Elke droom het sy prys

nostalgie-foto-skyfie-verlange

Foto: Gemma Evans/Unsplash.com

Kersfeestyd is iets waarna meeste mense uitsien: vakansie by die see, uitstappies en roomys, Kerssangdiens, familie Kersfees. Mééste van ons, maar nie almal nie. Vir party is Kersfees ’n somber en eensame tyd.

Dis die storie van ’n immigrant. Meteens is die familie-Kersfees net ’n herinnering. Die uitdeel van geskenke is yl en sonder betekenis. Die kerkdiens in ’n ander taal raak nie jou hart soos in jou eie taal nie. Die stories en grappe om die etenstafel is net iets waarna jy kan verlang. Daar word gesê ’n immigrant is iemand met sy hart op twee plekke gelyktydig. Op spesiale dae soos Kersfees weet jy vooraf dit gaan erger wees. Maar daar is ’n wêreld tussen “weet” en “voel”.

Waarvoor niemand jou voorberei as jy immigreer nie, is jou eie verlorenheid. Jy weet jy gaan vreemd voel en moet gewoond raak aan ander winkels en handelsname. Jy weet jou familie en vriende gaan ver wees.

Wat jy nie weet nie, is dat jy die petroljoggie gaan mis. Jy gaan die tannie by die kerk mis wie se naam jy nie ken nie, maar wat elke Sondag haar plekkie beklee in die linkerblok, derde ry. Jy gaan die kollega wat nooit ’n vriend was nie, mis – want hy was altyd vriendelik. Jy gaan die kleuterskooljuffrou mis wat al drie jaar na jou kind omsien. Jy gaan die oom by die hoekkafee mis met sy Portugese aksent en sy saaklike maniertjies. Jy gaan selfs die bedelaar by die verkeerslig mis. Want dis bekend.

Niemand kan jou voorberei vir die gevoel as jy agterkom jou vriende kuier steeds saam, al is jy nie daar nie. Niemand kan jou voorberei op foto’s van Kersetes sonder jou op Facebook nie. Niemand kan jou voorberei vir die kere wat jy hoor jy word gemis, of die kere wat jy dit wíl hoor, maar dit gebeur nie. Niemand kan jou voorberei op die eerste keer wanneer jy ingelig word van iemand wat jy ken of vir wie jy lief is, se dood nie. Niemand kan jou voorberei op die gevoel van magteloosheid as iemand vir wie jy lief is, ’n krisis beleef aan die ander kant van die wêreld – en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie.

Niemand kan jou voorberei vir die oomblik wat jou driejarige vra om by Oupa te gaan kuier of na familiefoto’s kyk en sy ogies skiet vol trane nie.

Immigrante is nie verloorders of manteldraaiers of weghardlopers nie. Dit is mense wat kan deurdruk, wat ’n droom najaag en hul eie gevoelens opsyskuif ter wille van ’n groter prentjie.

Soms is die pad net baie moeiliker as wat hulle verwag het. Daar is niemand wie se naam jy op ’n vorm kan skryf vir naasbestaande om te kontak ingeval van nood nie. Daar is niemand om te kom help trek nie. Daar is niemand om te vra vir kinders oppas as jy ’n werkfunksie het nie. Dis nie vreemd vir immigrante om daardie ondersteuningsnetwerk té veel te mis nie. Jy mis nie net jou vlees en bloed nie. Jy mis die gemeenskap.

Sommige van ons bou weer mettertyd ’n gemeenskap van mede-immigrante en plaaslike mense om ons wat daardie leemte op ’n manier vul. Ander kan nie. Party kies dan om terug te gaan na die gevoel van “behoort” en geborgenheid. Vir hulle wil ek sê: Jy is nie ’n mislukking nie.

Dit is ’n harde pad wat ons kies. As dit nie nodig was om te kies nie, sou niemand dit gedoen het nie. Vir die mense rondom dié wat terugkeer: Hoe jy ook al voel oor hul besluit om te emigreer of om terug te gaan huis toe, wees daar vir hulle. Jy is deel van hoekom hulle terugkom.

