‘FroueVonds’: Pasgetroud, toe tref Covid-19-pandemie

Benette Welman en haar man, Nico. (Foto: Verskaf.)

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. Benette Welman, Helpende Hand se projekorganiseerder van FroueVonds, skryf oor hoe dit voel om pasgetroud te wees terwyl die wêreld om ’n mens verander.

Wat ’n vreemde tyd! Tog bly ek dankbaar

Op 11 Januarie 2020 het die trouklokke vir ons gelui. Dit was daardie dae toe ons nog nie maskers gedra het nie en hande gewas het as dit vuil was. Dié dae toe ons ordentlik kon bruilof hou en ek gedink het Zoom is die geluid wat ’n by maak.

Toe ons terugkom van ’n heerlike, sonnige wittebrood het ons die gespot met die nuwe koronavirus (Covid-19) gehoor, want ons Suid-Afrikaners maak mos grappies oor alles. Terug van vakansie, het ek so gewens dat ek die tyd van troue en wittebrood kon oorhê, min wetend dat alles baie kort ná ons sprokiestroue tot stilstand sou kom.

Ek het die Maandagaand ’n piesangbrood uit die oond gehaal toe ek president Ramaphosa dié aankondiging hoor maak: “Dis grendeltyd”.

Ek en my man – net meer as twee maande getroud – besluit om die inperking by my ouers in die Vrystaat deur te bring, want dis mos net drie weke lank! Ek het maar die vars piesangbrood saamgeneem.

My man het sy skoonouers terdeë leer ken. Die drie weke het in vyf ontaard voordat ons met permitte, huweliksertifikate, paspoorte en alles wat nodig was, weer terug is Gauteng toe.

Wat ’n vreemde tyd! Dis nie die storie wat die meeste pasgetroude paartjies vertel nie. Soos ek dit neerskryf, word ek net weer eens gevul met ’n diepe dankbaarheid. ’n Dankbaarheid dat ons ses maande getroud kan wees en nie vir die tweede keer ons troue moes uitstel nie. ’n Dankbaarheid dat dit soos ’n leeftyd saam voel en nie soos ’n leeftyd se teleurstelling oor trouplanne wat nie uitgewerk het nie. Dankbaar dat ek met die regte man getrou het – dit weet ek vir seker ná drie maande se ekstra kwaliteittyd wat ons daagliks saam spandeer.

Ek het geleer dat ons mense planne maak, maar dat God bepaal hoe ons loop (Spreuke 16:9). Ons het so in die gewoonte verval dat ons kan gaan waar ons wil, wanneer ons wil, soos ons wil en vir hoe lank ons wil. Ewe skielik het dit alles verander en ons doen en late is vír ons bepaal. Wat ’n troos is dit nie om te weet dat ons paaie in God se hande en nie in die regering s’n is nie. Hy dra ons deur die dongas, oor die klippe en deur die slote.

Wees verseker dat hierdie deel van jou pad nie vir God ’n verrassing is nie, of dit nou goed of sleg met jou gaan.  Ek het in hierdie tyd weer die vrede daarvan ervaar om waarlik op God te vertrou en nie op my eie insigte staat te maak nie. Dis bevrydend.

Ek het geleer dat dit waarmee ek vandag besig is, nie my identiteit bepaal nie. Omdat God my identiteit bepaal, kan ek vandag besig wees met dit wat ek moet doen. As iemand vir jou vra hoe dit gaan, is dit mos mode om te reageer met die woorde: “Besig, en met jou?”.

Ek het net nog ’n keer besef dat die gejaagde lewe wat ons dikwels lei, nie die waarde tot ons lewe toevoeg wat ons dink dit sou nie. Inteendeel, dit laat die fokus op onsself val en maak ons leeg en afgestomp vir die mense rondom ons. Dis baie meer werd om in die oggend ’n halfuur lank stil te word by die voete van die Een wat my gemaak het, as om in die verkeer vas te sit.

Laastens het ek geleer dat my man meer geduld, wysheid en uithouvermoë het as wat ek gedink het. Ek het geleer dat hy nie van die huis af kan werk nie en dat hy regtig baie van rugby en gholf hou; dis nie aansit nie. Ek weet nou dat ek elke oomblik saam met hom moet aangryp, waardeer en die beste daarvan moet maak. Wie weet, dalk haal die regte lewe ons in en gaan die grendeltyd heeltemal te vinnig verby.

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. *FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Trotse Boervrou ·

Pragtig en baie beskrywend. Mag julle ‘n baie geseënde huwelik ervaar. Die tyd vlieg. Koester elke sekond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.