As dankbaarheid jou dra

(Foto: Steve Halama/Unsplash)

Deur Halrika Breytenbach

Dis 27 Maart 2020. Die eerste amptelike dag van grendeltyd is verby. Ons gesinnetjie sit en kyk grootoog vir mekaar om die etenstafel. Ek en manlief praat openlik met ons dogter oor die onsekerhede van die tyd wat voorlê. Ten spyte van ons eie vrae en vrese, verduidelik ons alles wat ons wel weet tog so diskreet moontlik. Maar ek kyk verby die skans in manlief se oë en sien in sy dapperheid ook sy weerloosheid. Afhanklikheid. Verslaentheid. Wind uit die seile uit.

Ek knip my oë vinnig toe die trane mismoedig my uitsig wil verblind.

Dan hoor ek die sagte Stem in my fluister: “Maak julle begeertes met smekinge en danksegging bekend.”

Ek staan op en gaan haal my dankbaarheidsfles. ’n Groot glasfles wat ek een jaar by ’n vriendin gekry het as verjaardagpresent. En ek weet wat ons kan doen. Dankie sê én dit op papier neerpen. Elke aand van grendeltyd terwyl manlief se kantoor gesluit is, skryf elke gesinslid sy of haar dankies op ’n papiertjie wat ons in die dankbaarheidsfles gooi. Vir later se lees en reflekteer.

Vyftig dae later maak manlief se maatskappy weer oop. My werk is nog nie hervat nie, die bedryf waarin ek werk, is steeds ten volle in grendeltyd. Daar is ’n lang lys van uitdagings. Die nuus pomp ons gedagtes vol positiewe Covid-19-getalle. Tog, die hartseer realiteit van mense wat ernstig siek word en geliefdes verloor, basuin bo-oor dit uit. Alleenheid word ’n nuwe siekte. En daarmee saam verloor duisende mense hul brood en botter. Korrupsie word ’n klaaglied. Ons geliefde land brand.

“Maak julle begeertes met smekinge en danksegging bekend.”

Ons begin om ons dankiebriefies een vir een uit die dankbaarheidsfles te haal en saans hardop vir mekaar voor te lees.

“Dankie dat ons vandag ’n vars brood kon bak.” “Dankie, Jesus, dat ons almal gesond is.” “Dankie dat Pappa vandag saam met my kon laf wees.” “Dankie dat ons almal saam kon fliek kyk.” “Dankie Here dat Prof Plof vandag sy eerste verskyning op die internet kon maak om kinders aanlyn te bedien. U droom, wat in grendeltyd kon realiseer.” “Dankie vir aanlyn lofprysing en aanbidding, waarop soveel meer mense bereik kon word met U liefde.” “Dankie vir my babakatjie wat net betyds voor grendeltyd kon aansluit.” “Dankie Vader dat ons vandag met Oupa en Ouma kon voice call, en dat hulle gesond is.” “Dankie vir die pad wat ons kon uitdraf in ons tuin.” “Dankie vir…alles.”

Halrika Breytenbach. (Foto: Verskaf.)

Ek knip weer my oë vinnig. Maar hierdie trane verblind nie my uitsig nie. Nee, ek kan weer sien. Maar met ander oë, dié keer oë van dankbaarheid.

Dit beteken nie ons was vrygeskeld van die uitdagings wat 2020 meegebring het nie. Maar wat daarbo alles uitstaan, is al die seën, beskerming en deurdra van ’n Almagtige Vader. Ons God wat agter die skerms werk, daar waar ons nie kan sien nie. ’n Liefdevolle en getroue Skepper, Versorger en Voorsiener wat alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet. Dit is wat ek kies om te sien, en ook wat ek kies om op te fokus. Sy goedheid, grootheid en genade.

Soos ons Amerikaanse vriende op 26 November hul dankbaarheidsfees met groot kalkoenetes vier, kom ons hou ook ons eie Suid-Afrikaanse dankbaarheidsfees met melktert en biltong. Kom ons gaan soek al die duisende dinge waarvoor ons dankie kan sê. Vir mekaar, maar ook vir Hom.

En dan, ewe skielik, as dankbaarheid ons fokus raak, lyk die lang lys van uitdagings eensklaps korter.

Liewe vriend, mag dit vir jou so wees. Mag dankbaarheid jou met vreugde vul en jy hierdie jaar van 2020 met arendsvlerke deurvlieg. Enduit. En dankbaar.

’n Paar Bybelverse oor dankbaarheid:

  • “Wees in alle omstandighede dankbaar…” – 1 Tessalonisense 5:18
  • “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” – Filippense 4:6
  • “Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam.” – Psalms 100:4
  • “Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm.” – Nehemia 8:10
  • “Maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” – Jesaja 40:31

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.