Meer oor die skrywer: René du Preez

René du Preez is ʼn projekbestuurder, ma en eggenote. Sy is passievol oor die natuur, mooi musiek en kuns. Skryf is vir haar ʼn manier om sin te maak van die wêreld en ʼn stukkie van haarself vir mense te gee. René en haar gesin woon tans in Nieu-Seeland.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

Moenie die nuwe blyplek as die eindpunt sien nie. Dis net ‘n tydelike oornagplek. Geniet dit soos ‘n pitstop en probeer nuwe kosse en spoel die slaai goed af. Indien jy die stoof en die bad ook ingepak het. So what. Vroue pak altyd te veel in. Daar is seker darem vullishope. Daar is ander nuwe plekke om heen te te trek/reis of geleentheid om eendag terug te keer. Die Bybel se juis mens moet nie die hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk nie… Jy het dalk nog nie die nuwe dokter in die buurt uitprobeer nie… hy kan dalk… bene spalk. Hou ‘n dagboek met die oog op ‘n boek later. Ons dink aan jou!

marco polo ·

Jy bedoel emigrant, mense wat hul vaderland verlaat en permanent na ‘n ander land verhuis en burgerskap van daardie land bekom. ‘n Immigrant is ‘n persoon van ‘n ander land wat inkom.
Maar ek stem saam, Kersfees in die buiteland is maar ‘n eensame affere, veral as jy in ‘n land bly wat dit nie vier nie. Gelukkig is ek nie ‘n emigrant nie, net in tydelike ekonomiese ballingskap. Of dalk ongelukkig…

Trotse maar hartseer mamma ·

Hierdie mamma, ouma se trane loop al weer! Ek hoor daai klein lyfie sê “Oupa keie” en my hart breek! Wens so annerland was nie so ver en onbereikbaar nie! Ek weet julle maak ‘n groot sukses van hierdie skuif, maar ons mis julle verskriklik! Ek dink een van die slegste dinge, is dat ek nie gou die foon kan optel en bel nie. Ek kan nie in my kar klim en gaan inloer nie om seker te maak alles is reg nie. Ek kan nie eers sommer net ‘n whatsapp stuur nie, want die tydsverskil maak dat dit dalk in die middel van die nag is! Middel van die nag boodskappe laat altyd ‘n mens se hart ‘n slag mis! Wens ek kon nou daar wees om deel te wees van al die nuut wat julle beleef, al is dit nie alles lekker nie! Mag die paaie wat nog krom is, reguit word en mag julle baie vrede ervaar. Ons vertrou dat ons julle binnekort sal sien,

Bianca ·

Ai tannie, ek sit nou hier by die werk. Vanogend toe ek instap is daar n Protea in die ruiker wat ons elke week by die werk ontvang. My hart was gevloed met emosies. Toe lees ek hierdie berig en die trane le vlak. ek deel dit met my vriendinne hier in Kanada. Om mekaar aan te moedig en bewustelik daar te wees vir mekaar want ons almal stap hierdie moeilike pad. En toe ek tannie se boodskap lees kon ek nie meer die trane keer nie… ek verlang na my ma en my sussie. ek verlang na my skoon familie, ek wil deelwees van die kleintjies by die huis se lewens, maar mt kleintjies se toekoms moet eerste kom. ek bid dat die Here hulle eendag sal laat verstaan hoekom ons hierdie keuse gemaak het. hoekom hulle nie by ouma en oupa kan groot word soos die ander niggies en neefies nie..Ons bid dat ons gou weer ons mense kan sien

Jerry ·

Renee, jy het gekies omdat dit nodig was om te kies en die prys van verlange en gevoel van alleenheid wat jy nou betaal, sal jou en jou driejarige wel nog vorentoe beloon. Jy is die verstandige een en die baanbreker vir diegene na wie jy verlang. Wie weet, net dalk en ook nie meer te lank van nou af nie, kies diegene na wie jy verlang, om jou te volg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.