Dié app is blomkykers se beste vriend

Die twee vroue wat Clanflora geskep het: Jeanette Vierbergen (links) en Marietjie Smit (regs).

(Foto met vergunning van Cederberg ClickClick)

Marietjie Smit van Clanwilliam se liefde vir die natuur, haar splinternuwe makrolens en gedetermineerde geaardheid is drie van die redes waarom Clanflora, ʼn blomtoepassing vir blomkykers van haar streek, gerealiseer het. Sedert Augustus haal Clanflora die hoofpyn uit die identifisering van ons Wes-Kaapse blom-erfenis, vertel Sarie Marais-Nell.

Namakwalandse blomkykers kon vanjaar vir die eerste keer met die druk van ʼn knoppie vasstel of die blom wat hulle pas in die veld afgeneem het, ʼn kalkoentjie, bobbejaantjie, ʼn hongerblom of spinnekopblom heet. Selfs al soek jy ʼn blomnaam in die afgeleë Biedouw-vallei, sal Marietjie Smit en ʼn plaaslike webblad-ontwerper, Jeanette Vierbergen, se Clanflora-app help. En dis alles gratis.

Sedert Marietjie 30 jaar gelede as bruid op die plaas Jakkalsvlei ingetrek het, het die blomwêreld haar gefassineer. “Ek het geen botaniese agtergrond nie, maar ek het gesorg dat ek plante se streeksname soos katnaels, gemsbokhorinkies en afveebossie leer ken.

“Streeksbenamings verskil dikwels tussen verskillende streke en dit veroorsaak verwarring; wetenskaplike name is hier die redding.

“Ek het jarelank foto’s sonder ʼn makrolens geneem. Toe ek dit uiteindelik in 2019 kon koop, het ek en my nuwe lens die fyn detail van blomsoorte rondom my verken. Verwonderd oor die skoonheid en groot verskeidenheid van die skepping, het die begeerte binne my ontstaan om dít wat ek opnuut kon beleef, met ander mense te deel – swaksiende of ouer persone wat nie self hierdie gebiede kan besoek nie. Te midde van al die wonderwerke het ek gebid en vir die Here gevra hoe ek dit met ander kan deel?

“Dis toe dat die idee van ʼn blom-toepassing by my posvat.

“Ek sou nooit die app kon ontwikkel sonder Jeanette se kennis en vasbyt-geaardheid nie! Gelukkig hou sy ook altyd van ʼn uitdaging. Terwyl ek die foto’s en data uitsorteer, het sy die app ontwikkel.”

Marietjie en Jeanette wou graag die eerste fase van die app in 2020 beskikbaar stel. Toe Covid-19 almal briek, was hulle onseker – wanneer sou mense weer kon rondry en veldlangs gaan blomme kyk?

“Uiteindelik het die inperkings vir ons kans gegee om nog harder hieraan te werk, met Jeanette wat dikwels eers na-ure hieraan kon aandag gee.

‘n Skaars blom, “die handjie” wat ‘n groot gunsteling onder baie van die vroue is wat jaarliks die Clanwilliam blomfees in die geskiedkundige Blomkerkie aanbied. (Fotos: Marietjie Smit)

Marietjie en haar man, Wimpie, het die foto-soektog gekombineer met kampeerdery in verskillende streke – die Weskus vanaf Langebaan se Nasionale Weskuspark, deur die Sederberge en verby Clanwilliam na Namakwaland en Nieuwoudtville: Marietjie wat soms op haar maag moet lê om foto’s van blom en struik tot sy reg te laat kom; Wimpie wat as ‘skadu-man’ tussen die son en plante moet staan om te verseker die son veroorsaak nie snaakse skaduwees nie; Wimpie wat dikwels verder stap terwyl Marietjie foto’s neem – en dan opgewonde roep wanneer hy ʼn spesie opmerk wat sy nog nie gekiek het nie.

“Makrolense benodig ʼn goeie driepoot, maar gewone driepote deug geensins wanneer ʼn mens op knie- of maaghoogte foto’s neem nie. Deesdae is ek gewapen met my Nikon-kamera en makrolens, ʼn gorilla-driepoot en ʼn waterdigte seil vir wanneer ek op my maag moet lê vir foto’s. Ek noem die driepoot my ‘spinnekop’ weens die vreemde vorms wat gorillapote moet aanneem as ek op die grond werk.”

Aan die einde van elke lente, wanneer die lekker deel van kampeer en pieknieke tussen die blomme verby is, begin haar eintlike groot werk: Eerstens moet sy deur al die foto’s sif en die bestes behou – watter foto’s wys die blom, blaar en plant die beste? Op watter foto’s wys die grootte, kleur en vorms beter? Daarna meer inligting soek van elke spesie en sy klassifikasie – soektogte regdeur haar ou en nuutaangekoopte blomboeke plus internet; met foto’s van ongeïdentifiseerde spesies wat sy tot haar frustrasie in ʼn lêer met die naam ‘onbekend’ moet bêre.

