Corene Conradie, ’n vrou wat wil help

Corene Conradie (Foto verskaf)

Deur Maretha Botes

Corene Conradie (31) het ʼn geweldige impak tydens die waterkrisis in Graaff-Reinet, asook die omliggende gemeenskap, gemaak. Soveel só dat Gift of the Givers vir haar ʼn pos aangebied het en sy vandag Oos-Kaapse projekbestuurder is vir dié humanitêre organisasie.

Die waterskaarste in die Oos-Kaap het in 2019 krisisafmetings aangeneem toe die Nqweba-dam se watervlak tot 1% gedaal het. “Daar was nie ʼn lewende ding in die dam oor nie. Dooie visse het oral gelê,” sê Corene. Vir menige gesinne in en om Graaff-Reinet, het dit beteken dat hulle drinkwater moes koop. Water uit die krane was besmet en ondrinkbaar.

Corene was tóé ʼn finansiële adviseur. Op ʼn dag het ʼn siek vrou voor haar kantoor inmekaar gesak. Sy was te swak om weer op te staan en kon byna nie ʼn woord uitkry nie. Corene het ʼn ambulans ontbied en saamgery tot by die plaaslike hospitaal, waar die vrou behandeling ontvang het.

Sy is tot aksie geroep toe die vrou vertel hulle het nie geld om drinkwater te koop nie, en dat sy en haar gesin noodgedwonge die besmette water uit die kraan moes drink. Haar hele gesin was dodelik siek met diarree. Corene het die vrou se adres gekry en belowe om water na haar gesin te neem.

Corene was geskok toe sy, met ʼn paar vyf liter waterbottels vir die siek vrou se gesin, in die Umasizakhe-woongebied buite Graaff-Reinet aankom. Dinge was veel erger as wat sy haar voorgestel het, en daar was nie ʼn siel met toegang tot skoon water nie. “Net daar het ek besef die krisis is veel groter as wat ek my kon indink. Daar was nie ʼn druppel water vir enigiemand nie. Babas, ma’s, siekes. Kinders moes skool toe gaan. Wat van higiëne? Hulle het nie water gehad vir skoon klere, bad of kosmaak nie,” sê sy.

Dit het haar gedryf om ʼn projek te begin in die gemeenskap om water te skenk en voorsien aan die minderbevoorregtes wat nie kon bekostig om gebottelde water te koop nie. Corene het ʼn Facebookblad geskep waarmee sy bewustheid van die krisis geskep het en mense vir waterdonasies gevra het. ʼn Besigheidsman en ʼn boer het byna dadelik gereageer en op dié manier het sy ʼn tenker bekom en die boer het sy boorgat beskikbaar gestel waar Corene daagliks kon water kry. Toeriste wat van die krisis te hore gekom het, het bottels water by gastehuise gelos. Intussen het sy haar voltydse werk by die versekeringsmaatskappy prysgegee, want “die behoefte (aan water) was net geweldig groot” en sy kon nie alles behartig nie. “Dit was eintlik oorweldigend,” sê sy. “My persoonlike krisis was egter dat ek, trotse enkelma, nou sonder ʼn inkomste was en drie dogters gehad het om voor te sorg.”

(Foto verskaf)

Vir ʼn ekstra inkomste om na haar kinders om te sien en huur te betaal, het sy saans gebak en soggens bestellings afgelewer, waarna sy haar werk onder die gemeenskap voortgesit het.

Die impak van Corene se projek was só groot dat Gift of the Givers daarvan te hore gekom het en toe ook trokke vol water Graaff-Reinet toe aangery het. Hulle het dertien boorgate by onder meer ʼn hospitaal en verskeie skole geboor sodat die gemeenskappe self water kon bekom. Die terreine was dag en nag toeganklik vir enigeen wat water nodig gehad het.

Corene se storie

Corene meen die waterkrisis in Graaff-Reinet is steeds nie heeltemal opgelos nie. (Foto verskaf)

Corene vertel: “Ek is ʼn Graaff-Reinetter in murg en been. My ma (ook ’n enkelma) was verlam en my ouma het haar gehelp om my groot te maak. Ek het nooit my pa geken nie. Saam met my ouma, het ek na my ma omgesien. Ek was nog altyd lief om te gee en uit te reik na ander.

Toe die waterkrisis oor my pad gekom het, was dit ʼn natuurlike ding vir my om te help. Ek het soveel passie en liefde vir mense. Ek het geleer met my ma se situasie om mense, ongeag hulle situasie, met respek te behandel. Om hulle menswaardigheid te respekteer en niemand te laat voel dat hul niks werd is nie.”

In die humanitêre werk wat nou haar dae vul, laat sy elke persoon voel dat hulle gewaardeer en gerespekteer is. “Dit is nie maklik om bakhand aan die ander kant te staan en vra vir kos of basiese dinge om aan die lewe te bly nie,” sê sy.

Die waterkrisis in Graaff-Reinet is steeds nie heeltemal opgelos nie. “As dit nie was vir die dertien boorgate nie, weet ek nie hoe ons dorp sou oorleef nie. Ons het dikwels wateronderbrekings. Baie van die areas sit sonder water. Maar ons het hoop, want ons het hulp,” sê sy.

Vandag bedien Coreen, as Oos-Kaapse projekbestuurder van Gift of the Givers, die hele Oos-Kaap en is die werk wat sy en haar span doen dikwels op sosiale media en TV te sien. Sy sê: “Dit gee my soveel vreugde om hierdie werk te doen. Die saadjie van omgee is al as kind in my hart geplant toe ek en my ouma vir my ma moes sorg. Dit was altyd haar wens om mense te kan help. Sy het altyd gesê as die Here vir haar kans gee om te kan loop, is dit die eerste ding wat sy sal doen. Sy gaan almal help. Sy wou net gee waar daar nood was. Ek word op ʼn wonderbaarlike manier gebruik om dít te kan uitleef, nie net as my passie nie, maar ook as my daaglikse werk. Dit is werklik ʼn seën. Dit is wonderlik om te weet ek kan ʼn verskil maak in duisende mense se lewens.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

En die munisipaliteit doen niks nie. Hulle kon mos ten minste die boorgate gesink het en tenks opgerig het. Eish.

Rose ·

Nee wat … die regering sal veel eerder die geld en tyd spandeer aan ‘n massiewe onnodige vervlakste vlag!

Rose ·

Jy is ‘n wonderlike siel en ‘n voorbeel vir elk van ons!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.