Diereskuilings: Skenkings stroom in; pleegsorgdiere stroom uit

(Foto: Facebook)

Die radio-omroeper Martin Bester, Jacaranda FM en die Good Morning Angels-fonds, het vandeesweek ingegryp ná talle pleidooie om hulp namens die Wollies Animal Project-diereskuiling in die noorde van Pretoria wat tans onder erge finansiële druk gebuk gaan.

Carla de Beer, woordvoerder van Wollies, het onlangs aan Maroela Media verduidelik ʼn instroming van diere na die skuiling in Desember verlede jaar het ʼn bykomende las op die skuiling geplaas. Benewens Wollies se veeartsrekening wat by sowat R100 000 draai, huisves die skuiling sowat 700 honde en 400 katte wat daagliks gevoed moet word.

Die Good Morning Angels-fonds het Woensdag R50 000 aan dié skuiling geskenk om te help met die diere se mediese uitgawes. Piet van Vuuren van SPAR het ook R30 000 namens die supermarkgroep geskenk.

“Julle het absoluut geen idee hoe baie dit vir ons beteken nie,” het Cilla Trexler, eienaar en stigter van Wollies, aan Martin Bester gesê.

Trexler het ook gesê die skuiling is sedert Dinsdag oorval deur mense wat honde in pleegsorg wil neem tydens die afsonderingstydperk. Dié tydperk is Donderdag om 23:59 in werking gestel.

“Daarom wil ons vir die publiek dankie sê vir hul ongelooflike ondersteuning. Al ons klein hondjies is uit, maar soveel mense het ook aangebied om van die ouer diere huis toe te neem, wat wonderlik is.”

Talle honde van die New Beginnings-skuiling in Bloemfontein is in pleegsorg geplaas. (Foto: Facebook/New Beginnings)

Die New Beginnings-dierewelsynsorganisasie van Bloemfontein het ook vandeesweek via sosiale media ʼn beroep op die publiek gedoen om skuilinghonde vir die afsonderingstydperk in pleegsorg te neem.

Dié organisasie fokus op liefdadigheidswerk in die Bloemfontein-, Vryburg- en Christiana-gebiede.

New Beginnings het tans sowat 50 hawelose honde in hul sorg en het sedert die Facebook-pleidooi Woensdag reeds 15 honde in pleegsorg geplaas.

Herman Toerien, meningstukskrywer vir Maroela Media, vertel hy het self by dié organisasie ʼn hond in pleegsorg geneem.

“Ons het die hond Woensdagmiddag gaan haal – die mooiste hond met die mooiste geaardheid. Viking, soos ons hom gedoop het, is veral reeds groot maats met een van ons ander honde. Die twee wat ons reeds het, het ons ook by New Beginnings aangeneem. Ons is nie van plan om Viking terug te neem skuiling toe wanneer die afsonderingstydperk verby is nie,” sê Toerien.

Belangstellendes in die Bloemfontein-omgewing kan New Beginnings by 072 636 6663 skakel vir meer inligting.

Dit lyk asof daar wêreldwyd ʼn stormloop is om troeteldiere in pleegsorg te neem tydens afsonderingstydperke. Die Animal Friends Humane Society in Hamilton, Ohio in die VSA, het Maandag ʼn plasing op hul Facebook-bladsy gemaak om die publiek aan te moedig om honde in pleegsorg te neem tydens die Covid-19-krisis.

Die skuiling het teen Donderdag in ʼn bygewerkte Facebook-plasing gesê binne enkele dae, met die uitsondering van drie honde wat nog beskikbaar is vir aanneming en vyf honde wat in die rondloperafdeling gehuisves word, het al 40 honde in die skuiling ʼn huis gekry vir die afsonderingstydperk.

“Dit verlig nie net die druk op ons personeel en vrywilligers nie, maar belangriker, dit verseker ook dat daardie diere nie die meerderheid van hul dae alleen in ʼn skuiling hoef te sit wat geforseer word om toe te maak nie,” het Humane Society gesê.

Volgens Bloomberg was daar ʼn toenemende aanvraag om honde en katte aan te neem of in pleegsorg te neem by die Muddy Paws Rescue- en Best Friends Animal Society-diereskuilings in New York in die VSA.

Anna Lai, bemarkingsdirekteur by Muddy Paws, het gesê New Yorkers bevind hulself angstig en verveeld terwyl hulle noodgedwonge tuis moet bly, en dat viervoetige vriende help om hul senuwees te kalmeer.

“Ons het op die oomblik geen honde oor om in pleegsorg te plaas nie; wat ʼn wonderlike probleem is dit om te hê,” het Lai gesê.

Bronne: WLWT5, Bloomberg, Jacaranda FM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Annakapat ·

Dankie, dankie, dankie aan elkeen wat ‘n hond of kat geneem het vir pleegsorg!
Wens ek kon help…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.