Avbob-digkompetisie vier moedertaalstemme

Clinton V du Plessis, skrywer en digter van Cradock. (Foto: Verskaf)

Clinton V du Plessis, skrywer en digter van Cradock, het die Afrikaanse kategorie van Avbob se sesde poësiekompetisie gewen met sy gedig, “Leemte”.

Du Plessis is Woensdagaand saam met 10 ander digters vir hul digkuns in al 11 van Suid-Afrika se amptelike landstale by Avbob se poësiegala-aand, wat in ʼn hibriede formaat aangebied is, bekroon.

“Ons het ʼn ryk erfenis van poësie in Suid-Afrika. Met die oog op Erfenisdag wat op 24 September gevier word, wil ek mense dus aanmoedig om ook hierdie unieke deel van ons erfenis wat as ʼn baken van hoop en inspirasie vir mense dien, te gedenk,” het Carl van der Riet, uitvoerende hoof van Avbob, by die geleentheid wat in Pretoria plaasgevind het, gesê.

Avbob het in 2017 sy poësiekompetisie van stapel gestuur om aan ʼn universele behoefte – die verwoording van die verlies van ʼn geliefde – te voldoen. Sedertdien het dié kompetisies van krag tot krag gegaan.

Meer as 17 000 gedigte is op Avbob se poësiewebwerf beskikbaar. Elke digter ontvang R300 vir hul gedigte wat op die webwerf verskyn en dit beteken dat die projek nagenoeg R5,2 miljoen aan die vestiging van ʼn kulturele bewaarplek bestee het.

“Die ondersteuning van moedertaalstemme was van die begin af ʼn primêre doel van die poësieprojek. Daarom is die redaksie aangemoedig dat 65% van alle gedigte wat ingeskryf is in Suid-Afrika se volkstale moet wees,” het Van der Riet verder gesê.

Elke afdelingwenner het prysgeld van R10 000, ʼn boekbewys ter waarde van R2 500 en ʼn Avbob-poësietrofee ontvang. Gaste wat die geleentheid bygewoon het, het elkeen ʼn eksemplaar van I Wish I’d Said Vol. 5, die jongste bloemlesing met wengedigte, ontvang.

Urban Strings Acoustic String Trio het gaste vermaak met viool- en tjello-uitvoerings. (Foto: Verskaf)

Die bloemlesing van 2022 se kompetisie is saamgestel deur Johann de Lange, hoofredakteur van die Avbob Poësiekompetisie, en prof. Nxalati CP Golele, Xitsonga-akademikus, literêre vertaler en stigtersvoorsitter van die PAN Suid-Afrikaanse Taalraad.

“Poësie getuig van ons lewens, ons liefdes en ons verliese. Dit help ons om groot oorgange deur te gaan, en dit gee vir ons woorde om gevoelens mee te beskryf en die emosies te tem,” meen De Lange.

Die ses topgedigte in elke taal verskyn in die bloemlesing en dit word van ʼn Engelse vertaling vergesel. ʼn Keur van opdraggedigte en vier Khoisan-gedigte uit die Bleek en Lloyd-bundel rond die bloemlesing af.

Urban Strings Acoustic String Trio het gaste vermaak met viool- en tjello-uitvoerings. (Foto: Verskaf)

Rozanne McKenzie en Bolele Polisa was die seremoniemeesters en Urban Strings Acoustic String Trio het gaste vermaak met viool- en tjello-uitvoerings.

Besoek gerus Avbob se aanlyn poësieversameling, wat vryelik beskikbaar is, by www.avbobpoetry.co.za. Daar wag die werk van die digters wat ons help om ons weg deur ons wêrelde te vind deur die ritmes van hul verse, die krag van hul stemme en hul eie lied.

  • Volume 5 van I Wish I’d Said kan bestel word by naledi.online en dit is beskikbaar by toonaangewende boekwinkels. Of SMS die woord “poem” na 48 423 (teen ʼn standaardkoste van R1,50 per SMS) om dit per pos te ontvang, teen ʼn algehele koste van R240 (prys onderworpe aan verandering).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anonymouse ·

Wat ‘n pragtige idee! En om al die moederstale te ondersteun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.