Alle grappies op ’n stokkie: SA humor is goud werd

(Foto: Stormy All/Unsplah)

Ek kry vanoggend op WhatsApp ’n meme van Brittanje se koningin Elizabeth met die opskrif: “Kan jy glo koningin Gqeberha word vanjaar 95?”

Onderaan skryf my vriendin Ronel (wat die boodskap gestuur het): “Suid-Afrikaners se humor is goud werd; hoe anders sou ons cope?!”

En in dieselfde trant sien ek later op sosiale media die volgende: “Jy wat so moan oor Gqeberha; dis nie asof jy Pordilizabit kon spel nie.”

Ons sien oor en oor hoe krisisse, eienaardighede, irritasies en selfs tragedies nie net die vindingryke in ons uitbring nie, maar ook die humoristiese. Dink maar aan die tyd toe beurtkrag aan die orde van die dag was en hierdie nasie behoorlik oorgekook het.

Grappies soos: “Wat het Suid-Afrikaners voor kerse gebruik? Elektrisiteit.”

Of die Eskom-effek: “Al die kerse in my huis begin vanself brand sodra hulle ‘Ag, blik …!’ hoor.

En ’n laaste op dié trant: “Ons land is eintlik orraait, petrolpryse gaan op, broodpryse gaan op, maar die krag gaan darem af.”

En ander snaaksighede wat so eg Afrikaans is… Ek dink byvoorbeeld aan die meme van ’n visserman wat ’n witdoodhaai op sy snoet eenkant toe druk en sê: “Hier vang ons karp!”

Of die sogenaamde Brakpan-GPS wat ’n hele klomp Facebookers se lagspiere gekielie het: ’n foto van ’n afgeleefde motorfiets waarop ’n aardbol op die stuurstang vasgebind is.

Om nie eens te praat van al die Covid-grappies wat enkele dae ná die eerste geval hier aan die suidpunt van Afrika aangemeld is, die rondte begin doen het nie!

“Chuck Norris het positief getoets vir die koronavirus. Die virus is vir 14 dae in kwarantyn geplaas.”

Lizma van Zyl. (Foto: Jaco Marais.)

Ek het tydens my internetsoektog oor humor oor die wêreld heen op ’n artikel afgekom wat beweer dat die Britte glo die beste sin vir humor het weens hul vermoë om ironie en sarkasme in bykans elke situasie te kan aanwend. Amerika met sy stand-up comedy is tweede op die lys gevolg deur… ja, wag hiervoor: Rusland. Dié land se aanlyn spitsvondigheid op YouTube en RuTube gaan nie ongesiens verby nie. Die streeksmededingendheid in Frankryk wat satire laat seëvier, plaas dié land in die vierde plek. Die ander verrassing op die lys is China, op nommer 5 weens die ingewikkelde skryfstelsel waarvolgens karakters aangepas word na gelang van die grammatikale konteks. Dié vloeibaarheid leen hom toe tot baie kwinkslae en kattekwaad. Maar wees gewaarsku: geen grappies oor die regering nie!

Die skrywers van die artikel meld ook dat die Duitsers tog wel ’n sin vir humor het. Eintlik ’n baie goeie een. Vir hulle is politieke satire en sosiale taboes heerlike grapkaspitkos en het die volk blykbaar boonop die kuns van slim woordspel bemeester.

Ek het lekker gelees aan die artikel, maar my laaste gedagte was dat die groep mense wat die storie nagevors het, duidelik nog nie in Suid-Afrika was nie. Ons humor is dalk nie altyd so fyn nie, maar méns, ons kan mekaar lekker laat lag en vir ’n oomblik van al ons sorge laat vergeet.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cecilia ·

Jy is doodreg. Dis al hoe ons handjievol Afrikaans sprekendes nog oorleef. Kan net d kop skud en lag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.