AfriForum Teater vier tweede verjaarsdag

Die Afriforum Teater. (Foto: Verskaf)

“Die toekoms lyk rooskleurig!”

Só sê Carien Bloem, bestuurder van die AfriForum Teater, wat pas sy tweede verjaarsdag gevier het.

In dié twee bestaansjare, het talle bekendes soos Sandra Prinsloo, Cintaine Schutte, Frank Opperman, Marion Holm, Ilne Fourie en Margit Meyer-Rödenbeck die teater se verhoog deurgetrap.

“Dit is vir ons heerlik om te sien hoe die teater al hoe meer bekendheid verwerf en dat al hoe meer mense vertroud raak met die teater en vertonings hier bywoon.”

Die teater word ook gevier vir sy veelsydigheid, aangesien dit nie net verhoog- en musiekproduksies kan huisves nie. Daar is al talle toekenningsgeleenthede en konferensies by die teater aangebied.

“Mense is beïndruk met die goeie klank- en beligtinggeriewe in die teater, die vriendelikheid van die personeel wat altyd ’n goeie indruk maak, en hulle is verstom met hoe mooi die teater is.”

Daar is in 2021 reeds 153 vertonings by die teater gehou en in 2022 is 196 vertonings aangebied. Daarmee saam is daar ook tientalle formele geleenthede gehou.

Een van die hoogtepunte van 2022, vertel Carien, was beslis drie suksesvolle speelvlakke van die musiekspel, Die Gelofte, geskryf deur Jannes Erasmus en op die planke gesit deur onder meer Johan Vorster, Jacomien de Wet, Bernice West en Nadia Beukes.

Die teater het ook as gasheer gedien vir 17 Aardklop-produksies, insluitend Laerskool Noord, Oom Bey, my pa en Mixtape van die liefde.

Dié jaar sal produksies soos Ek wens, ek wens deur Frank Opperman en Van die rak af met Lizz Meiring ook op die planke by die Afriforum Teater te siene wees.

Johan Vorster, Jannes Erasmus en Jacomien de Wet is ook terug op die verhoog met Die Kaplyn, ’n musiekspel geskoei op die gebeure van die Grensoorlog in die 1980’s.

“Bywoning en kaartjieverkope het die afgelope twee jaar ongelooflik verbeter,” vertel Carien.

“Ons kan sien  dat mense ’n behoefte het om in die teater te wees en die kunste te ondersteun.”

  • Besoek hierdie webwerf om meer uit te vind oor die produksies en geleenthede wat binnekort op die AfriForum Teater se planke gaan wees.
  • Besoek hierdie webwerf indien jy kaartjies vir Die Kaplyn wil aanskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.