App kom tot leerders met ernstige gestremdhede se redding

Alma Skool staar talle uitdagings in die gesig met die heropening van skole. (Foto: Verskaf.)

Dis vryspeltyd by Alma Skool. Ons wag vir al die maats om op te daag op ’n doodnormale dag.

*Hennie sit met sy oortjie styf teen sy gunsteling musiekmaakding. Maar hiperaktiewe *Johan is nou moeg vir sy boek en gooi dit eenkant. Hy gryp onseremonieel Hennie se musiekmaker onder sy kop uit. Ek neem dit terug, vermaan en gee ’n ander musiekmaker vir Johan, wat gou belang daarby verloor.

Klein *Sipho het intussen Johan se boek in die hande gekry en is nou besig om die glanslagie van die kartonbladsy af te trek. Dis sy gunstelingstokperdjie. Ek vervang gou die boek met ’n ou tydskrif en vis van die papier uit Sipho se mond.

Hier daag *Bongani en sy pa nou op. Bongani is ’n outis. Sodra hy pappa gegroet het, trek hy sy baadjie en skoene uit. Dit irriteer hom. Hy is vandag gespanne. Dit maak dat hy glas ná glas water drink. Ons probeer sy aandag aftrek met ’n pakkie skyfies, maar Bongani het al soveel gedrink dat hy nou tot die volgende fase van die drinkery oorgaan: Hy spoeg die water met ’n boog uit. Dit loop teen die muur af. Sonder om ’n oog te knip, mop my assistent dit op. Ek gee gou Bongani se broodjie. Dit help gelukkig.

Hier daag *Dina nou op. Sy is in ’n rolstoel. Die kind wat haar stoot, vertel dat sy haar hoedjie op die taxi by die venster uitgegooi het. Ek sug. Die arme mamma probeer Dina warm aantrek, maar Dina haat hoedjies. Dina is nieverbaal en verstaan nie opdragte nie. Sy benodig ’n nuwe doek. Kom, Dina, moedig ek haar aan, en wys na die badkamer. Sy kruip badkamer toe – o aarde, sy kruip deur die nattigheid van Bongani se episodes.

Intussen het *Johan een van Bongani se broodjies gegryp en in sy mond gestop. Ek keer gou, maar dis te laat. Die broodjie is reeds in Johan se maag. Ek sug. “Vee af jou mond, Johan,” vermaan ek. Hy gebruik sy bib om te doen wat ek vra. Johan dra permanent ’n bib, want hy kwyl.

Die wonderlike span by EQiGate het van Alma Skool te hore gekom en aangebied dat hul app, wat hulle spesifiek vir skole ontwerp het, gratis by dié skool kan gebruik. (‘n Skermskoot van die app.)

Voeg COVID-19 by bogenoemde scenario, en dis nie meer ’n normale dag nie, maar ’n riller. Maskers? Afstand? Kognitiewe aanleer van higiënereëls? Geen delery van speelgoed, eetgerei en kos nie? ’n Steriele omgewing waar alle oppervlakke blink?

Die skoolbevolking van Alma Skool is geweldig divers. Die gemene deler is dat al die leerders verstandelik erg gestremd is. Maar die funksionering van die leerders wissel geweldig.

Corinne Human, adjunkhoof by Alma Skool verduidelik: “Daar is kinders wat heeltemal verbaal is, ’n selfoon kan gebruik en die praktiese dele van die kurrikulum soos tuinmaak, kook en handwerk baie geniet. Die skool het selfs ’n teetuin, waar van die kinders as kelners optree, ’n slagorkes, ’n koor, sokker- en netbalspanne, sowel as karate en gholf. Maar saam met verstandelike gestremdheid gaan ook ’n groot verskeidenheid sindrome, fisieke inperkings en mediese uitdagings.

“Daar is kinders wat heeltemal nieverbaal is en nie instruksies kan verstaan nie, kinders met spina bifida, ander wat spastiese kwadrupleë in rolstoele is. Heelwat van die leerders het outistiese trekke. Hulle is hipersensitief vir sekere teksture, reuke en smake, hou nie van goed op hul kop of gesig nie en openbaar soms vreemde en onvoorspelbare gedrag.

“Hierdie laasgenoemde leerders is ’n groot uitdaging ten opsigte van hul terugkeer skool toe midde-in die pandemie. Hulle verdra nie maskers op hul gesigte nie, verstaan nie sosiale afstand nie en baie het onderliggende mediese uitdagings soos hartprobleme, swak longe en respiratoriese stelsels wat weens hul sindroom meer geneig is om infeksie te kry. Maklik die helfte van die leerders is op verskillende tipes medikasies vir epilepsie, neurologiese toestande en ander chroniese siektes wat hul immuniteit negatief beïnvloed.

“Ons twee voltydse susters moet behoorlik bontstaan. In normale tye het ons maar ongelukkig altyd hartseer tye waar van ons leerders weens van hierdie toestande sterf.”

Alma Skool het, saam met ander skole vir leerders met gestremdhede, insette aan die onderwysdepartement probeer lewer om die uitdagings uit te lig. Die departement het egter onverklaarbaar in die jongste Staatskoerant aangekondig dat kinders wat geweldig (“profoundly”) gestremd is, en kinders in die jonger klasgroepe, eers in Julie moet terugkeer skool toe.

“Ons sit met die hande in die hare. Hoe gaan ons kinders wat nie kan kommunikeer nie, uitvra oor hul simptome?

“Die wonderlike span by EQiGate het van Alma Skool te hore gekom en aangebied dat ons hul app, wat hulle spesifiek vir skole ontwerp het, gratis kan implementeer. Hulle het ook omvattende opleiding ingesluit. Ons is baie dankbaar dat hulle met ons kom hande vat het. As daar ekstra myle gestap moet word, is dit vir ons kinders. Hulle is absoluut weerloos.”

Isobel Fowler, uitvoerende hoof van belanghebbendes by EQiGate verduidelik hoe die app by Alma Skool implementeer gaan word:

“Ons gaan seker maak dat ons saam met die ouers en onderwysers van Alma Skool waghou oor hierdie spesiale kinders. Die ouers en onderwysers by die skool kan elke oggend voordat hulle skool toe gaan, reeds self die skandering doen. Kernvrae word elke dag gevra en temperatuurlesings word geneem. Die app verwerk die inligting en bepaal die risiko wat dan direk na die betrokkenes by die skool oorgedra word. Indien daar ‘n medium- of hoë risiko bepaal word, kontak ons die personeel of ouers direk om te help. Ons help ook om enige mediese intervensie of behandeling te fasiliteer, of dit verband hou met COVID-19 al dan nie.”

* Skuilname is gebruik om die kinders se identiteit te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.