11 jaar ná breinbesering doen ouers steeds alles wat hulle kan

Corné, Michelle en Tahlia Smith. (Foto: Verskaf)

Deur Johanni Meiring

Die Smiths is ʼn gesin van drie wat onlangs van Pretoria na Hermanus verhuis het. Al is Michelle baie lief vir Pretoria sê sy: “Die lug in Hermanus het meer osoon; ek voel en sien dit aan ons dogtertjie se groei.” Hulle geniet hul nuwe sakeonderneming en lewe in die Kaap saam met hul dogtertjie, Tahlia (11), by wie mikrokefalie (ʼn ernstige breinbesering) gediagnoseer is.

Michelle en haar man, Corné, het ʼn baie uitdagende 11 jaar agter die rug. Michelle het nie aanvanklik beplan om kinders te hê nie, maar het wel die kosbaarheid van ʼn normale swangerskap sonder uitdagings geniet.

Die sorg van hulle nuwe baba was egter sedert die geboorte bitter moeilik. Almal het raad gegee, maar niks wou help om hul baba se uitgerekte en harde skreeusessies te laat bedaar nie.

Die ouerpaar het toe ernstig begin hulp soek, en op tien weke is mikrokefalie en op 11 weke doofheid by Tahlia gediagnoseer. Epilepsie is ook gediagnoseer. Die diagnose is aan die feit dat sy onwetend aan Duitse masels gedurende swangerskap blootgestel is, toegeskryf.

Michelle het die realiteit en skok van die diagnose baie moeilik verwerk – soveel so dat sy oorgegaan het tot gedagtes om haar en haar dogtertjie se lewe te neem. Sy sê: “Ek het in ʼn baie diep gat geklim, en mense het gedink hulle kan vir my ʼn leer afstuur en dan sal ek uitklim. Ek het eerder ʼn helikopter nodig gehad, want niemand het verstaan hoe diep die gat was nie.”

Ná 11 jaar van ʼn lewe met die realiteite van ʼn breinbesering, veg Michelle en Corné steeds met alles wat hul het om hul dogtertjie te help en ondersteun. Hulle dae bestaan daaruit om Tahlia volledig fisiek te ondersteun, breinoefeninge te doen, bindweefsel te ontwikkel, tuisonderrig vanuit ʼn Christen-Amerikaanse sillabus aan te bied en soveel toepaslike stimulering moontlik om ontwikkeling aan te wakker. Teen ongeveer drieuur elke middag ervaar Tahlia gewoonlik ʼn spastiese episode, wat die beste bestuur word deur haar net vas te hou en liefde te gee. Sy raak saans moeilik aan die slaap omdat sy tussen 60 en 100 epileptiesetoevalle kry voordat sy in haar REM-slaap kan ingaan.

Ten spyte van ʼn baie uitdagende lewe vertrou Michelle, Corné en Tahlia op die Here vir genesing vir Tahlia en voorsiening in hul behoeftes. Hulle ervaar God se nabyheid in hul lewens, saai hoop waar hul kan en weet dat die Here net die beste vir hulle wil hê.

Luister hier na die 19de aflewering van die Parent Reality-podsendingsreeks vir ʼn onderhoud met Michelle Smith.

Johanni Meiring (Foto: Verskaf)

Hoe maak jy ʼn verskil in so iemand se lewe?

  • Word deel van ʼn gemeenskapsprojek soos Parent Reality (ʼn ondersteuningsgroep vir ouers met spesialebehoeftekinders), wat hierdie ouers ondersteun.
  • As jy onsekerhede het, vra die ouer of jy met hulle kan gesels oor hul kind se toestand.
  • As jou kinders vrae vra, moedig hulle aan om te vra wat sy/haar naam is, wat sy/haar ouderdom is, ens.
  • Wanneer jy ʼn spesialebehoeftegesin oornooi na jou huis, vra gerus of hulle spesifieke behoeftes het om die kind tydens die kuier te ondersteun.

Hierdie rubriek is deel van ʼn reeks rubrieke deur Johanni Meiring in samewerking met Solidariteit Helpende Hand se Ere-ondersteunersnetwerk om bewusmaking te skep oor ouers van kinders met spesiale behoeftes en om dié ouers te bemagtig en by te staan. Klik hier om ʼn ere-ondersteuner van Helpende Hand te word of om ʼn bydrae te maak om dié ouers deur die Spesialebehoefte-ouerfonds te help.

  • Johanni Meiring is ʼn lewensafrigter, spesialebehoefte-ouer en medestigter van Parent Reality.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kokerboom ·

Baie sterkte aan die gesin. Mag GOD jul die nodige krag liefde en deursettingsvermoee gee. Mag HY SY gesingshand oor haar hou

Swerwer ·

Baie sterkte. Dit is ‘n steil pad, het dit vir 36 jaar geleef, dit is absoluut die moeite werd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.