Die reispad na die Hemel of Hel

Die 1866 Hollandse sklidery van “De breede en de smalle weg”. (Foto: Verskaf)

Miskien het jy die prent vir die eerste keer in ’n klaskamer gesien, of ’n dokter se spreekkamer, of in ’n hospitaal. Óf dalk het iemand dié prent persoonlik aan jou gegee.

André Venter (71) was vyf jaar oud toe hy die heel eerste keer die afdruk van die 1866-skildery “De breede en de smalle weg” in sy oupa se huis gesien het.

“Dit het ’n ontsaglike indruk op my lewe gemaak. Ek kon nie Nederlands lees nie, maar die beeld was vir my genoeg,” vertel André.

Maar hy voeg by dat die 1866-skildery verskillend is as sý breë en smal pad wat hy byna 40 jaar later sou laat ontwerp het.

“Die Nederlandse een het nie ’n bekeringspad nie”.

André en sy vrou Hester woon saam met hul kinders en vyf kleindogters op ’n plaas buite Stellenbosch. Hy is nie ’n wêreldbekende wynboer nie, maar eerder die spoorslag vir die wêreldbekende breë-en-smal-weg-plakkaat wat hy byna 25 jaar gelede vir die eerste keer laat ontwerp het.

Maroela Media het met André gesels om meer uit te vind oor dié welbekende skildery se geskiedenis en die dryfveer agter dié prent wat al baie se lewenspad gekruis het.

“Dit is ’n woeste storie, maar eindig pragtig. My pa was ’n wonderlike mens gewees, dit was net die drankprobleem.”

As kind het hy 57 keer getrek, en moes hy in 27 verskillende skole aanpas. Met sy alkoholis-pa het sy ma vir hulle stabiliteit gebring en hulle goed grootgemaak.

Sy pa het vroeg in die 1980’s tot bekering gekom.

“Toe is ek al op universiteit en getroud. Ek het my pa tussen die boemelaars gekry en hom daar weggedra. Hy het tot bekering gekom en nog vir 10 jaar by ons in Pretoria gewoon,” vertel André.

Hulle het op ’n plaas in Hartbeespoortdam gewoon waar hy vir die staat gewerk het. Hy het later sy eie besigheid begin waarna hy homself in die boubedryf gevestig het. Hy het, onder meer, staalstrukture gebou en later sy eie winkels en fabrieke gebou en verhuur in Suid-Afrika, Lesotho, Botswana en Namibië.

Deur sy besigheid het die Here op verskillende wyses die uiteindelike ontstaan van die gewysigde breë-en-smal-weg-plakkaat moontlik gemaak.

Hester en André Venter. (Foto: Verskaf)

André hou van spoed. Dit was een aand toe hy op ’n teerpad in Botswana gery het, wat die Here hom op ’n onvergeetlike wyse gewaarsku het om sy spoed te verminder. Teen ’n heelwat stadiger spoed het André kort ná die waarskuwing in ’n trop beeste in die pad vasgery. Buiten vir ’n paar skraapmerke het hy byna ongedeerd van die ongelukstoneel weggestap. Kort hierna het hy ’n huis in Stellenbosch gebou. Hy het sy neef, wat toe ’n alkoholis was, gevra om die houtwerk te doen in ruil vir ’n woonstel op die plaas, asook ’n pensioen om af te tree. Maar op een voorwaarde dat hy moet ophou drink.

Die neef het ingestem en as deel van sy rehabilitasie is hy ook saam met André-hulle kerk toe. Hoewel André ’n lidmaat van die Gereformeerde kerk Stellenbosch is, het hy tóé sy neef na die NG kerk geneem, “want hulle het musiek gespeel”, vertel hy laggend.

“Tydens so ’n erediens vra die predikant een dag: “Waar is die ou prent waar mens sommer kan sien watter sonde die mense doen?” Toe hy dit sê, toe kry my hele lyf ’n rilling en ek weet dít is waarom die Here my daai nag in Botswana gespaar het. En dít is waar die idee vir die nuwe prent begin het.”

“Ek het die verkeerde goed by my pa gesien, terwyl my ma die mooi kant vir ons gebring het. Dus, die verkeerde en die regte pad.”

Die breë en die smal weg.

