Bakkievragte vol baadjies vir winterwarmte

Sowat 90 motorfietsryers het gehelp om baadjies in te samel vir Helpende Hand Motorfietsklub se jaarlikse “Jacket Run”. (Foto: Facebook)

Motorfietsryers het die afgelope naweek by Barrydale op die grens van die Klein-Karoo en die Overberg in die Wes-Kaap bymekaar gekom om drie bakkievragte vol baadjies aan Solidariteit Helpende Hand te skenk.

Die 90 motorfietsryers wat die baadjies geskenk het, het dit van sover as Kaapstad, Johannesburg en George aangery as deel van Helpende Hand se Motorfietsklub se jaarlikse Jacket Run.

Motorfietsklubs soos die Crusaders, Christian Motorcycle Association (CMA), Silver Wings en No Nonsense het ook aan Saterdag se projek deelgeneem.

Volgens Corrie van der Westhuizen, president van die Helpende Hand Motorfietsklub in die Wes-Kaap, sal die baadjies met behulp van die organisasie se takstruktuur na behoeftiges in Milnerton, Swellendam, Stilbaai, Riversdal en selfs sover as Knysna versprei word.

“Op dié wyse help Helpende Hand ons om seker te maak die skenkings kom by die mense uit wat dit regtig nodig het.”

Drie bakkievragte vol se baadjies is vir dié projek in een Saterdag ingesamel. (Foto: Facebook)

Van der Westhuizen het bygevoeg dat motorfietsryers dit geniet om te gee en help waar hulle kan.

“Ek kan vir jou sê daar is nie veel meer mense wat ek ken met hande en harte wat so oop en gereed staan vir liefdadigheid as motorfietsryers nie.”

Volgens Van der Westhuizen beplan Helpende Hand se motorfietsklub nog twee projekte vir vanjaar; een in Augustus waartydens die motorfietsryers gaan tuine maak by Eljada-nasorgsentrum vir persone met verstandelike gestremdhede in Oudtshoorn en ʼn Nappie Run in Oktobermaand waartydens hulle doeke vir bejaardesorg gaan insamel.

Motorfietsryers of lesers wat die projekte wil steun of meer van Helpende Hand se motorfietsklub te wete wil kom, kan die klub se Facebook-blad besoek.

Corrie van der Westhuizen, president van die Helpende Hand Motorfietsklub in die Wes-Kaap, sê motorfietsryers help en gee graag. (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pine ·

Mooi so biker broers en susters. Trots op julle.So sal dit by mense uitkom wat dit nodig het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.