David Kramer met prys vir lewensbydrae bekroon

David Kramer is by die 58ste Fleur du Cap-toekenningsgeleentheid gehuldig vir sy lewensbydrae. (Foto: Jeffrey Abrahams)

Die sanger en liedjieskrywer David Kramer is op 26 Maart by die 58ste Fleur du Cap-toekenningsgeleentheid gehuldig vir sy lewensbydrae tot die plaaslike en internasionale kuns- en vermaakbedryf.

Peter Cazalet, ʼn Suid-Afrikaanse balletdanser en stel- en kostuumontwerper, het ook ʼn lewensbydrae-toekenning by die geleentheid ontvang.

Fleur du Cap het David vereer vir sy bydrae as ʼn nasionaal- en internasionaalbekende kunstenaar, sanger, liedjieskrywer, kitaarspeler, skepper en vervaardiger van ikoniese musiekteaterproduksies. Hy word ook geloof vir sy werk as argivaris van Suid-Afrikaanse musiek en stories.

Die Fleur du Cap-teaterpryse is in 21 kategorieë uitgedeel en 71 produksies het hiervoor in aanmerking gekom.

Margit Meyer-Rödenbeck en Marinda Engelbrecht se produksie, Vlooi en die geheim/Kipper and the Secret, het die prys vir beste teaterproduksie vir kinders en jongmense gewen.

Karatara se Gideon Lombard het in twee kategorieë met die louere weggestap: vir beste beligtingsontwerp en beste klankontwerp, oorspronklike musiek of lewendige optrede. Hy is vroeër vanjaar ook met die Fiësta-prys vir beste teaterontwerp vir Karatara bekroon.

Volgens die beoordelaars het 2022 teater van hoë gehalte opgelewer. “Die 71 produksies wat in aanmerking gekom het, het weereens die veerkragtigheid van Suid-Afrikaanse teatermakers gedemonstreer.”

Margit Meyer-Rödenbeck en Marinda Engelbrecht se produksie, Vlooi en die geheim/Kipper and the Secret, het die Fleur du Cap-prys vir beste teaterproduksie vir kinders en jongmense gewen. (Foto: Jeffrey Abrahams)

Die beoordelaars was Africa Melane (voorsitter), Hadley Tituss, Mariana Malan, Marina Griebenow, Tracey Saunders, en drs. Beverley Brommert, Lwando Scott en Wayne Muller.

Dit is veral produksies wat in Kaapstad en die omliggende gebiede aangebied is, wat groot lof ontvang het. “Hierdie vertonings was gereeld meesleurend, dikwels gewaagd, soms asemrowend en, wanneer dit die nodigste was, baie snaaks. Dit het terselfdertyd ʼn verskeidenheid komplekse emosies by gehore ontlok.”

Die Fleur du Cap-teaterpryse is tydens ʼn glansgeleentheid by die Oude Libertas-amfiteater in Stellenbosch uitgedeel.

Besoek Fleur du Cap se webwerf vir die volledige lys van wenners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.