Vandag bestuur sy seuns sy besigheid en is André die afgelope 25 jaar op Stellenbosch, waar hy deurentyd besig is met die verspreiding en ontwerp van die plakkate.

Sedert die eerste plakkaat 25 jaar gelede die lig gesien het, is sowat 2,7 miljoen kopieë gedruk. Die plakkaat is in 49 tale beskikbaar en word wêreldwyd versprei – plaaslik, oor die hele Afrika-kontinent, op ’n skip in Italië, in Alaska, Nieu-Seeland… Die lys is lank, en so ook die getuienisse van mense wat sê hulle herken die prent. Of, as dit nie vir daai plakkaat was nie, sou hulle nie tot bekering gekom het nie.

André deel een so ’n wonderwerk. Hy en sy vrou was op pad Rusland toe op ’n skip in die Baltiese see.

“Ek sit by ’n tafeltjie en oorkant my sit ’n Amerikaner. Later hoor ek sy naam is dr. André Delport en hy het van Suid-Afrika na die VSA geïmmigreer. By my lê ’n klomp opgerolde Russiese plakkate. Die man vra my wat is dit, waarop ek antwoord: “Dit is plakkate van die breë en die smal weg,” sê ek en rol dit oop. Hy sê vir my: “Jy sal dit nie glo nie, maar kyk hier,” en hy wys vir my ’n foto op sy skootrekenaar van sy vrou voor ’n skool in Kenia met die plakkaat by haar. ’n Vrou het dié plakkaat vir hom in Sierra Leone, in Wes-Afrika gegee.

“Terug in Suid-Afrika koop ons eendag ’n botteltjie heuning in die Kaap. Dit is sulke heerlike heuning afkomstig van Malmesbury en ons wil graag nog bekom. Ons stuur iemand om heuning te gaan haal. Maar voordat hy ry, sê my vrou hy moet plakkate saamneem as geskenk vir die mense. Hy kom terug en sê die vrou ken die plakkate, haar broer het dit van Stellenbosch af gebring.

“Ek bel haar en vra waar het haar broer dit gekry, waarop sy antwoord” “By ’n tandarts, iemand het dit daar uitgedeel”.

Ek sê vir haar daai iemand was ek, en vra vir haar wat het sy met daardie plakkate gemaak. Sy sê sy het daarvan vir die kerk gegee, en ander na Afrika gestuur, na Sierra Leone, aan ’n ene dr. André Delport van Amerika.

“Daar het soveel baie ander wonders gebeur. Ek kan nie stilbly daaroor nie.”

Juis hierom is hy besig om ’n boek saam te stel met die titel “Wat kom maak die duiwel hier?”

Die oorspronklike Breë en smal weg-plakkaat het intussen uitgebrei na ’n hele reeks plakkate en is gratis beskikbaar op die webwerf God’s Answer.

André vertel: “Die plakkaat Hemel of Hel is verlede jaar voltooi. Dit is ’n groter plakkaat en bevat baie meer inligting. Dit het my vier jaar geneem om te ontwerp. Daar is ook ’n pamflet oor hoe om die plakkate uit te deel. Ander plakkate sluit in, God se Antwoord (Bybelgeskiedenis in Afrikaans, Engels en Portugees), Die Grootste Wet en Christus se Opdrag.’

Die Grootste Wet het ook weergawes spesifiek vir juniors én seniors”

En wat is die grootste wet?

“Natuurlik die liefde,” sê André.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter9 ·

Ek het hierdie plakkaat by my Oupa- hulle se huis op die plaas, hier iewers in die 60’s gesien en onthou dit nog in detail.
Die toneel waar almal so partytjie hou en drink het so ‘n impak op my gehad dat ek ‘n ‘vrees’ vir ‘n kroeg of bottelstoor ‘ontwikkel’ het. Ek gaan nog steeds nie in ‘n kroeg in nie ( sê nie dat ‘n kroeg noodwendig boos is nie).
Seën met die goeie werk- wat duidelik ‘n roeping is.

jzjz05 ·

Het ook die plakkaatin in die veertigejare in my oupa se huis vir die eerstekeer gesien,het ook n inpak op my lewe gehad.Toe ek nog klein was het iets my altyd gehinder van die plakkaat en dit was hoe om verby daardie leeu te kom net voor die pad op na die hemel vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.