Nog ʼn musiekspel kuier binnekort op AfriForum Teater se planke

‘Die Kaplyn’ kuier eersdaags op die AfriForum Teater se planke. (Foto: verskaf)

“Die verhaal bring hulde aan die helde wat onder ons dakke woon, maar waarvan ons so min weet.”

Só sê Johan Vorster, een van die skrywers van Die Kaplyn, ’n splinternuwe Afrikaanse musiekspel wat binnekort op die planke van die AfriForum Teater in Pretoria te siene gaan wees.

Die verhaal is geskoei op die gebeure wat tydens die Grensoorlog in die 1980’s plaasgevind het. Johan Vorster en Jannes Erasmus het die produksie geskryf en dit word deur AfriForum in samewerking met Inhoud Huis Musiek aangebied.

Jannes, wat die regie van Die Gelofte behartig het, sal weer die regisseurskoene volstaan.

“’n Paar temas wat in die agtergrond van ’n oorlog plaasgevind het, soos die liefde, genade, geloof, vergifnis, verhoudings en struikelblokke word ondersoek,” het Johan gesê.

“Die Kaplyn is ’n familiesaak wat almal raak, nie net die troepe nie. Daar word gepoog om ’n musiekblyspel op die planke te bring wat die hele gesin kan geniet.”

Teatergangers wat Die Gelofte geniet het, gaan veral kaartjies vir hierdie musiekspel wil aanskaf, meen Johan, wat die musiek en lirieke van die produksie saam met Jacomien de Wet geskryf het.

Francois Lessing was saam met Johan aan’t stuur van die musiekregie van die produksie waarin Ilán van Staden, Jacomien de Wet, Johan Vorster, Jackie Lulu en Abel Knobel onder meer te siene gaan wees.

“Ná die sukses van Die Gelofte-musiekblyspel, is dit ’n voorreg om weer saam met hierdie talentvolle span te kan werk,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Die Kaplyn is hoopgewend, vol lewenslesse en gee ’n empatiese blik op gesinne se opofferings tydens die Grensoorlog, terwyl dit ook die gehoor sal vermaak met puik musiek en puik akteurs.”

Volgens Kallie is daar besluit om weer ’n musiekblyspel op die planke te bring as deel van AfriForum se uitgesproke doelwit om belangrike historiese gebeurtenisse in die Afrikanergeskiedenis deur die kunste aan die jeug oor te dra.

“Op dié manier kan oud en jonk herinner word aan die opofferings en heldedade van ons voorgeslagte in moeilike tye en op verskeie terreine.

“Musiekblyspele het ’n wonderlike opvoedkundige waarde, waar gemeenskappe verhale deur stories en musiek herleef. Ons is opgewonde oor die verhaal van Die Kaplyn wat by die AfriForum Teater vertel gaan word,” het Carien Bloem, teaterbestuurder van die AfriForum Teater, gesê.

  • Die Kaplyn is vanaf 26 April tot 21 Mei by die AfriForum Teater te sien.
  • Vir meer inligting en om kaartjies vir Die Kaplyn aan te skaf, besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Wonderlik! Daar is baie om op trots te wees. Mag julle groot sukses geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.