‘FroueVonds’: Vrouwees is liefwees

Reandi Grey. Foto: Verskaf.

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. Reandi Grey, vrou, ma, aktrise en lewenslustige, vertel in dié rubriek oor die belangrikheid van liefde en familie.

Familie is my lappieskombers

’n Vrou is so sag, maar ook so sterk. Vroue huil wanneer hulle gelukkig is en lag wanneer hulle bang is. Vroue staan nie terug vir uitdagings nie, want hul kinders kyk op na hulle vir inspirasie en motivering. Vroue het die vermoë om met een drukkie die seer elmboog tot die gebreekte hart heel te maak.

Vroue is geskape om vreugde en liefde aan ander oor te dra.

’n Vrou is ’n wonderlike skepsel, maar het steeds haar “ander helfte” nodig. Hetsy dit jou man, kinders, vriende of diere is. Ek glo ’n vrou is nie geskape om haar oorweldigende liefde vir haarself te hou nie. Ek is bitter geseën om beide ’n vrou te wees en my familie as my “ander helfte” te kan hê.

Vir my is familie ’n nieonderhandelbare noodsaaklikheid. Familie is uit dieselfde lap gesny en sonder hulle is my lappieskombers nie voltooi nie.

As vrou is ek geskape met liefde bo verstand, meer as wat ek weet hoe om te hanteer. Elke dag se pakkie liefde gaan aan eerstens aan Jesus en my familie. Maar beslis ook aan my vriende, kollegas, kennisse, my land, alle diere en die natuur, my taal en vele meer. Dit eindig dan weer by my familie – hulle kry dubbele dosisse. Dit is een van die redes hoekom my familie so belangrik is vir my – hulle is die krummeldiewe vir al die oortollige liefde dat dit nie tot niet gaan nie.

Ek is bitterlik bevoorreg om te kan sê mý ervaring van ’n vrou is dat sy nie ’n vrou is sonder die konstante deel van liefde nie. Ek het grootgeword met die wonderlikste twee oumas, met harte groter as die heelal self. Daar is ook nie woorde om my wonderwerk van ’n ma, met al haar ongelooflike onophoudelike liefde te kan beskryf nie. My sussie is my beste vriendin en het self te veel liefde as wat die verstand kan begryp. Met twee baie groot families, en vele, vele tannies wat só na aan die Here lewe, het ek by elkeen van hulle ook geleer van liefde en liefhê.

Kerstyd is maklik my gunstelingtyd van die jaar, want dis familie, familie, familie… ’n Tyd om letterlik pakkies en pakkies liefde uit te deel, almal te druk en soen (of hulle nou van drukkies en soene hou of nie) en simpel grappies te vertel waarvoor die familie móét lag. Dit sluit ook in: heeltemal te veel eet, terug te kyk na ’n hele jaar se herinneringe en seëninge, en hopelik die see en ’n vuur te ruik.

Medevrou, wees hierdie Kerstyd lief vir die Here, lief vir jou land, lief vir jou mense, maar baie belangrik, wees lief vir jouself.

Baie liefde, en ’n geseënde Kersfees!

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. *FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Die fonds is geskep vir meisies en jong vroue wat hulp nodig het op alle vlakke in hul lewensfase en fokus daarop om hierdie vroue te bemagtig en te ondersteun. Dit is vir die FroueVonds belangrik om kwessies wat vroue na aan die hart lê, saam met kundiges op verskeie gebiede te takel. Vir meer inligting of om betrokke te raak. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.