‘Digkuns snoer ons saam’

Maretha Maartens. (Foto: Verskaf.)

Maretha Maartens, die bekende skrywer van Bloemfontein, het die Afrikaanse afdeling van die derde Avbob Poësiekompetisie met haar gedig, Peperboom, gewen.

Sy is saam met 10 ander digters bekroon vir hul digkuns in al 11 van Suid-Afrika se amptelike landstale by ʼn seremonie wat Donderdagaand aanlyn gestroom is. Die eerstepryswenners het elk ʼn kontantprys van R10 000 ontvang, asook ʼn boekbewys ter waarde van R2 500.

Avbob se jaarlikse poësiegala-aand, met die immer sprankelende Rozanne McKenzie as gasvrou, het oor die afgelope drie jaar ontwikkel tot ʼn byeenkoms van en welkome hawe vir geesgenote. Dit is ʼn plek waar digters en lofsangers, gesprokewoord-kunstenaars en spesiale gaste, taalliefhebbers en woordaanhangers vir ʼn viering van die digkuns kan saamkom.

“Dit is ʼn kunsvorm, ʼn medium vir verandering, en, ten diepste, as ʼn onweerlegbare waarheid: woorde op ʼn bladsy het die mag om ons saam te snoer. Terwyl wêreldpandemies en oppervlakkige verskille ons verdeel, bring poësie ons terug by mekaar. Dit ontknoop en herweef ons maatskaplike weefsel,” het Carl van der Riet, Avbob se bestuurshoof, gesê.

Dié nuwe aanlyn formaat van die kompetisie het ʼn radikale afwyking van die gewone agenda beteken. Die regstreekse musikale nommers van vorige jare moes plek maak vir die kragtoere van plaaslike uitvoerende digters. Gesprokewoord-kunstenaars Puno Selesho, Kedibone Mphethi, Loftus Marais en Given Masilela het lewe verleen aan hul eie werk, asook gedigte vanuit Avbob se gedrukte bloemlesing. Elke uitvoering – hetsy in Afrikaans, Engels, Sotho of Zoeloe – was genuanseerd en oortuigend.

Van der Riet, Engelse redakteur Douglas Reid Skinner, en digter en dosent Liesl Jobson was die gassprekers wat gepraat het oor die meriete van poësie as deel van die rouproses en die sosiale nut en waarde daarvan.

Douglas Skinner het vanuit Londen sy dankbaarheid uitgespreek teenoor al die digters wat gehelp het om die aanlyn biblioteek te bou, asook sy redaksionele ervaring van die projek gedeel. “Dit is soos om onder ʼn waterval te staan met ʼn teelepel in jou hand,” het hy verduidelik.

Die Amerikaanse omgewingskundige, John Muir, het geskryf dat mense nie net brood nodig het nie, maar ook skoonheid.

“In ons land wil dit gedoen wees. Maar dit is juis waar Avbob in die prentjie pas. Hul volgehoue vrygewigheid oor ʼn breë spektrum van maatskaplike inisiatiewe maak ʼn groot verskil in ons land. Deur die kompetisie het Avbob ʼn ruimte geskep waarbinne die digkuns vir ons almal toeganklik is. En dit is die wonderwerk: Al wat ons hoef te doen, is om die deur van die poësiebiblioteek oop te maak, om ons oë en koppe oop te maak, en te lees.”

Om poësie te lees, is beslis een manier om ʼn digter te word. ʼn Digter is ʼn digter danksy ander digters – dit is waar en waarom die drie volumes van die Avbob Poësiebloemlesing so waardevol is. Volume 3* is tydens die galageleentheid bekendgestel en is, soos sy voorgangers, die resultaat van ʼn jaarlikse poësiepelgrimstog wat talle Suid-Afrikaners lok om hul woorde en waarhede in hul moedertale te deel.

Die jongste bloemlesing, wat saamgestel is deur die kompetisie se hoofredakteur, Johann de Lange, saam met digter en skrywer Goodenough Mashego, bevat 102 plaaslik geskrewe gedigte – 66 gedigte (ses in elke ampstaal) wat in opdrag geskryf is, 33 deur die eerste- tot derdepryswenners in elke taalkategorie, en drie gedigte in die |Xam-taal wat besig is om uit te sterf.

De Lange glo dit is deurslaggewend belangrik om Suid-Afrika se inheemse tale te bewaar. “Geskiedenis op sigself vertel nie die hele verhaal van die mens nie; die kunste vorm die ander helfte, en taal is die menslikste ding wat ons het. Dit is ook deur en deur verweef met wie ons is en waar ons is. Taal is nie net hierdie deursigtige medium wat ons gebruik om dinge te sê nie; dit is die kwas, dit is die skilderdoek. Dit skep werklikheid. Daarom is poësie ʼn kragtige medium.”

Van der Riet het gesels oor die belangrikheid van die jaarlikse bundels. “Ons wil hê hierdie bloemlesings moet dien as ʼn historiese rekord, ʼn lewende bewaarplek van en vir al ons tale. Ons wil hê hierdie volumes moet ʼn stem gee aan die komplekse, merkwaardige en veelfasettige land waarin ons woon. En, uiteindelik, wil ons hê dit moet dien as die geboekstaafde bewys van ons nimmerfalende geesteskrag.”

Besoek gerus Avbob se aanlyn poësieversameling, wat vryelik beskikbaar is by www.avbobpoetry.co.za. Daar wag die werk van die digters wat ons help om ons weg deur ons wêrelde te vind deur die ritmes van hul verse, die krag van hul stemme en hul eie lied.

*Volume 3 van I Wish I’d Said kan bestel word by www.naledi.online of 078 648 8616, en is beskikbaar by toonaangewende boekwinkels. Of SMS die woord “poem” na 48 423 (teen ʼn standaardkoste van R1,50 per SMS) om dit per pos te ontvang, teen ʼn algehele koste van R240.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.