Luister: ‘Die Kaplyn’ is verhaal van familie, trots

‘Die Kaplyn’ kuier eersdaags op die AfriForum Teater se planke. (Foto: verskaf)

“Ons probeer so na aan moontlik kom aan wat histories korrek is, sodat die veterane in die gehoor vereer word en trots kan voel om daar te wees die aand.”

Só gesels Johan Vorster, een van die skeppers van ’n nuwe musiekspel, Die Kaplyn, wat geskoei is op gebeure wat tydens die Grensoorlog in die 80’s afgespeel het.

Johan, Jannes Erasmus en Jacomien de Wet, die skrywerspan wat ook verantwoordelik vir die treffermusiekspel, Die Gelofte, was, het Die Kaplyn geskryf.

“Die Kaplyn”, ʼn alombekende liedjie gesing deur Bok van Blerk, is meer as 15 jaar gelede deur Johan en Sean Else geskryf.

“Soos met ‘Die Gelofte’-lied wat toe ’n musiekspel geword het, is ‘Kaplyn’ se drie minute lied dalk nie genoeg gewees om die volle storie te vertel nie,” sê Johan.

“Ons het gevoel daar is dalk ’n groter verhaal te vertel. Onder ons dakke sit daar pa’s, broers, ooms en oupas wat helde is en was, waarvan ons nie weet nie.”

Deeglike navorsing en vaslegging van geskiedkundige gebeurtenisse het die grondslag van Die Gelofte gevorm, ’n resep wat tydens die skepping van Die Kaplyn ook gevolg is. Daar is tyd saam met veterane en historici deurgebring om te verseker dat die inligting wat op die verhoog ten toon gestel word, so akkuraat moontlik bly.

“Daar is ’n slagspreuk in Die Kaplyn wat lui; ‘hulle plig was om te dien, en ons plig nou is om te onthou. As ons geskiedenis gekriminaliseer word en uit kurrikulums gehaal word, is dit iemand se plig om die storie te verhel. En ons steek die hand op,” vertel Johan.

Johan Vorster, Jacomien de Wet en Jannes Erasmus het ‘n splinternuwe musiekspel op die horison. (Foto: Jannes Erasmus/Facebook)

“Ons gee nie voor dat ons enigsins weet hoe dit was nie. Ons was nie daar nie. Ons sal nooit weet watter tipe trauma ons soldate moes deurgaan en waarmee hulle vandag steeds sit nie, maar dalk is ʼn gesprek nodig in die verband.”

Diegene wat Die Gelofte geniet het, vertel Johan, sal waarskynlik ’n aanhanger van Die Kaplyn ook wees. Met musiek vanuit die 70’s en 80’s en ’n paar danstreffers daarmee saam, beloof Die Kaplyn om teatergangers opnuut te bekoor.

“As jy gehou het van Die Gelofte se musiek, is jy in vir ’n bederf,” vertel Jannes.

“As jy hou van ’n lekker storie wat die hartsnoere roer en jou bietjie gaan laat lag, is dit ’n produksie wat jy nie moet misloop nie.”

  • Luister boaan die artikel na ʼn volledige klankonderhoud met Johan Vorster en Jannes Erasmus.
  • Die Kaplyn is vanaf 26 April tot 21 Mei by die AfriForum Teater in Pretoria te sien. Koop jou kaartjies hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet Snot ·

Bring Kaplyn Kaap toe ook, asseblief. Ons Kapenaars suig nou aan die agterspeen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.