De Jong Mark: nog bloedjonk, maar met groot planne

Dis heerlike lente en Suid-Afrikaners gaan weer hul tyd buite deurbring. Om die rede gaan Maroela Media na verskillende markies in die land kyk waar ʼn mens op warmer dae kan uitspan. Hou dop vir nog artikels oor markte.

Churros by die mark sal enige soettand se mond laat water. Foto: De Jong Facebook-blad.

Daar is iets aan ʼn mark wat betowerend is, maar wat presies dit is en wat mense aanhou soontoe lok, is ʼn kuns, iets waarop jy nie altyd jou vinger kan lê nie.

Is dit die musiek? Is dit die geure wat jou neus prikkel en jou honger maag in ʼn rigting laat koers kies? Is dit die snuisterye wat ten toon gestel word? Die mense? Dalk ʼn pretloop saam jou brakkie?

Eintlik is dit eerder ʼn wetenskap as ʼn kuns om ʼn suksesvolle mark aan te bied. So glo 23-jarige Megan Grobler en 22-jarige Billy Janse van Rensburg wat hul onderskeie studierigtings gebruik het om ʼn mark te begin en nou hul agtste De Jong Mark in die hartjie van Pretoria gaan hou. “By ons eerste markie was daar sowat 40 of 50 mense, meestal maar ons familie en vriende. Ons het toe net 13 stalletjies gehad.”

Wanneer die volgende mark op Saterdag 5 Oktober plaasvind, sal hulle met 30 stalletjies spog. “Ons verwag dan om so tussen 300 en 350 mense by die mark te sien.”

Die twee studente is tans besig om aan die Universiteit van Pretoria te studeer en presies te leer wat ʼn sakeonderneming laat werk. Grobler doen tans haar meestersgraad in verbruikerswetenskap (kleding en kleinhandelbestuur), terwyl Janse van Rensburg ondernemingsbestuur studeer.

Maar hoe het De Jong begin? “Ek en Billy het laasjaar 1 Desember besluit om ʼn tweedehandse winkel te hou, sommer buite my huis in Wenningstraat, in Groenkloof. Ons het ʼn klomp ou klere bymekaar gemaak tussen ons gesinne, ons tweedehandse klere, en ons het so goed gedoen dat ons besluit het om ʼn markie te begin. Omdat dit in die lyn is van wat ons albei studeer, gee die mark ons ook praktiese ervaring,” vertel Grobler.

Tans huur die span die terrein waarop die mark gehou word, maar selfs hier het Grobler groot planne. “Die idee is om ʼn ‘adopt-a-spot’-inisiatief van stapel te stuur, waar ons die terrein namens die munisipaliteit sal onderhou. Die terrein het soveel potensiaal. Ons sal die gras sny, ʼn bietjie meer bome plant. Ons weet nog nie of dit moontlik is nie, maar dit is iets waarna ons streef. Daar was al probleme met die terrein wat leeg gestaan het wat veiligheid betref, maar ons glo ons kan verandering bring. Die gemeenskap is ook opgewonde oor die lewe wat weer hier in die parkie geblaas word.”

Hondevriende is ook by die mark welkom. Foto: De Jong Facebook-blad.

Die De Jong Mark is ook ʼn mark met hart en hou ʼn park-pretloop en ʼn blaf-draf. Dit begin en eindig by die markie, langs die De Jong-duiksentrum in Nieuw Muckleneuk. Die pretloop is 5 km, terwyl die stappie saam jou brakkie slegs 2,5 km is, omdat diere nie in die trimpark, wat deel vorm van die 5 km-pretloop, toegelaat word nie.

Alhoewel die pretloop R70 kos, word ʼn gedeelte van die geld aan die aangrensende Austin Roberts-voëlreservaat, wat tuiste vir 170 voëlspesies bied, geskenk. “Ons skenk ook voëlkos, omdat hulle nie genoeg geld het om vir hul diere kos te koop nie.” Buiten die goeie daad waartoe pretlopers bydra, kry elke pretloper ʼn medalje en Discovery Vitality-punte.

Daar is ook pryse op die spel vir die persoon wat die meeste soos sy hond lyk, die grootste gesin wat inskryf, asook die oudste persoon wat aan die pretloop deelneem.

Soos in die naam gesuggereer, is die mark nog splinternuut, maar die De Jong Mark is ook aan die groei. Op 1 Desember gaan dit ʼn mark by Loftus-park, in Kirkness-straat, hou. Die eerste mark hier gaan vir die De Jong-span ekstra spesiaal wees, nie net omdat dit een jaar is sedert hulle hul tweedehandse sypaadjiewinkel gehou het nie, maar ook omdat die legendariese musikant Koos Kombuis die dag daar gaan optree. Grobler sê die plan is om elke drie maande die mark in Loftus Park winkelsentrum te hou. Die mark in Nieuw Muckleneuk word op die eerste Saterdag van elke maand gehou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MH ·

Dit is lekker om so ‘n positiewe berig te lees oor ons jong mense!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.