, maar toe God tussen hulle as ‘n weerlose mens kom loop, herken hulle Hom glad nie.

Ons kan maklik dieselfde fout maak.

Dalk kan dit ons help om meer op ons hoede te wees deur onsself gereeld te vra hoe ons eie godsdienstigheid lyk vanuit die oogpunt van dié mense wat die swaarste kry in ons samelewing.

Hoe ons die mees weerloses hanteer, sê op die ou end meer oor ons Christenskap as ons preke en die liedjies wat ons Sondae vir God sing.

Die ryk jong man in Lukas 16 en die ryk man in die verhaal van die ryk man en Lasarus (Luk 18) se probleem was nie dat hulle God nie aanbid het, of nie die wet gehoorsaam het nie.

In Lukas vertel Jesus die verhaal van die barmhartige Samaritaan aan ‘n Joodse godsdienstige om die eintlike bedoeling van die wet en die profete te verduidelik.

‘n Mens kan erg godsdienstig wees en God mis, as liefde nie wen nie.

Kompetisie

Vyf lesers kan elke ʼn kopie van Jaco Strydom se boek Confessions oor kerkwees wen. Die kompetisie sluit Maandag 16 Julie om 12:00.

  • Dié boek word Carpe Diem Media uitgegee en is ook as ‘n e-boek beskikbaar. Besoek Carpe Diem Media vir meer inligting. 

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Nee, Christus was nie ‘n rebel nie en Hy het self gewaarsku teen diegene wat soveel in sy naam doen maar nie werklik in Hom glo nie. Welsyn hou direk verband met die Roomse siening dat goed-doen selfs jou sondes van die toekoms uit kan wis en veral groot somme geld koop vrywaring teen die hel. Moenie ‘n Christusbeeld probeer skep wat polities-korrek is nie. Hy het op ‘n dag sy dissipels beveel om na die oorkant van die meer te vaar omdat die mense net gratis kos en hulp wou he sonder om werklik na die Woord te wil luister. En die slim maagde het op ‘n dag nie meer olie uitgedeel nie en die bakhandstaners gestuur om self olie by die handelaar te gaan koop. Oppas vir eie bybels skryf!

Johanna ·

Jesus was beslis nie die stereotipe van die ou Testament nie.

Ek sien nêrens dat Hy as ‘n rebel uitgebeeld word nie, inteendeel, ‘n liefdevolle mens wat empatie en liefde vir sy naaste gehad (en nog ) het.

Andrea ·

Ek glo ons is veronderstel om Christus se lewe en optrede as n model vir óns eie lewens te sien. Christus was simpatiek en het goed gedoen waar hy gegaan het. Ek glo as ek raaksien waar ek aan mens of dier kan goeddoen, is dit die Heilige Gees wat my dit op die hart druk. Of dit in ooreenstemming met die Roomse leer is of nie. Ons doen nie goed om saligheid te verdien nie, ons doen goed uit dankbaarheid omdat ons bevoorregd genoeg is om te kán goeddoen aan ander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.