By speelgoedbiblioteek leer kinders speel én deel

Verskeie plaaslike speelgoedvervaardigers het van hul produkte geskenk en gehalte tweedehandse speelgoed is ook ingesamel. (Foto: Verskaf)

In vandag se gejaagde en tegnologiese gedrewe wêreld het baie kinders én volwassenes die kuns van speel tot ʼn mate verleer.

Boonop laat die ekonomiese druk waaronder huisgesinne gebuk gaan nie altyd toe vir nuwe speelgoed nie.

Daarom het Lize Marais, eienaar van die Milkwood Learning Academy in Gordonsbaai, besluit om ʼn speelgoedbiblioteek in haar gemeenskap te open. Die idee met die biblioteek is om ʼn bekostigbare en boeiende manier te vind om kinders te inspireer én gesinne deur speel nader aan mekaar te bring.

“Speel is ʼn belangrike bousteen van enige kind se lewe, maar ons besige lewens laat dit nie altyd toe nie. Die maklikste en vinnigste is om ʼn kind voor ʼn skerm te plak, so ons wou iets doen om ʼn nuwe kultuur in ons gemeenskap te help kweek.”

Lize Marais tydens die opening van die Milkwood-speelgoedbiblioteek. (Foto: Verskaf)

Die Milkwood Learning Academy vir kinders met leergestremdhede het ses jaar terug sy deure geopen en bied onderrig aan leerders tussen die ouderdom van vier en 13 jaar oud.

Volgens Lize het die idee vir ʼn biblioteek by haar vlamgevat nadat sy ʼn beurs gewen het om die internasionale speelgoedbiblioteekkonferensie vroeër vanjaar in Australië by te woon.

Sy vertel dat speelgoedbiblioteke dáár byna ʼn norm is en op grootskaal deur groot spanne beman word.

“Ek het gesien watse positiewe impak dit nie net vir die kinders inhou nie, maar ook vir ouers en die breër gemeenskap. Kinders leer hoe om te wen en te verloor en bevorder hul fynmotoriese vaardighede. Terselfdertyd bring dit gesinne bymekaar en moedig gehalte-tyd weer aan.”

Die Milkwood-speelgoedbiblioteek het vanjaar op 27 Mei, wat ook Wêreld Speeldag is, sy deure op die Milkwood Learning Academy se perseel oopgemaak en is toeganklik vir alle lede van die publiek, oud én jonk.

Verskeie plaaslike speelgoedvervaardigers het van hul produkte geskenk en gehalte tweedehandse speelgoed is ook ingesamel. Ouers van Milkwood Academy het hand bygesit om die biblioteek te help inrig.

Alle speelgoed word netjies gekategoriseer en soos biblioteekboeke uitgeneem. Lidmaatskap beloop R50 per maand en speelgoed kan tot twee weke op ʼn slag uitgeneem word.

Kinders mag ook by die biblioteek speel. (Foto: Facebook/Milkwood Toy Library)

Alle geld wat ingebring word, word teruggeploeg en aangewend om speelgoed te vervang en aan te koop.

“Ons is nog klein, maar het iets vir almal, óf jy nou iets vir jou baba wil uitneem, óf ʼn bordspeletjieaand met vriende wil hou. Ons lidmaatskapfooie is ook goedkoop vergelyke met die prys van speelgoed wat tans op die rakke is.”

Volgens Lize, wat tans ook op die speelgoedbiblioteekraad van Suid-Afrika (TLASA) dien, duik die vraag van diefstal gedurig op, maar die biblioteek het tot dusver nie gesukkel om hul speelgoed terug te kry nie.

“Ek dink só biblioteek gaan kinders ook ʼn verantwoordelikheidsin leer en aanmoedig om goed wat nie hul eie is nie te respekteer en op te pas. Hulle kan gewoonlik ook kan nie wag om dit terug te bring en weer iets anders uit te neem nie.”

Haar droom is vir die biblioteek om te groei en ander skole en gemeenskappe aan te moedig om dieselfde te doen.

“Op die einde van die dag wil ons mense bymekaar bring deur die mag van speel.”

  • Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na [email protected]
  • Besoek die Milkwood-speelgoedbiblioteek se Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.