Die wonder van dankie en asseblief

(Foto: Lizma van Zyl)

My ma het dit altyd gesê (so dit kan net waar wees): “Met die hoed in die hand kom mens deur die hele land”. Die ou spreekwoord beteken eenvoudig ʼn beleefde mens word oral gehelp. En om beleefd te wees beteken jy volg die reëls van goeie gedrag.

Wat “goeie gedrag” is, is die miljoenrandvraag, maar ek glo die universele wortelstelsel is om vrygewig met “dankie” en “asseblief” om te gaan.

Daar is min dinge wat my vel so kan laat kriewel as mense nie “dankie” en “asseblief” in hulle woordeskat het nie. ʼn Mens hoor dikwels “tyd” is die grootste geskenk wat jy vir iemand kan gee en “asseblief” en “dankie” beteken jy respekteer en het waardering vir die tyd wat iemand op jou spandeer en die moeite wat daardie persoon vir jou doen – of dit nou in ʼn professionele of persoonlike hoedanigheid is.

Marcel Proust het gesê: “Laat ons dankbaar wees vir die mense wat ons gelukkig maak; hulle is die sjarmante tuiniers wat ons siele laat blom”.

Ek het onlangs ʼn versoek ontvang van ʼn oudkollega wat nuwe werk soek en wou hê ek moet vir hom ʼn goeie woordjie doen. My selfoonnommer is dus aan die potensiële werkgewer verskaf, wat my sou bel en met vrae oor sy gedrag en prestasie peper. Ek het dit al baie gedoen en dis vir my lekker as my (eerlike) indrukke vir die persoon ʼn nuwe loopbaandeur kan help oopmaak. In dié geval was ek egter so half steeks, want hoewel die persoon “sterk aanbeveel” kan word was sy vinnige WhatsApp-boodskap met die kennisgewing (let wel) dat ek as sy verwysingspersoon optree, sommer net bot en aanmatigend. Soveel so dat ek dit vir ʼn dag of wat sterk oorweeg het om dit nie te doen nie. Die woorde “asseblief” en “dankie” het geskitter in hulle afwesigheid.

Wanneer dit by WhatsApp en ander teksboodskappe kom: onthou, “a lot gets lost in translation” en “dankie” en “asseblief” kan hier baie pap op die grond voorkom. So, of jy nou ʼn waarderende teksboodskap stuur, vir die teller in jou plaaslike supermark glimlag, jou vriendin komplimenteer op haar lekker kos die vorige aand, die ontvangsdame by die tandarts bedank dat sy vir jou ʼn gaatjie maak vir jou gaatjie – dis erkenning en dit laat ons almal se harte ʼn bietjie warmer klop. En ja, dit hoef nie altyd met woorde te wees nie – ʼn blom, sjokolade, ʼn warm glimlag, ʼn soen op die voorkop, ʼn drukkie of selfs net die knik van die kop kan jou waardering oordra.

Dieselfde geld vir “asseblief”: dis ʼn woord wat konflik kan ontlont, gemoedere bedaar en brûe bou. Stel jou voor as elke bestuurder of leier net met die gee van ʼn opdrag “asseblief” sal byvoeg – dit gaan jou die taak mos sommer met veel meer energie en welwillendheid laat verrig. Deur “asseblief” te sê word dit ʼn versoek en voel dit nie meer soos ʼn opdrag nie.

Wanneer ons “asseblief” en “dankie” gereeld en met opregtheid gebruik, raak ons al hoe meer bewus van selfs die kleinste gebaartjie wat ons lewe verryk. Ons begin dan met dankbaarheid leef en almal weet tog, ʼn dankbare mens is ʼn gelukkiger mens.

ʼn Laaste gedagte: minder ís meestal meer… Ek dink aan ʼn dankie-sê-nota wat Marilyn Monroe destyds aan ʼn amptenaar van die Duitse konsulaat geskryf het:

Dear Mr. Von Fuehlsdorff,

Thank you for your champagne. It arrived. I drank it and I was gayer again.

My best,

Marilyn Monroe

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andries ·

Asseblief en dankie is bloot net goeie maniere wat die lewe vir almal soveel aangenamer maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.