“Dan raak die opgewondenheid groot as ek ʼn week later per geluk inligting raaklees en ʼn onbekende spesie kan klassifiseer.

“Hierdie proses was soms moeilik! Maar ek glo altyd as ʼn mens kan lees en skryf, is alles moontlik sodra jy ʼn sterk wil en deursettingsvermoë daarby voeg.

“Ek ken steeds nie die wetenskaplike name uit my kop nie, maar ek bereik my doel – om die genieting wat ek hieruit kry met ander te deel,” sê Marietjie oor Clanflora wat vroeg Augustus op Google Play Store beskikbaar gestel is. “Daar is reeds 616 spesies op die app gelaai – 120 spesies is endemies aan die Wes-Kaap en 62 van hulle endemies aan die Noord-Kaap. Ongelukkig is van hulle bedreig en/ of kritiek bedreig. Clanflora dui ook al hierdie detail aan.”

Clanflora is intussen meer as 500 kere afgelaai deur stappers, natuurliefhebbers, veld- en toergidse wat graag meer inligting aan hul groeplede wil gee, asook landbouers wat almeer groen boer. Selfs Europeërs het reeds navraag hieroor gedoen.

“Dis heerlik om die app uiteindelik op Google Play Store te sien. Maar die hele proses is nog ver van klaar, want soms blom ʼn plant net voor- of nadat ons ʼn streek besoek het. Een spesie blom net een middag per jaar! As ons dit misloop, beteken dit die app bly onvolledig. Clanflora bly dus ʼn langtermynproses. Ons beoog om in Augustus 2023 Clanflora op iStore te laai vir iPhone-gebruikers.”

Waarom werk hulle so hard aan ʼn gratis app? “Die blomme is tog gratis aan ons almal gegee om te geniet. Ons leuse is juis ‘Bewonder en bewaar ons blommeprag’. Om uitgawes te help dek, is daar wel ruimte binne die app vir adverteer of spesies aanneem; dit stel ons in staat om verdere navorsing te doen en om besighede van die streek te ondersteun.”

Watter blomsoorte bekoor haar die meeste? “Dis onmoontlik om enigiets uit te sonder. Sodra ek glo daar kan geen verbetering wees op dit wat ek reeds beleef het nie, verras Moeder Natuur my opnuut.

“Tóg is Nieuwoudtville se groot verskeidenheid bolspesies uitsonderlik – die streek word nie verniet die plantwêreld se bolplant-hoofstad genoem nie,” verklaar Marietjie en vertel van haar droom om ook nog die Knersvlakte en Namakwaland se vetplante vir ʼn app af te neem. “Terwyl ek nie vooraf geweet het watter moeilike berg dit sou wees om Clanflora te skep nie, weet ek beslis dat my vetplantdroom ʼn groot uitdaging inhou. Maar wie weet – terwyl Wimpie getwyfel het of ek ooit Clanflora sou kon skep, is my sukkulente-droom dalk ook moontlik!”

Belangrike inligting oor Clanflora:

(Grafika verskaf)

Tans dek die toepassing 56 Families, 210 Genusse en 616 Spesies.

Clanflora dui tans 10 skaars spesies, 26 kwesbaar, 8 bedreig, 20 naby-bedreig en 3 krities-bedreig aan.

Hoe werk dit? Clanflora bied agt kriteria waaruit jy kan kies wanneer jy ʼn blom wil identifiseer: Jy kan besluit of jy die kleur, vorm of grootte van die blom, of die blaarvorm of hoogte van die plant wil gebruik; ook die streek waarin dit groei. ʼn Mens kan een of meer kriteria kies om ʼn spesie te soek.

Die app bevat wetenskaplike en streeksname, ʼn SANBI-rooilys, of dit endemies is, ʼn plant se blomtyd, habitat, streek, en ʼn kort beskrywing.

ʼn Boekmerk-funksie is handig om spesies wat jy reeds gesien het af te merk of as latere verwysing te gebruik.

  • Clanflora verwys na ʼn groep blomme, nie na die Clan van Clanwilliam nie.
  • Wil jy betrokke raak by navorsing oor die geskiedenis van streeksname en die medisinale gebruik van plante? (dink byvoorbeeld aan die agtdae-geneesbossie). Loer gerus by www.clanflora.co.za of skryf vir Marietjie by [email protected]
  • Wonder jy of dit slim is om nou te gaan blomme kyk? Bel eers Weskus Toerisme se Blomlyn vir kundige advies hieroor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Delia ·

Mooi storie. Voorspoed julle. So sien ons God se handewerk in die binnekant van n blom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.