Dokter deurkruis SA op trekker vir liefdadigheid, teen plaasmoorde

Dr. André Hattingh vertrek eersdaags vir sy trekkerrit deur Suid-Afrika. (Foto: verskaf)

Dr. André Hattingh het byna net by die huis aangekom ná sy landwye motorfietsrit vir liefdadigheid, en die tasse staan reeds gereed vir sy volgende reistog deur Suid-Afrika. Dié keer ry hy op ʼn trekker.

Die “On-Trac-Tor”-liefdadigheidsrit skop op 2 Julie vanjaar in Witrivier af en sal oor 2 500 kilometer en vyf provinsies strek. Op sy Mahindra-trekker, wat hy as “heel gemaklik vir ʼn trekker” beskryf, pak Hattingh verskeie kwessies aan.

Hy staan aan’t stuur van Pediatric Care Africa, ʼn nie-winsgerigte organisasie wat hul daaraan wy om mediese sorg en ander nodige prosedures aan kinders te voorsien wat nie geldelik daartoe in staat is om dit self te bekom nie.

Met sy jaarlikse landwye motorfietsrit, wat hy vroeër vanjaar aangepak het, het hy geld ingesamel om algemene nood aan te spreek. Met die trekkerrit, word die geld aan spesifieke kinders met spesifieke mediese toestande toegeken.

“Ons hoop om vanjaar R1 miljoen in te samel, wat sowat drie kinders gaan kan help,” vertel hy aan Maroela Media.

Die kinders wat deur dié trekkerrit gehelp gaan word, het toestande wat van hartprobleme tot brandwonde strek.

Hattingh beoog om die nodige operasies in privaathospitale te laat doen, die kinders daar te laat stabiliseer vir ʼn paar weke voordat hulle eindelik na staatshospitale oorgeplaas sal word.

Hy hoop ook om met dié reuse-trekkertog bewustheid oor plaasmoorde in Suid-Afrika te skep.

“Plaasmoorde grief my verskriklik. Ek kom van die plaas af, ek ken baie mense op die plaas. Dit kan enigeen van ons se familie wees.”

Hy ry vanjaar ten bate van 911 Drivers, ʼn organisasie wat plaasmoorde in Suid-Afrika aanspreek en wil verminder. Hoewel hy nie self by die “politieke sy”, soos wat hy daarna verwys, betrokke is nie, hoop hy om internasionale aandag met sy trekkerrit te trek.

(Foto: verskaf)

“Ons moet gesigte by die name van die slagoffers sit. Ons wil ons platform gebruik om die kwessie in die buiteland bekend te maak.”

Hattingh glo dat die voortslepende kwessie plaaslike boere landuit gaan jaag.

“Ons het hulle baie meer nodig as wat hulle ons het, en as ons nie boere het nie, gaan ons éérs sukkel met hongersnood en ander probleme.”

Die derde en laaste Suid-Afrikaanse kwessie wat hy met sy rit gaan aanspreek, is om bewustheid oor kindermoorde en seksuele misdrywe teen kinders te skep.

“Daar word duisende kinders vermoor, aangerand en seksueel aangeval elke jaar.”

Deur sy lewe heen, het Hattingh ʼn rits reistogte aangepak. Met elke jaar en reis, het hy nuwe mense ontmoet en heerlike koservarings beleef. Kos, sê hy, is ʼn groot rede waarom hy elke uitstappie geniet, of dit nou in ʼn motor, trekker of op ʼn motorfiets is.

Hy het daarom besluit om ʼn resepteboek saam te stel, wat met sy eie pakkie Rennies verkoop word, skerts hy.

“Ons gaan dus nie net bedel nie. Die boek is te koop vir R350 ʼn eksemplaar en die geld sal gebruik word vir die mediese prosedures.”

Indien mense graag betrokke wil raak by Hattingh se reuse-tog, kan hulle dit doen deur hom te borg vir elke kilometer wat hy ry. Daar kan ook eenmalige skenkings gemaak word, ʼn resepteboek gekoop word, diesel geskenk word of ʼn vrywilliger by Pediatric Care Africa te word.

Hy nooi dokters ook uit om die organisasie te help deur byvoorbeeld twee gratis konsultasies ʼn jaar te doen.

Vir diegene wat hy langs die pad teëkom, vra hy om eerder vir hom te glimlag en te waai in plaas daarvan om hom te skel omdat hy nie vinniger kan ry nie.

“Ek weet ek ry stadig. Wees maar vriendelik, asseblief,” skerts hy.

Hattingh wil ook graag byeenkomste ten bate van bewusmaking oor plaasmoorde in die dorpe waar hy oornag reël.

Sy roete lyk as volg:

  • 2 Julie 2023: Witrivier na Burgersfort via Sabie en Lydenburg.
  • 3 Julie 2023: Burgersfort na Mokopane (Potgietersrus).
  • 4 Julie 2023: Mokopane na Thabazimbi.
  • 5 Julie 2023: Thabazimbi na Koster.
  • 6 Julie 2023: Koster na Wolmaransstad.
  • 7 Julie 2023: Wolmaransstad na Hartswater.
  • 9 Julie 2023: Hartswater na Winburg.
  • 10 Julie 2023: Winburg na Clarens.
  • 11 Julie 2023: Clarens na Colenso.
  • 12 Julie 2023: Colenso na Vryheid via Dundee.
  • 13 Julie 2023: Vryheid na Piet Retief.
  • 14 Julie 2023: Piet Retief na Badplaas.
  • 15 Julie 2023: Badplaas na Witrivier via die R33 en R38.

Vir meer inligting, besoek Pediatric Care Africa se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Delia ·

Alle sterkte en veiligheid wens ek jou toe. Trek maar warm aan. Dankie vir jou wonderlike werk en goeie hart.

Johan Tredoux ·

Iemand met baie tyd op sy hande wat géén verskil maak aan die werklikheid nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.