Dinge sal nooit weer dieselfde wees nie, en dis dalk goed

(Foto:
Josh Boot/Unsplash.)

Liewe Leser,

Ek is ’n Suid-Afrikaner in Nieu-Seeland. Dis aan die uithoeke van die aarde, en ’n baie klein landjie. Ons het gedink ons gaan hierdie virus vryspring, want ons ver. Gister is ons grense gesluit. Niemand kan in of uit nie. Vlugte is gestaak. Ons word elke dag ingelig oor die stand van sake. Ons gaan aan met ons gewone dag-tot-dag-bestaan. Maar geen kerk. Geen gimnasiums. Geen braai by vriende. Geen parkwedloop. Geen sportbyeenkomste. Geen drukkie vir jou vriende of familie nie.

Die supermark vra dat net een van ’n gesin winkel toe kom op ’n slag. Jy mag net een pak toiletpapier koop. Ander produkte ook, maar kom ons praat oor die toiletpapier vir ’n oomblik.

Mense maak grappe, maar hier is dit nie ‘n grap nie. Hier en in Australië is ’n groot Chinese gemeenskap. Alle produksie in China was gehalt, selfs toiletpapier. Toe die toiletpapier klaar is in China, stuur hulle mense hiernatoe vir hul noodvoorraad. En toe is ons rakke leeg. Gelukkig vir ons word toiletpapier plaaslik vervaardig, dus is dit vinnig opgelos.

Die mense koop paniekerig voorraad – dié wat kan. Hulle is bang voorraad kan nie afgelaai word nie, want trokke en treine se bestuurders gaan in isolasie wees. Maar die regering maak ’n noodplan. Daar sál voorraad wees. Daar sál aflewerings na jou huis wees as isolasie verplig word. Almal moet kalmeer. Wees bedagsaam. Koop vir die minderbevoorregtes as jy kan. Ja, daar is baie van hulle ook hier in ’n Eerste Wêreldland.

Ons hoop vir die beste, maar berei voor vir die ergste. Vir die eerste keer klink dit soos ’n realiteit, nie ’n fliek nie. Ek praat vroeg in die week met ’n vriendin in Londen. Haar suster het gaan kuier van Italië af, en toe hulle wil huis toe gaan, is Italië gesluit. Hulle besluit om Suid-Afrika toe te gaan om dan maar by die familie te kuier. Jammer, julle is van Italië en kan nie. Gister praat ek met iemand in Ierland. Hulle is reeds ‘n rukkie in isolasie. Mense verloor hul werk en hul huise. Hulle sê bid en berei voor. Moenie dit ligtelik opvat nie. Hier by ons is daar reeds mense wat hul werk verloor het omdat maatskappye sny waar hul kan om hul voortbestaan te verseker.

Niemand het dit sien kom nie. Ons het gedink hier op ons eiland aan die einde van die wêreld is ons veilig. Dis net ’n virus. Dit kan tog nie so erg wees nie. Dit affekteer net siek mense en ou mense. Tot daar ’n tweejarige kind siekword wat van Nieu-Seeland af Suid-Afrika toe gevlieg het. Dan besef jy: op een of ander manier gaan dit ons almal affekteer. Vir jou ook. Moet dit nie ligtelik opneem nie. Hierdie is nie grappies nie. Dus, was jou hande. Hou jou afstand. Bly by die huis as jy kan.

Te midde van al hierdie dinge sien ek mense mekaar ondersteun. Ek sien hoe mense aanbied om vir ’n vriendin apteek toe te ry gister, terwyl sy met gewone griep siek by die huis is. Ek sien mense wat musiekmaak van balkonne af. Ek sien dolfyne in Venesië se baai. Ek sien mense wat musiekkonserte uitsaai op YouTube en Facebook. Ek sien kerke wat aanlyn gemeenskappe bymekaarbring. Ek sien mense saam bid. Ek sien bure wat mekaar groet. Ek sien families wat tyd het vir mekaar. Ek sien mense wat boodskappe van hoop deel. Ek sien lewe terugkeer na China. Ek sien maatskappye wat aanbied om hul fokus te verskuif – een wat lugfilters gaan maak wat voorheen karre gemaak het, een wat handreinigers gaan maak wat normaalweg alkohol vervaardig. Ek sien mense wat die geleentheid gebruik om nuwe vaardighede aan te leer terwyl hulle in isolasie is. Ek sien mense nuwe dienste uitdink soos ’n buurtondersteuninggroep waar mense mekaar help met take. En ’n ander wat kitaarlesse op Skype aanbied.

Daar is hoop. Daar gaan ’n tyd kom wat die virus verby gaan wees. Daar gaan ’n tyd kom wat ons ’n inenting het daarteen. Daar gaan ’n tyd kom wat ons terugkeer na normaal. ’n Nuwe normaal. Dis ’n nuwe era wat voorlê. Dinge sal nooit weer dieselfde wees nie. En dit is dalk die beste so.

Liefdegroete uit Nieu-Seeland.

Meer oor die skrywer: René du Preez

René du Preez is ʼn projekbestuurder, ma en eggenote. Sy is passievol oor die natuur, mooi musiek en kuns. Skryf is vir haar ʼn manier om sin te maak van die wêreld en ʼn stukkie van haarself vir mense te gee. René en haar gesin woon tans in Nieu-Seeland.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AmandaDup ·

Ons moet net eenvoudig positief bly en ons samewerking gee. Die hele wêreld is saam hierin en regoor die wêreld bemoedig mense mekaar. Saam is ons beter.

Cathy ·

‘n Moet-hoor boodskap pragtig geskryf. Ek stem saam met die skrywer dat hierdie siekte die wêreld kom verander het.

summie ·

‘n Uitstekende artikel, baie dankie hiervoor Renè . Om te bly bid en postief te wees is wat ons almal hierdeur gaan dra !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.